Hanteer trauma só

akkreditasie
Ons het twee kenners gevra hoe jy weet jou kinders is getraumatiseer, en wat jy kan doen om hulle weer terug te plaas op die pad na ’n vervulde en gelukkige lewe.

Daar is baie angswekkende gebeure wat kinders diep kan ontstel – van ’n eenvoudige verandering soos ’n verhuising tot iets so dramaties soos ’n misdaad. Dit maak nie saak wat die oorsaak is nie; kindertrauma is algemeen en die beste oplossing is om dit vinnig en doeltreffend te hanteer.

Johan (4) en Bertus (3) Prinsloo van Pretoria was hewig ontsteld toe hul opgewonde ouers vir hulle vertel dat hulle na ’n nuwe, groter huis gaan trek met baie meer ruimte en ’n swembad.

Wat vir hul ouers ’n salige vooruitsig was, het die kinders met angs vervul. “Wat van ons speelgoed? Wat van Bruno?” het hulle benoud gevra. In hul kinderlike gemoedjies het om van een huis na die ander te trek, beteken dat al hul geliefde besittings en die hond met wie hulle so lekker gespeel het, by die ou huis moes agterbly.

Dit het mooipraat en heelwat verduideliking gekos om dié twee te oortuig dat álles in die huis – die hond inkluis – sak en pak sou saamtrek.

Eers toe hulle dit verstaan het en hul ma hulle laat help het om hul speelgoed en die hond se kos- en waterbakke self in te pak, het hulle rustiger geword. By die nuwe huis het hulle weer gehelp om dié dinge uit te pak en bêreplek daarvoor te kry.

Dis soms vir ouers moeilik om te glo dat so ’n oënskynlik eenvoudige ding soos ’n trek na ’n nuwe huis kinders so kan gooi, maar soos ’n motorongeluk of ’n misdaad klassifiseer kenners verhuising ook as ’n traumatiese gebeurtenis in ’n kind se lewe.

Gelukkig het Johan en Bertus se ouers dit reggekry om hul kinders ondanks al die ontwrigting veilig en in beheer te laat voel, en vandag is hulle twee baie goed aangepaste kinders wat verandering met gemak hanteer.

Dis egter nie altyd ewe maklik om ’n kind trauma te bespaar nie, veral nie in ’n Suid-Afrika waar selfs grootmense dikwels onveilig en bedreig voel nie. Wat doen jy as jou kind met werklik vreesaanjaende gebeure in aanraking kom?

Hoe trauma jou kind raak

’n Trauma is ’n emosionele wond, verduidelik dr. Tessa van Wyk, ’n traumatoloog van Pretoria. Iemand word aan ’n spesifieke voorval blootgestel, ’n skokreaksie vind plaas tydens en dit lei tot trauma.

Tessa sê ’n trauma het drie elemente: verlies (van besittings, ’n geliefde, of van jou waardigheid, vryheid of vreugde), onherroeplike verandering (jou lewe is nooit weer dieselfde nie), en ineenstorting van jou normale hanteringsmeganismes.

Vir kinders is iets soos ’n verhuising, misdaad of ’n motorongeluk traumaties omdat dit hul veilige wêreldjie kom deurmekaarkrap. Iets wat hulle emosioneel of fisiek ken, word weggevat of verander.
Trauma laat ’n kind ook buite beheer voel, en dit lei tot angs en onsekerheid.

Met ’n trek is die hoofoorsaak van trauma die verlies aan verhoudings op skool en in die vorige omgewing, sê dr. Brenda Radebe, ’n kliniese sielkundige en dosent in sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Iets soos ’n motorongeluk kan weer tot die verlies van ’n geliefde of vriende lei.
Nog ’n probleem is dat ons self weens al die misdaad om ons dikwels magteloos voel om ons kinders te beskerm. As kinders dit aanvoel en elke dag daarmee moet saamleef, kan dit aanhoudende traumatiese stres veroorsaak, sê Brenda.

Só weet jy jou kind het hulp nodig

Kinders se ervaring van en reaksie op ’n traumatiese gebeurtenis verskil en kan wissel van skynbare kalmte tot nagmerries en angsaanvalle. Hul ouderdom bepaal ook gewoonlik hoe hulle reageer (lees meer hieroor in ons kassie).

Tog kom ’n mens meestal aan hul gedrag agter iets is verkeerd, sê Tessa.

“Gewoonlik begin hulle stout word – dis asof hulle deur negatiewe gedag aandag wil trek. Hulle kan ook begin bed natmaak en huilerig wees. Hulle is prikkelbaar en het skeidingsangs, is bang vir die donker en om alleen te wees. Ander simptome is woede-uitbarstings, onttrekking (hulle gaan sit eenkant in ’n hoekie en wil nie met hul maatjies speel nie), tandeknersery, naarheid en nagmerries.”

Brenda voeg by dat getraumatiseerde kinders ook vergeetagtig kan raak en dagdroom. Soms is hulle die hele tyd bang, angstig en senuweeagtig.

Wanneer het ’n kind post-traumatiese stres?

Tipiese simptome is voortdurende hoofpyn, naarheid en emosionele hulpeloosheid. Dié simptome moet vir meer as ’n maand teenwoordig wees en erg genoeg wees dat dit inmeng met jou kind se alledaagse funksionering, sê Brenda.

Ander simptome is ’n verlies van ’n gevoel van veiligheid en ’n verlies aan beheer. Dit kan ’n kind se sielkundige ontwikkeling op lang termyn skade doen en moet so gou moontlik aandag kry.
Die goue reël is dus om dadelik werk te maak van jou kind se trauma.

As ons kinders diep ontsteld is oor iets wat gebeur het, is ons instink dikwels om hulle teen pynlike herinneringe te probeer beskerm. Maar as ons die gebeure ontken of afmaak, kan ons die helingsproses belemmer, sê die kenners. En hoe langer ons wag, hoe groter is die gevaar dat die probleme sluimer en later opwel wanneer dit moeiliker is om te hanteer.

Met die regte tegnieke, veral praat en luister, en dalk ’n bietjie hulp van buite, kan jy jou kind help om sy gevoelens van ontsteltenis te oorkom en die lewe weer met selfvertroue by die horings te pak.

Só sal jou kind op trauma reageer

Geboorte tot 2 jaar:

Kinders wat nie kan praat nie, kan nie die gebeurtenis of hul eie emosies beskryf nie. Hulle kan herinneringe oorhou van spesifieke dinge wat hulle gesien, gehoor of geruik het. Wanneer hulle ouer word, kan hierdie herinneringe in hul spel na vore kom. Babas kan meer prikkelbaar wees, meer dikwels huil en ’n gereeld vasgehou en vertroetel wil word.

3 – 6 jaar oud:

Wanneer hulle voor ’n oorweldigende gebeurtenis te staan kom, kan jong kinders hulpeloos en magteloos voel en nie in staat om hulself te beskerm nie. Wanneer hul veilige wêreldjie bedreig word, voel hulle onseker en bang.

Kinders van dié ouderdom kan nie die begrip van permanente verlies verstaan nie. Hulle glo die gevolge kan weer omgeswaai word. Hulle sal ook voortdurend dele van die gebeurtenis in hul spel uitbeeld.

Dit is alles normale reaksies. Hulle het gedurig gerusstelling nodig dat hulle versorg sal word en nie alleen gelaat sal word nie.

7 jaar en ouer:

Jou kinders kan nou verstaan dat die verlies weens trauma permanenter is. Hulle kan hulle in die besonderhede van die trauma verdiep en aanmekaar daaroor wil praat. Hulle kan dalk sukkel om op skoolwerk te konsentreer en hul punte kan daal.

Omdat hul manier van dink meer volwasse is, verstaan hulle die traumatiese voorval beter. Dit kan ’n rits reaksies veroorsaak soos skuld, gevoelens van mislukking en woede. Skoolgaande kinders kan ook weer ’n stappie agteruit neem en soos jonger kinders begin optree. Hulle kan slaapprobleme kry en hul angs en vrees sal ook te sien wees in toenemende skete en pyne.

Bron: www.redcross.org

Hoe jy kan help

Dis belangrik om jou kind veilig te laat voel, maar terselfdertyd eerlik te wees oor wat gebeur het.
As jou kind grootword in ’n stabiele, liefdevolle ouerhuis, is die stryd halfpad gewonne, sê Tessa. Hy voel veilig in so ’n omgewing en dit bewapen hom om die aanslagte van die lewe makliker te hanteer.

Beantwoord jou kinders se vrae oor wat gebeur het, eerlik (maar moenie meer besonderhede verskaf as wat hulle kan hanteer nie) en probeer om nie jou eie vrese in die proses aan hulle op te dwing nie.
Luister ook baie goed na wat hulle sê.

Moenie hulle opmerkings oordeel of probeer beheer nie. Gee hulle liewer die geleentheid om hul gevoelens uit te druk soos hulle wil. Hulle sal dalk dieselfde vraag oor en oor wil vra – wees geduldig en luister na hul kwellings. Jonger kinders sal dalk hul vrese uitspeel, soms met heel aggressiewe gedrag.

Nog ’n goeie plan is berading. “Selfs grootmense kan nie altyd sin maak van negatiewe gebeure sonder om bitter te word nie,” sê Tessa. “ ’n Mens het dus gewoonlik ’n objektiewe derde persoon nodig om jou te begelei.”

Post-traumatiese stres kan boonop ontwikkel as die trauma onderdruk en nie hanteer word nie, sê Brenda. Soms kry kinders eers post-traumatiese stres jare ná die voorval.

Nog maniere om jou kind te help

  • Luister na en aanvaar jou kinders se gevoelens oor wat gebeur het.
  • Gee eerlike, eenvoudige en kort antwoorde op hul vrae.
  • Maak seker hulle verstaan wat jy met jou antwoorde bedoel.
  • Gebruik woorde en sinne wat hulle nie sal verwar of die wêreld na ’n nog meer angswekkende plek sal laat lyk nie.
  • Skep geleenthede dat hulle met mekaar kan praat oor wat gebeur het en hoe hulle daaroor voel.
  • As jy te ontsteld voel om te praat oor wat gebeur het, kan jy ’n vriendin of familielid wat jy vertrou, vra om dit namens jou te doen.
  • As kinders dieselfde vrae oor en oor vra, is dit omdat hulle probeer verstaan en probeer sin maak van die ontwrigting en verwarring wat hul wêreld getref het.
  • As jy agterkom jou kind voel skuldig, vra hom om te verduidelik wat gebeur het. Luister mooi of hy ’n mate van verantwoordelikheid daarvoor op homself neem. Verduidelik die feite van die situasie en beklemtoon dat niemand – die minste van almal hy – dit kon voorkom het.
  • As hy reeds op skool is, kan jy gerus die skool toelaat om te help. Jou kind se onderwyser kan sensitief wees vir veranderinge in sy gedrag en kan hom baie bystaan.
  • Selfs al voel jy dat die wêreld ’n onveilige plek is, kan jy jou kinders help deur hulle gerus te stel dat die voorval verby is en dat julle nou al die moontlike sal doen om veilig te bly en dinge na normaal te laat terugkeer.
  • Wees baie liefdevol en ondersteunend; jou kind het jou nodig.

Bron: www.redcross.org

Kaping: "Dit het met ons gebeur"

Annerine Herbst van Florida aan die Wes-Rand, ma van Kara (4), vertel:

“Ek is gekaap terwyl my dogtertjie by my in die kar was. Ek het uit die kar geklim en om die kar geloop en vir die kapers gesê: “I’m going to get my child.” Toe maak ek die deur oop waar sy gesit het en haal haar uit. Sy het gelukkig nie baie gesien van wat gebeur het nie.

"Hulle het my beveel om te gaan lê en ek het haar onder my gesit, want ’n mens weet nooit wat doen hulle nie. Ek was baie gelukkig, want sy het eintlik niks daarvan gesien of beleef nie. Sy het net ’n bietjie gehuil toe sy onder my gelê het.

"Later het sy gevra wat van ons kar geword het en ek het vir haar gesê die mans het dit gevat. Daarna het ek soos normaal aangegaan en ons is baie gelukkig dat sy niks daarvan oorgehou het nie.

“Ek dink dis belangrik om te onthou dat elke situasie verskil. Dit gaan nie net oor die geweld nie, maar oor dinge soos probleme by die huis of ’n egskeiding ook. Dit het niks met ons kinders te doen nie. Ons moet dit van hulle weghou en hulle sover moontlik toelaat om hul onskuld te behou.

“As volwassenes moet ons self ons gevoelens hanteer en nie dit en ons frustrasies voor ons kinders uithaal nie. Ek glo daaraan om nie die hele dag rond te loop en negatiewe dinge te sê oor die misdaad of probleme in ons land nie. Ek wil hê my kind moet eendag self haar opinie oor mense vorm.”

Verhuising: "Die lesse wat ons geleer het"

San-Marie Smuts* van Auckland Park en ma van Janet* (9) vertel: “Janet was 6 toe ons getrek het. Ons het beplan om in die laaste kwartaal van haar graad 1-jaar te trek, maar dinge is vertraag en ons moes toe die hele kwartaal lank na haar nuwe skool pendel sodat sy nie haar plek daar verloor nie. Dié nagmerrieritte van meer as ’n uur in slegte verkeer was op sigself vir haar traumaties.

“Toe ons by die nuwe huis intrek, was daar skielik nie meer maatjies wat sommer oor die heining kon spring om te kom kuier nie. Sy het haar tussen hoë mure en ou mense bevind en het baie afgesonder gevoel. By die nuwe skool het sy ook gesukkel om maats te maak.

“Sy het aanvanklik sleg geslaap en gekla dat sy niks van haar nuwe huis hou en dat daar niks was om te doen nie. Ek het uit my pad gegaan om vir haar ’n mooi kamer te maak en het tot vir haar ’n PlayStation gekoop, maar niks het gehelp nie. Ons het ook dadelik nadat ons ingetrek het verbeteringe aan die nuwe huis begin doen en vir die volgende 6 maande was sy ’n bietjie afgeskeep omdat ons die hele tyd aan die bou was.

“Toe ek sien my pogings help min, het ek haar na ’n terapeut geneem wat voorgestel het dat ons moeite doen om maatjies oor te nooi wat ook oorslaap. Dis nou 18 maande later en sy sukkel steeds om aan te pas en besoek ook steeds ’n terapeut.

“As ek dit weer moes doen, sou ek ’n huis gesoek het in ’n buurt waar daar ander kinders van haar ouderdom is met wie sy kan speel. Omdat sy ’n enigste kind is, raak sy gou eensaam. Ek het vir haar ’n hondjie gekoop en dit het baie gehelp, al het dit nie die probleem opgelos nie.

"Ek sou vir ander ma’s sê die belangrike ding is om jou kind emosioneel gekoester en geborge te laat voel. Die materiële dinge – soos om haar kamer mooi te maak en duur speelgoed te koop – het niks gehelp nie. Ek sou ook nie weer dadelik met huisverbeterings begin nie, maar eerder die eerste paar maande daaraan bestee om my kind tuis en geborge in haar nuwe omgewing te laat voel.”

*Nie hul regte name nie

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees