Hulp met begaafde kinders

akkreditasie
Hier volg 'n paar eienskappe waarvoor jy kan uitkyk om te sien of jou kind begaafd of bllot parmantig is, en raad vir ouers van begaafde kinders.

Deesdae erken opvoeders en kenners IK is nie alles nie. Daar bestaan agt verskillende soorte intelligensie waarvan IK maar een is, en kinders kan op die gebied van enigeen of selfs meer as een van die intelligensies begaaf wees.

Dit is egter belangrik om die volgende te weet:

  • Begaafdheid dui op die potensiaal om te presteer, maar nie noodwendig op die uitleef van die potensiaal nie.
  • Begaafde kinders moet die geleentheid kry om hul potensiaal uit te leef of hul begaafdheid te koester.
  • Begaafde kinders vaar nie noodwendig goed in IKtoetse nie.
  • Begaafde kinders kan op een of meer terreine begaaf wees, soos op die gebied van algemene intellektuele vermoë, spesifieke akademiese aanleg (soos tale of wiskunde), kreatiewe denke, leierskap en die kunste.

Begaafde kinders kan ook leerprobleme hê, gestremd wees of hulp nodig hê met sekere vakke of vaardighede. Hulle moet – soos enige ander kind – die geleentheid kry om hul talente uit te leef en te ontwikkel.

Daardie talente moet egter in die eerste plek geïdentifiseer word.

Wat doen skole?

Skole is daarop gemik om kinders in hul geheel te ontwikkel en begaafdheid – intellektueel of op ander gebiede – is maar net een aspek daarvan.

Die groei van ’n kind se selfvertroue, emosionele en fisieke ontwikkeling, asook waagmoed en nuuskierigheid, help om kinders volrond en gebalanseerd te maak en dit is sekerlik die doelwit van alle
ouers en onderwysers.

Begaafde kinders word egter definitief nie geïgnoreer nie en onderwysers maak dikwels in die klas voorsiening vir kinders wat vinnig klaarkry of ander tekens van begaafdheid toon. Die onderwyser behoort op hoogte te wees van elke kind se vermoëns en lesse moet voorsiening maak vir ekstra stimulasie van ’n kind wat graag ekstra werk kan doen en wil doen.

Dit is ook die onderwyser se plig om te sorg dat kinders nie verveeld raak nie.

Hoe kan ouers help?

Kenners stem saam dat ouers hul jong begaafde kind vir eers moet toelaat om net kind te wees. Eerder as om te fokus op stimulasie, kan jy gerus fokus op speel en die ervarings van kind wees.

  • Laat haar speel: hardloop, fietsry, tou spring, boomklim. Beweging bly belangrik vir leer.
  • Moenie te veel buitemuurse aktiwiteite aanpak nie – dis nie nou al belangrik nie.
  • Laat haar die wêreld ontdek en ervaar. Beweeg weg van prentjies in boeke – laat haar dinge sien en voel.
  • Wees bewus van haar begaafdheid en koester dit. Syferslim kinders kan wiskundige speletjies geniet;
    kunstige kinders kan musiek uitvoerings of kunsuitstallings geniet.

Onthou dat jou kind se begaafdheid slegs ’n deeltjie van haar wese uitmaak. Moenie haar ander behoeftes vergeet deur net in haar begaafdheid vas te kyk nie. Sy het steeds jou koestering nodig.

Ons almal se wens is immers om gelukkige en gebalanseerde kinders groot te maak wat ’n nuttige bydrae tot die res van die samelewing kan lewer.

Is jou kind begaaf?

Die beste manier om dit te bepaal, is om jou kind formeel deur ’n kindersielkundige te laat toets. Hier volg solank ’n paar eienskappe wat kan aandui dat jou kind begaaf is.

  • Sy het haar ontwikkelingstadiums (kruip, loop, praat) vinniger as normaal deurgedraf of benodig minder slaap as ander kinders (of haar ouers).
  • Haar woordeskat is meer gevorderd as haar eweknieë s’n.
  • Sy gebruik vloeiende en uitdrukkingsvolle taal.
  • Sy is veeleisend en soek gedurig interaksie met volwassenes.
  • Sy het ’n wakker geaardheid en reageer aktief op visuele stimulasie en stories.
  • Roetine verveel haar en sy soek gedurig afwisseling.
  • Sy kan lank konsentreer op aktiwiteite wat haar interesseer.
  • Sy het haarself leer lees sonder dat iemand dit agtergekom het, of sy het vroeg leer lees.
  • Sy het ’n goeie geheue en kan fyn besonderhede in herinnering roep.
  • Sy hou van gedetailleerde inligting oor onderwerpe wat haar interesseer.
  • Sy het ’n hoë graad van werklike diep nuuskierigheid.
  • Sy het vroeg ’n sin vir humor ontwikkel wat meer volwasse as kinderlik is.
  • Sy het ’n kleurryke verbeelding en is vaardig met probleemoplossing.
  • Sy hou van volwasse gesel skap of om met ouer kinders te speel.
  • Sy pas maklik by nuwe situasies en roetines in.
  • Sy neig om ander te oorheers en te organiseer.

BESTE RAAD

Skep gerus geleenthede vir jou begaafde kind, maar onthou sy bly ’n kind wat baie moet speel en ’n gebalanseerde lewe moet lei.

Blind, maar so begaaf

Ying-Shan Tseng (8) van Boksburg in Johannesburg is blind gebore, maar het as driejarige haarself leer klavier speel. Haar ma, Janet Tseng, vertel meer.

“Toe ek Ying-Shan die eerste keer in my arms vasgehou het, het ek geweet iets is nie reg nie. Haar linkeroog en haar kop bo die regteroog was geswel. Aanvanklik het die dokter gedink dis veroorsaak deur die bevalling en ek en my man, Kenny, is aangeraai om Ying- Shan huis toe te neem en te kyk of die swelling afneem.

Maar ná ’n week het sy nog nie haar oë oopgemaak nie en dit was steeds geswel. Ons is terug hospitaal toe en dis toe dat sy met ’n seldsame ontwikkelingsafwyking, mikroftalmie, gediagnoseer is. Dit beteken letterlik “klein oog” en behels dat die baba se oog in die baarmoeder ophou groei.

Dokters kan nie seker sê wat dit veroorsaak nie, maar navorsing wys dat infeksies soos Duitse masels en sitomegalovirusinfeksie tydens swangerskap oorsake kan wees. Dit was ’n harde slag vir my en my man toe ons uitvind ons dogter sou blind wees.

Haar linkeroog was aansienlik kleiner as die regteroog en sy het haar sig in daardie oog heeltemal verloor en later ook in haar regteroog. Sy kon slegs onderskeid tussen lig en donker tref. Ek en Kenny het haar selfs na ons geboorteland, Taiwan, geneem om ’n tweede mening in te win, maar die diagnose was dieselfde.

Ons het besluit om nie negatief te wees nie en wou haar steeds die beste moontlike lewe gee. Ek glo ons positiewe houding het gehelp dat sy baie goed ontwikkel het. Sy kon op nege maande al loop, op ’n jaar vlot praat en toe sy drie was, kon sy verskeie deuntjies op die Casio-speler speel.

Omdat boeke en baie ander speelgoed niks vir haar beteken het nie, het my ouers vir haar ’n Casio-speler gekoop. Sy kon ’n liedjie een  keer hoor en dit dan speel. Dit was verstommend om te sien hoe goed sy met die musiekinstrument was, want niemand in ons familie is musikaal aangelê nie.

Teen vier jaar oud kon sy meer as 40 liedjies speel. Dit is toe dat ons haar vir verskeie eisteddfod-kompetisies begin inskryf het.

Ying-Shan leer tans viool speel en leer haar jonger sussies, Frieda (5) en Heidi (2), om klavier te speel.”
“As ek groot is, wil ek graag ’n musiekonderwyser wees. Musiek skep allerhande mooi prentjies in my kop,” sê Ying-Shan.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees