Help jou kind onthou

akkreditasie
Jy kan jou kind help om 'n beter geheue op te bou sodat hy die magdom dinge wat hy in graad 1 leer kan onthou.

Jy trek al by kosblik nommer 5, want jou japsnoet bly sy kosblik by die skool vergeet. Of jy moet al weer die juffrou bel om te hoor wat die tuiswerk is, want jou kind het sy boek in die klas laat lê.

Dit bekommer jou waarskynlik dat jou kind so vergeetagtig is, want in gr. 1 word die vermoë om goed te onthou noodsaaklik vir haar sukses. Dis nie net haar besittings wat sy moet onthou nie; geheue is ook ’n belangrike bousteen van leer.

Jou kind moet sekere dinge vir kort rukkies kan onthou en ander – soos spelwoorde of op watter dae haar swemles is – vir lang rukke. Sy moet dus ál meer strategieë ontwikkel om haar te help om inligting te herroep en onthou.

Daar’s gelukkig heelwat wat jy kan doen om jou kind se geheue ’n hupstoot te gee, sê Elza Buys, ’n opvoedkundige sielkundige van Centurion. Maar onthou dat pret altyd deel moet uitmaak van geheue-oefeninge, soos met alle stimulasie-aktiwiteite vir kinders.

Elza stel die volgende speletjies voor:

Geheuespeletjies  :

  • Speel kaartspeletjies wat gerig is op geheue- ontwikkeling, soos Memory Cards.
  • Speel die skinkbordspeletjie: Pak voorwerpe op ’n skinkbord uit. Laat jou kind daarna kyk en verwyder een ding. Sy moet probeer om die een wat weg is te identifiseer. Die speletjie kan moeiliker gemaak word deur die posisie van of die hoeveelheid voorwerpe en die tyd wat jou kind mag kyk, te verander.
  • Speel motor-onthouspeletjies: “Ek gaan piekniek hou en ek neem saam...” Dan kry elkeen ’n beurt om iets by te voeg, maar hy moet ook alles onthou wat die vorige mense gesê het.
  • Oefen met kleure: Boublokkies van verskillende kleure, krale wat ingeryg word en patrone met gekleurde papier is alles maniere om te onthou hoe die patroon oorspronklik gelyk het. Pak blokkies van verskillende kleure op ’n ry. Laat jou kind daarna kyk en verwyder dit uit sy sig. Laat hom dit dan self bou. Ryg die krale in ’n sekere volgorde en laat hom dit nadoen.
  • Doen saam inkopies. Laat jou kind help onthou wat gekoop moet word wanneer julle winkel toe gaan. In die winkel kan jy sê: “Wat moes ons kom koop het? Ons het dit nodig vir ontbyt!”
  • Laat jou kind skaak speel. Skaak is een van die beste bordspeletjies om geheue, denkstrategieë en beplanning te leer. Tanishka Kotia, die jongste kampioenskaakspeler in die wêreld, is maar vier jaar oud.
  • Gebruik die internet. Daar’s duisende aanlyn-geheuespeletjies vir kinders. Beproef
    www.mostlymommies.com/games en www.fisher-price.com/uk/playtime.

Geheue-hulpmiddels:

  • Gebruik visualisering. Voor ons woorde kan skryf, vorm ons begrippe met die hulp van prente. Wanneer die meeste mense die woord “pen” hoor, sien hulle die voorwerp eerder as die geskrewe woord. Vra jou kind dus om iets te visualiseer voor sy dit doen, dan sal sy dit makliker onthou.
  • Oefen jou kind se metageheue. Metageheue is die vermoë om te verwoord hoe iets onthou word. Wanneer julle krale inryg, kan jy vir jou kind vertel hoe jy dit doen: “Eers die blou, dan die rooi, dan die geel en dan weer blou. Daar is dus twee bloues en tussen hulle kruip die rooi en geel weg.”  So leer hy dat daar maniere is om te onthou wat geleer kan word.
  • Wees gedurig op die uitkyk vir assosiasies, rympies, woordjies, stories of ander eselsbruggies wat haar kan help om feite makliker te onthou.
  • Oefen haar luistervaardighede. Kinders is gek oor klanke. Sê jou kind moet mooi luister en rits dan ’n lys woorde af, soos ’n klomp dierename. As jy klaar is, moet sy alles vir jou opnoem of prentjies daarvan teken. Hoe beter jou kind se geheue, hoe langer kan die lys wees.
  • Bepaal haar leerstyl. Leer jou kind die beste deur te luister (ouditief ), te sien (visueel) of deur beweging? As sy leer deur te luister, kan dit help om die inligting hardop weer te gee, soos om woordjies hardop te spel. Vir ’n visuele kind kan prentjies help, terwyl ’n bewegingskind makliker sal onthou as sy rondbeweeg terwyl sy leer.
  • Vra haar uit. Geheue is ’n aktiewe proses: Hoe meer jou kind haar geheue oefen, hoe makliker onthou sy. Hoe meer sy inligting moet herroep, hoe meer oefening kry sy.

Praktiese hulp:

  • Gee elke skoolding sy eie bêreplek in die huis. Doen dieselfde met die skooltas: die eerste vakkie vir die boeke, die tweede vir die kosblik, ensovoorts. So sal hy makliker agterkom as iets weg is.
  • Plak lysies op by die plek waar sy tas gebêre word waarop staan wat elke dag van die week gepak moet word. Gebruik prentjies en verskillende kleure om hom te help.
  • Leer jou kind om iets wat klaar gebruik is dadelik op die regte plek te bêre. Hy moet sy huiswerkgoed in die tas sit sodra hy klaar gewerk is sodat dit nie vergete bly nie.
  • Skep ’n vaste roetine soos dat hy dadelik sy tas moet uitpak en die tuiswerkboek vir jou moet bring nadat julle tuis gekom het.
  • Maak seker hy pak sy tas reeds die vorige aand sodat hy genoeg tyd het om iets te soek as dit weg is. Dit moet sy verantwoordelikheid wees. Gaan dit wel na sodra hy slaap om seker te maak hy het niks belangriks vergeet nie.
  • Leer jou kind om deur assosiasie te onthou: As hy die pouseklok hoor lui, moet hy altyd seker maak dat hy sy kosblik en baadjie het sodat dit nie op die speelgrond agterbly nie. Gebruik “pouseklok” as sleutelwoord.
  • As hy geneig is om iets spesifieks soos sy huiswerkboek te vergeet, plak ’n prentjie in sy tas sodat hy dit onthou wanneer hy sy tas oopmaak.
  • Breek inligting in kleiner dele op as hy sukkel om dit te onthou.
  • Moenie namens jou gr. 1’tjie angstig word nie. Bly kalm. Jou kind gáán dinge vergeet en hy gaan daarvoor gestraf word, of dalk vergewe word. “Maak seker dat jy weet wat elke dag by die skool gebeur,” sê Elza. “Maar onthou, die onthouery is nie jou verantwoordelikheid nie. Jou kind sal net een of twee keer skaam kry omdat hy iets vergeet het en dan uit sy ervaring leer.”
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees