Gee jou kind onafhanklikheid

akkreditasie
Hoe om die teuels geleidelik te verslap sodat sy meer vryheid het en jy steeds 'n ogie kan hou.

JY KAN NIE toilet toe gaan met ’n toe deur nie, dan huil sy. By ’n partytjie klou sy soos ‘n seekat aan jou been of wikkel haar onder jou rok in sodat jy sukkel om kuis te bly.

Byna alle kinders is in die een of ander stadium ’n bietjie uitputtend klewerig. Tog, as hulle die dag hul vlerkies begin sprei, wil jy instinktief stywer vashou, asof jy weet dat jou menswees ’n bietjie kaler gaan wees sonder ’n kleinding wat so heeltemal afhanklik van jou is.

Om selfstandig en onafhanklik van jou te leer funksioneer is egter een van die belangrikste mylpale wat jou kleutertjie kan bereik. Onafhanklikheid help jou kleuter om ’n eie identiteit, positiewe selfbeeld en selfvertroue te onwikkel, sê Magdaleen Carstens, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria. Sy leer ook hoe om met ander mense om te gaan.

“Onafhanklikheidswording is ’n ingebore drang en begin al met geboorte. Die ouer of versorger moet die kind begelei op die pad na onafhanklikheid. Hulle moet ’n veilige omgewing skep waarbinne ’n kind
vertroue en sekuriteit kan ontwikkel.”

Sekere kinders is van nature meer onafhanklik en gemaklik met dié groeiproses, sê Magdaleen. Ander is weer meer afhanklik. Soms is daar ander, ingewikkelde faktore wat ook ’n kind se onafhanklikheidsontwikkeling bepaal.

“Vroeë trauma, soos hospitalisering, kan ’n geweldige invloed op die proses hê. Ouderdom en geboortevolgorde kan ook ’n rol speel.” Soms kniehalter ouers hul kind se onafhanklikheidsdrang,
sê Magdaleen. “As jy nie vir jou kind geleentheid skep vir onafhanklike besluitneming, optrede en die neem van verantwoordelikheid vir besluite en gedrag nie, word die proses vertraag of benadeel.

Jy kan ook soms jou vrese op jou kind oordra, wat ook onafhanklikheid rem.”

Bou sÓ haar selfstandigheid

  • Skep ’n veilige omgewing waarin sy haar vlerke kan toets. Jou kind word onafhankliker deur nuwe dinge te beproef. Moenie te veel inmeng nie – as haar omgewing  veilig is, hoef jy nie heeltyd “nee” te sê nie
  • Verskaf voorspelbaarheid en sekuriteit. Hoe veiliger jou kind voel, hoe makliker sal sy onafhanklik van jou optree. As dinge voorspelbaar is, voel sy veilig en in beheer, sê Magdaleen. “Roetine en ’n ouer wat doen wat sy sê (en nie dreig met iets wat sy nie kan deurvoer nie), maak ’n kind se lewe voorspelbaar.”
  • Gee haar ruimte om self te probeer, foute te begaan en uit haar foute te leer. As jy haar toelaat om haar eie afleidings te maak, gee jy haar die geleentheid om te leer en te groei. “Geen kind kan onafhanklik word as alles altyd vir haar gedoen en daar vir haar gedink word nie,” waarsku Magdaleen. “Ouers moet wel hul kinders begelei om ’n oplossing vir ’n probleem te vind en iets uit ‘foute’ te leer.”
  • Gee jou kleutertjie positiewe terugvoer en help haar om sukses te beleef. So sal sy die selfvertroue opbou om nuwe horisonne te beproef. “Dis belangrik dat ons ons kinders leer om ook vir hulleself positiewe terugvoer te gee,” sê Magdaleen.
  • “Dit kan geskied deurdat jy boodskappe soos ‘Ek kan sien jy is trots op Wagter se waterbak wat jy self gewas het’ pleks van ‘Ek is trots op jou’.”
  • Koester verwagtinge van jou kleinding oor goed wat jy weet binne haar vermoë is, soos om self aan te trek. “Glo in kinders se vermoë en kommunikeer dit verbaal en nie-verbaal aan hulle deur hulle byvoorbeeld met sekere takies te vertrou.
  • Moenie iets vir jou kind doen wat sy self kan doen nie. As ’n kind te jonk is om iets self te doen, laat sy jou help om dit te doen en so sukses beleef,” sê Magdaleen.
  • Wys haar soms hoe. As jou kind te veel kere mislukking ervaar, kan sy later moed verloor. Help haar op die regte pad deur moeiliker take stadig en stapsgewys vir haar te demonstreer. Laat haar dit dan self doen en prys haar as sy dit reg doen.
  • Moenie namens jou kind kommunikeer nie. As iemand vir haar ’n vraag vra, gee haar die geleentheid om dit self te beantwoord.
  • Gee haar kans om haar vaardighede te oefen. As sy self aantrek, kan dit voel of dit eeue duur en haar toppie kan dalk windskeef sit: Onderdruk jou instink om oor te neem en vinnig klaar te maak. Hoe meer sy baasraak, hoe meer groei haar selfvertroue en hoe makliker sal sy nuwe vaardighede aanleer.
  • Laat haar help, al mors sy baie. Kleuters is flukse wesentjies. Moedig dit aan, al beteken dit ekstra skoonmaakwerk agterna. Die waarheid is: Die hele kombuis gaan in ’n chaos wees as sy haar broodjie klaar gesmeer het, maar ai, sy sal so trots wees!
  • As kleinsus wil help skottelgoed was, sleep vir haar ’n stoeltjie nader, sit die plastiekborde in die wasbak en laat haar was, al moet jy dit agterna oordoen.
  • Gee jou kind beperkte keuses en laat haar verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. As sy kies om ’n trui in die somer aan te trek, moet sy dit dra as dit te warm raak.
  • Beperk televisietyd. “Oormatige blootstelling aan televisie beperk onafhanklikheid, want dit laat geen ruimte vir interaksie, ontwikkeling van kreatiwiteit en aksie nie,” sê Magdaleen.

As jou kleinding klou

Sommige kleuters het meer tyd as ander nodig om die moed bymekaar te skraap om hul eie ding te doen. As jou kleinding by ’n partytjie soos ’n neet klou, moenie ’n drama daarvan maak nie: Tel hom ’n rukkie op jou skoot tot hy rustig raak en gaan verken dan die speelgoed saam. Sodra hy lekker speel,
kan jy sê jy gaan by die ander ma’s sit, maar jy sal steeds vir hom kyk.

In sy normale roetine ...

  • Oefen sy alleenspel: Terwyl hy lekker speel, sê jy gaan vir vyf minute in die kamer langsaan besig wees. Keer ná vyf minute terug. Rek hierdie tydjie ál langer tot hy besef hy kan onafhanklik van jou funksioneer. Moedig jou kind aan om alleen te speel of takies te verrig terwyl jy met ander ding besig is. Die idee is dat jy altyd binne hoorafstand moet wees, maar nie noodwendig heeltyd by hom nie.
  • Hou groettye kalm en ferm: Dis aaklig as jou kleuter huil as jy hom iewers aflaai, maar hanteer dit op ’n natuurlike, kalm manier. Verseker jou kind van jou liefde en dat jy hom later weer gaan sien, en sê hy moet sy dag geniet voor jy ferm en vinnig wegstap. Moenie skelm probeer wegglip nie. Op die lang termyn skend dit jou kind se vertroue en laat dit hom net nog onsekerder voel
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees