Geboorteorde bepaal jou kind se persoonlikheid

akkreditasie
In watter mate bepaal jou kinders se geboorteorde wie hulle is? Lees hier

Elke kind is van kroontjie tot toontjie uniek. Hoekom deel soveel eersgeborenes regoor die wêreld dan bepaalde persoonlikhede terwyl middelstes en jongstes gewoonlik weer in ander boksies pas?

Navorsing het dit oor en oor bewys: Die volgorde waarin jou kinders gebore word, speel ’n rol in hul persoonlikheid. Maar hulle is nie so gemaak en laat staan nie, sê die Kaapse sielkundige Bettie Rall. Dis jy as ouer wat die towerkrag in jou hande hou om van jou spruit ’n tipiese eerste, middel- of jongste kind te maak.

“Die invloed van geboorte-orde word sosiaal gevestig: Dit gaan oor hoe ons ons kinders hanteer. Dit het ’n uitwerking op ontwikkeling en hoe jou kinders hulleself beskou.”

Bettie sê ouers hanteer hul oudstes, middelstes en jongstes dikwels verskillend weens praktiese oorwegings soos tyd en geld. Die invloed van geboorte-orde is nie in sement gegiet nie, beklemtoon Bettie. As jy verstaan hoe kinders tipies op hul hantering as oudste, middelste of jongste reageer, kan jy jou ouerskap dalk anders maak.

Oudste wonderwerkie

  • Konserwatief
  • Baie verantwoordelik
  • Toegewyd
  • Behulpsaam
  • Gedrewe
  • Wil nie teleurstel nie
  • Perfeksionisties
  • Outoritêr
  • Emosioneel
  • Intens
  • Gebore leiers

Is daar ’n groter oomblik as wanneer jou eerste kind gebore word? Die beste van alles word nuut gekoop en Pa hou die rugbybal reg vir sy toekomstige Springbokspeler.

Ná die geboorte flits die kamera onophoudelik, oupas en oumas wedywer om kleinding vas te hou en almal juig oor elke mylpaal. Hy word omring met opvoedkundige speelgoed, kry ure gehaltetyd en almal glo hulle gaan wennertjies wees.

Die gevolge:

Ouers (en die hele familie) verwag net die beste van hul oudste kind, want hulle dink hy is die wonderlikste kleintjie op die aarde, verduidelik Bettie. “Hierdie kind ervaar die hele tyd dis fantasties dat hy daar is.

Ouers koester geweldig hoë, amper idealistiese verwagtinge en dit het ’n invloed. Navorsing wys ’n mens se verwagting van jou kind het ’n beduidende uitwerking op hoe hy vaar.” Hierdie hoë verwagtinge veroorsaak dat oudste kinders dikwels oorpresteerders word.

“Hulle is gedrewe go-getters, het baie selfvertroue en is dikwels baie oorheersend. Terselfdertyd is hulle baie sensitief vir kritiek. Hulle wil nie hul ouers teleurstel nie."

“ ’n Mens sien die gevolg van al die aandag en aanmoediging van kleins af: Hulle raak vinniger onafhanklik, veral as die volgende kind sy verskyning maak. Hulle raak sekere vaardighede vroeër as hul jonger medespruite baas, het meer selfvertroue dat hulle sal slaag en pak makliker nuwe goed aan.

“In groepe wil hulle dikwels hul wil aan die ander maatjies opdwing en die leiding neem.”

Rooi lig:

Die grootste gevaar is oorverantwoordelikheid, sê Bettie. “Daar is ’n risiko dat jou oudste kind te veel verantwoordelikheid aanvaar en dan uitbrand. ’n Ander gevaar is dat hy in groepe te oorheersend en baasspelerig is, want oudstes glo baie sterk in hul eie standpunte.”

Help so:

Leer jou kind dat hy nie altyd volmaak hoef te wees nie; dat dit aanvaarbaar is om soms te misluk, sê Bettie. Leer hom dat om hulp te vra nie ’n teken van swakheid is nie.

Oudste feite

  • Oudste kinders se IK is gemiddeld drie punte hoër as hul naaste medespruit s’n.
  • In een studie was 41 persent van entrepreneurs oudste kinders.
  • Oudste kinders kry meer lyfstraf as jonger kinders.
  • Eersgeborenes vaar goed in velde wat verdere akademiese opleiding vereis soos die regte, geneeskunde of ingenieurswese.
  • Eersgeborenes het ’n groter risiko om obsessief-kompulsief te word.
  • Meer as die helfte van alle Nobelpryswenners in die geskiedenis was eersgeborenes.
  • Van die 23 eerste ruimtevaarders was 21 oudste kinders. Die ander twee was enigste kinders.

Afgeskeepte middelkind?

  • Vredemakers
  • Kreatief
  • Aanpasbaar
  • Uitstekende sosiale vaardighede
  • Ingestel op ander se behoeftes
  • Waagmoedig
  • Onafhanklik
  • Verbeeldingryk
  • Dikwels rebels
  • Agterdogtig

Die wonderwerk is nie minder met baba nommer twee nie, maar met twee kinders is die tyd (en geld) om daarin plesier te vind minder.

Die album raak stadiger vol en alleentyd met kleinding is ’n luukse. Mylpale is vanselfsprekend. Die kern is dat jou middelkind baie minder tyd en aandag kry as enige van jou ander kinders, want ouboet is altyd daar en die baba verg die aandag.

Die gevolge:

Middelkinders is soms geweldig aandagsoekend weens die gebrek aan individuele aandag, sê Bettie. “Hulle kan aandag op ’n positiewe manier soek deur byvoorbeeld gedurig in die kollig te wil wees, of negatief aandag soek deur te rebelleer.

“Dis die groep kinders wat hulle op die negatiefste manier uitdruk, want daar is altyd ’n ouer kind wat beter is as hulle en ’n jonger een wat al die aandag kry, want hy is oulik. Hulle is gewoonlik agterdogtig en ongeduldig.

Hulle kan ook baie hardkoppig wees om hulle te laat geld. “Hulle verwag dat niemand na hulle gaan luister nie en is daarom geneig om meer luidrugtig te wees as hul medespruite sodat hulle raakgesien kan word.

Hulle kan ook soms baie mededingend wees omdat hulle voel hulle kom altyd tweede en is nooit die beste nie. Terselfdertyd is hulle swak verloorders.”

Aan die positiewe kant is middelkinders gewoonlik baie sosiale en aanpasbare kinders – en vredemakers. “Hulle vergoed op ander plekke vir die gebrek aan aandag tuis en is dus lief om te sosialiseer. Hulle ontwikkel ook goeie sosiale vaardighede en is later in hul lewe baie romantiese verhoudingsmaats.”

Rooi lig:

Jou middelkind is gewoonlik die een wat later ’n probleemkind word en rebelleer om aandag te kry, waarsku Bettie.

Help so:

Jy moet baie moeite doen om baie aandag en tyd aan jou middelkind te bestee. “Maak hul eerste oomblikke ekstra spesiaal en neem kennis van hul talente en spesiale eienskappe – prys hulle daarvoor en maak een-tot-een-afsprake,” sê Bettie.

Mamma se oulike baba

  • Goeie sin vir humor: natuurlike ‘narre’
  • Ontspanne
  • Vol selfvertroue
  • Onvolwasse
  • Kreatief en onkonvensioneel
  • Lae verwagtinge van self
  • Afhanklik
  • Gee om vir ander
  • Manipulerend en dikwels bederf

Dis jou laaste kans om ’n baba te vertroetel en jy haal die meeste daaruit. Die hele familie bederf saam.
As die kinders baklei oor speelgoed, sê jy vinnig hulle moet dit vir hom gee, want “hy is nog klein”. Hy hiet en gebied julle almal soos ’n wafferse prins – en julle laat dit toe.

Jy maak hom minder streng groot as jou oudstes.

Die gevolge:

“Jongste kinders bly langer afhanklik, want hulle bly altyd die baba van die huis,” sê Bettie. “Hulle verwag later hulle moet bedien word – die hele wêreld is hul slawe! – en verwag dit tot hulle groot is.

“Hulle verwag dat die hele omgewing na hul pype dans, want dis wat by hul huis gebeur. Hulle verwag dat hulle hul sin kry want ‘hulle is nog klein’, en voel verontreg as die samelewing dit nie vir hulle gee nie. Hulle aanvaar nie sommer verantwoordelikheid nie.”

Aan die positiewe kant het hulle gewoonlik baie selfvertroue, want hulle is “spesiaal” en kry aandag. Omdat almal hulle voortdurend versorg het, is hulle ook omgee-mense, verduidelik Bettie.

”Hulle is meer geneig om onvolwasse te wees, maar waag makliker en is oop vir nuwe ervarings. Hulle is gewoonlik onderpresteerders omdat hulle nie hul eie menings en persepsies vertrou nie – almal weerspreek altyd wat hulle sê.

Ouers koester ook minder verwagtinge van jongstes, dus koester hulle minder verwagtinge van hulleself. Maar jy kry ook ’n groep wat juis die teenoorgestelde is: Hulle wil hul medespruite verbysteek en word dan soms oorpresteerders.”

Rooi lig:

Jongstes kan baie manipulerend wees – en bederf, sê Bettie. “Hulle kan selfgesentreerd wees. Hulle is dikwels bang om hul standpunt te stel omdat hulle die kleinste in die huis is en nie altyd ernstig opgeneem word nie.”

Help so:

Die belangrikste is om van kleins af daarop te let dat die hele familie nie vir baba bedien nie, sê Bettie. “Moenie jou jongste sy sin gee net omdat hy nog klein is nie. Gee hom op ’n sekere ouderdom dieselfde verantwoordelikhede as die ander. En luister na sy mening. Hy moet leer dis iets werd.”

Dít speel 'n rol:

Gaping

As daar ’n baie groot gaping tussen kinders is, kan die tweede of derde kind weer soos die oudste hanteer word en sal sy dus makliker oudstekind-eienskappe toon, sê Bettie. Hoe kleiner die gaping, hoe groter is die impak van geboorte-orde.

Navorsers het bevind as daar meer as vyf jaar verskil tussen ’n eerste en tweede kind is, raak die tweede kind soos ’n oudste kind. Tussen latere kinders het die ouderdomsgaping minder van ’n invloed op hul persoonlikheid.

Geslag

Die invloed van geboorte-orde is gewoonlik groter as al die kinders van dieselfde geslag is. Die eerste dogter ná ’n oudste broer sal ook dikwels oudstekind-eienskappe toon en andersom, veral as die ouderdomsgaping groot is.

Wanfunksionerende gesin

In gesinne met baie stres, byvoorbeeld ná ’n egskeiding, is die invloed van geboorte-orde duideliker te sien. Die oudste sal byvoorbeeld nog meer verantwoordelik optree en die jongste meer soos ’n baba.

Ouers se geboorte-orde

Jou eie geboorteposisie kan ’n rol speel in hoe jy jou kinders hanteer. Jy sal dalk begrip hê vir die kind wat jou geboorteposisie deel, en jou ander kinders dalk moeiliker verstaan.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees