Help jou kind ophou duim suig

akkreditasie
Duim suig op 'n ouer ouderdom kan die ontwikkeling van jou kind se mond belemmer.

Omtrent alle babas suig die een of ander tyd duim. Trouens, hulle doen dit terwyl hulle nog in die
baarmoeder is, skryf dr. Melodie de Jager in haar boek Baba- Gim.

Dis heeltemal natuurlik dat ’n baba aan haar duimpie suig. Sy is as’t ware geprogrammeer om te suig omdat dit so ’n belangrike rol in voeding en oorlewing speel. Deur haar duim of handjies te suig verlig jou ’n baba haar stres of angs.

Die meerderheid kinders leer duim suig self teen omtrent drie jaar oud af. Maar navorsing wys sowat 10 persent hou daarmee aan, en tandartse vertel hulle kan maklik sien of ’n volwassene duim gesuig het
omdat dit die posisie van hul permanente tande beïnvloed.

Die boonste voortande word die meeste geraak omdat dit buitentoe stoot, terwyl die onderste tande weer binnetoe gedruk word.

Babas en jong kinders se kake bene is nog sag en moet nog ontwikkel – dis hoekom duimsuiery so ’n invloed kan hê. Dit kan ook in sommige gevalle die groei van die verhemelte belemmer, wat kan lei tot latere kou-, sluk- en spraakprobleme. Sielkundiges meen ook dat babas en peuters duim suig as 'n “streskruk”.

Stop só duim suigery

Begin dus die duimsuiery sagkens hokslaan deur eers seker te maak dat daar niks in die huis is wat te veel stres vir jou kinders veroorsaak nie. Kyk ook of jy nie ’n alternatiewe trosie vir jou kind kan vind
nie, soos ’n kombersie, beertjie of fopspeen.

As die duimsuiery regtig erg is, kan ’n mens as laaste uitweg probeer om iets aan die duim te smeer wat sleg proe, maar dis nie baie doeltreffend nie omdat dit jou kind nog meer gespanne kan maak, wat die drang om te suig net vererger.

Ander planne is om ’n pleister op die duim te plak of om jou kind handskoene te laat dra wanneer sy slaap. Aan ’n ouer kind wat al ’n bietjie rede kan verstaan, kan ’n mens ook rustig oor en oor verduidelik hoekom dit sleg is, en ’n klein beloning aanbied om die duimsuier van die gewoonte te laat afsien.

Die voordele van fopspene

Die ouer geslag frons dikwels oor fopspene, maar ál meer navorsing dui daarop dat fopspene eintlik voordelig is. ’n Fopspeen laat jou baba toe om haar natuurlike suigdrang te bevredig, dis meer higiënies
as ’n duim, want jy kan dit steriliseer, dit verminder die gevaar van wiegiedood, dit bevorder korrekte asemhaling (deur die neus, nie die mond nie) en dis boonop veel makliker om op die gepaste ouderdom van ’n fopspeen afstand te doen as van ’n duim.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees