Vliegtuig-verleentheid

Julie Mostert, ma van Cara en Ryk, Kempton Park, Johannesburg

Cara was in ’n stadium kwaai siek en moes antibiotika drink. Destyds het ek glad nie geweet dat die soort antibiotika wat sy drink diarree as ’n newe-effek kan hê nie.

Ons moes vlieg en net toe ons hoog in die lug was en sy lekker op my skoot sit, skop die diarree in. Langs my het ’n dierbare, onskuldige student gesit wat niks van babas af geweet het nie.

En toe gebeur dit net daar in die lug. ’n Baie waterige poef wat oral is. Op my bene, oor my hande ... oral. My enigste redding was dat ek in ’n poging om ’n bietjie modieus te wees, ’n rok bo-oor my broek gedra het. Die rok kon toe darem die groot bruin kol op my broek wegsteek.

’n Ander keer het ek vir Cara met my gimbroek aan by die skool gaan oplaai. Dis ’n wyepyp-langbroek met ’n breë rek bo. Cara het opgewonde na my aangehardloop gekom en hard aan die broek getrek – wat tot my groot verleentheid op die grond van die skoolingang beland het!

Daar staan ek toe, heeltemal broekloos en so dankbaar dat ek dié oggend die insig gehad het om ’n kuis kleinbroekie aan te trek. As ek daardie dag ’n deurtrekker aangehad het, sou ek ’n duisend meer dode gesterf het!

Dokter dokter

Therine van Niekerk, ma van Jasper, Somerset-Wes

Ek en Jasper (18 maande) was in my studeerkamer aan die werskaf toe die telefoon lui. Terwyl ek gesels hoor ek hoe Jasper vreeslik huil. Terug in die studeerkamer kry ek hom met ’n blikkie gekleurde duimspykers in die hand.

Hoe hy die skroefdeksel oopgekry het, weet nugter. My eerste gedagte was die kind het ’n duimspyker ingesluk, en ons is dadelik dokter toe. In die motor het hy nie so baie gehuil nie, maar by die dokter was hy weer baie ontsteld.

Die dokter het ons gestuur om X-strale te laat neem. Terwyl ons soontoe jaag, was Jasper weer stillerig. By die X-strale het hy weer vreeslik gehuil. Ek het gewonder hoe ek hom sou kry om stil te lê. Wonder bo wonder het hy ophou huil en rustig gelê.

Ek het sy trui en skoene uitgetrek. Toe die vrou met die plate terugkom het sy gesê dit lyk goed; ons kon maar aantrek en voor gaan wag vir die verslag. Maar ek het geweet dit was alles verniet, want in die binnekant van sy skoen het ’n duimspyker gesit!

Die luise kom!

Elzani Knepscheld, ma van Zibe en Zander, Blaasveld, België

Ek en my man, Bert, is ’n ruk gelede saam met die kinders Pizza Hut toe kort nadat ons ’n brief van die skool gekry het dat daar luise in die omtrek was.

Ek en Bert het vroeër besorg oor die luiskwessie gepraat en die vierjarige Zibe moes dit gehoor het. Want net daar in die middel van die Pizza Hut, tussen al die ander ouers en kinders, begin sy vreeslik in haar hare vroetel en gil kliphard voor al die mense: “Pappa, ek het luise!”

Bert het hard probeer om haar stil te maak, maar hoe meer hy dit gedoen het, hoe meer het sy volgehou: “Nee regtig, my kop bly kriebel van al die beestjes.”

Ons het ons maar vinnig uit die voete gemaak net nadat die pizza opgedaag het.

Keer voor in die winkel

Marelise Krige, ma van Alida, Durbanville, Kaapstad

Alida was amper 2 jaar oud en dit het heel goed gegaan met die potjielesse. Een dag ná haar middagslapie is ons gou Pick n Pay toe, sy met haar doek aan. Halfpad deur die inkopies kondig sy aan dat sy ’n piepie het.

Vyf minute later is ons terug in die winkel, dié slag natuurlik sonder ’n doek. Nie lank daarna nie voel ek ’n pluk aan my broekspyp: “Mamma, ek het ’n poef.” Toe ek afbuk om haar op te tel, val twee netjiese, gelukkig stywe, bewysstukke by haar broekspyp uit!

Ek het geen doeksak byderhand gehad nie en dam toe ’n verskrikte pappa by. Die arme man was so verbouereerd! Hy het ’n pak afveedoekies in een van die rakke gaan soek terwyl ek wydsbeen oor die twee knolle gestaan het om te keer dat iemand daarin trap. Tussendeur moes ek probeer om nie te veel aandag te trek nie, want dit was heeltemal groot genoeg dat enige omstander kon dink dis myne!

Toegedraai in afveelappies en ’n deurskynende groentesakkie is die pakkie toe in die trollie saam terwyl die res van die inkopielys afgehandel is.

My man, weer, het een oggend in die bed gelê en slaap met net die nodigste aan. Toe my dogtertjie wakker word en by ons kom inkruip sien sy die snaakse bult in haar pappa se onderbroek. Ná deeglike ondersoek terwyl my man probeer keer, kondig sy aan: “Pappa het ’n poef in hom pantie!”

Bekkig verby

Anmarie Basson, ma van Amor, Marna en Karli, Centurion

Marna was net ouer as 2 jaar toe ons na die opening is van ’n nuwe winkel. Die betaalry waarin ons moes wag, was lank en terwyl ons wag het sy haar vinger in haar neusie gesteek en begin grawe. Ek sê toe vir haar dis baie lelik, maar sy haak toe af: “Ek moet my snot eet, want jy gee my mos nie kos nie.”

Die hele winkel was histeries en ek bloedrooi. Eers agterna het ek verneem haar ousus het vir haar gesê sy moenie so in haar neusie krap nie, want sy kry mos kos!

My een vriendin se driejarige was ook eendag vir haar ma ’n groot verleentheid. Hulle het ’n lastige buurvrou gehad wat tydig en ontydig by hul voordeur ingestap het. Toe my vriendin die buurvrou weer een oggend sien aankom, gryp sy haar driejarige aan die arm en kruip in die kas weg. Buurvrou het ingekom en rondgeroep, maar daar was niemand.

Die aand speel die klein rakker en haar pappa op die gras en die buurvrou loer oor die muur en groet. Sussie haak toe af: “Tannie, ek en my mamma het vanoggend vir jou in die kas weggekruip!”

Ontblote oomblik

Yolandi Luyken, ma van Miecke, Wilgeheuwel, Johannesburg

Dit was ’n bibberkoue winternag. Ons het die naweek saam met my ouers gaan kamp en ek was hoogswanger met Miecke (nou 13 maande).

Swangerskap verg mos gereelde nagtelike toiletbesoeke en toe ek vir die soveelste keer met my enorme boep ’n omrolaksie moes uitvoer om van die opblaasmatras op my poffervoete te kom, besluit ek basta met die ablusieblok wat so ver is, en ek soek ’n donker hoekie buite die karavaan om my oorvol blaas te verlig.

Net toe ek my ná baie moeite in ’n hurkposisie balanseer met my een hand op die buffer van my pa se Audi, kom daar van nêrens af nie ’n groep jong mense aangeloop! Soos ek my broekie probeer aankry, tree die swaartekrag in en gly ek agteroor, broekie steeds om die enkels, teen ’n bultjie af.

Ek gly en gly en gly ... tot ek uiteindelik plat op my rug te lande kom. Nooit in my hele lewe was ek so verleë nie. Stel jou voor: Hompie Kedompie Eiermaag, voete in die lug! Tot vandag weet ek nie presies hoeveel die jonges van my anatomie gesien het nie, maar ek het daardie nag almal in die karavaan
wakker gegiggel!

Amme mamma

Karen Mc Lachlan, ma van Michael en Richardt, Klerksdorp

My oudste seun was drie jaar oud toe ons eendag by ’n supermark se betaalpunt staan. As sy skoene of klere stukkend was, het hy altyd gesê: “Ons is bietjie am (arm)”.

Dié slag het hy gehuil vir lekkergoed en ons wou dit nie vir hom koop nie. Die omie agter ons in die ry het hom vreeslik jammer gekry en met hom begin gesels. En dis toe dat boeta vir die oom sy tekkie met ’n gaatjie in wys en sê: “Ons is bietjie am.”

Ek het nie geweet of ek moet protesteer of bloot my kop in die kasregisterlaai moet probeer indruk nie.
Die oom het vir boeta, onder groot protes van ons, sjokolade gekoop.

Nare ondervinding

Mandie van Rensburg, ma van Jasper en Marnus, Klerksdorp

Jasper het een keer by die betaalpunt in die Spar begin opgooi. Hy het nuwe betekenis aan die woord projektiel gegee! Dit was op die toonbank, agter die toonbank, oor die kasregister – net mooi oral.

Ek het hom gegryp om by die winkel uit te hol, maar voor ek buite kon kom was nog drie kasregisters in die slag. Toe ek weer sien, het hulle ons afgekordon met rooi Coke-kratte! Om alles te kroon het ek nie ’n enkele lappie of snesie byderhand gehad om sy gesiggie mee af te vee nie.

Die vrou agter die kasregister het ’n sneesdoekie aangegee, maar dit was klaar vol braaksel. Ek het die winkel daardie dag maar taamlik druipstert verlaat.

Nie so ’n modelkind

Monique Gouws, ma van Griffen, Centurion

Ek moes onlangs vir Griffen (10 maande) vir ’n fotosessie na B&K se sustertydskrif Your Baby neem. Tydens die fotonemery was die mannetjie baie moeilik, wat eintlik ongewoon is. Hy was uitgedos in pragtige klere van Naartjie wat ons spesiaal vir die foto’s geleen het. Maar net toe ruik ek ’n rot. Of liewer, die ergste tandedoek denkbaar!

Toe ek hom gaan skoonmaak, was dit ’n meneer van ’n doek en dit het alles bemors – die klere, die kleedkamer ... alles. Ek het nie geweet waar om my kop in te druk nie.

Drink daarop

Lody Welgemoed, ma van Liane en Inneke, Katar

Toe Liane op drie jaar oud in die kleuterklas haar briefie vir Kersvader moes dikteer, wou die juffrou weet wat sy vir Kersfees wou hê. Onselfsugtige kind wat ek het, sê sy toe: “Dear Santa, I would really like a horse, Mommy would like a Coke Light and Daddy would like a whiskey!”

En dit in ’n Moslemland! Die Britse juffrou het haar dubbel gevou en ek het nie mooi geweet waar om my kop in te druk nie. Sy het Liane se briefie die hele jaar op die aansteekbord in die klas gehou en dit darem aan die einde van die jaar vir my gegee om vir haar te bêre.

Gelukkig nie ’n poef nie

Sandra Geldenhuys, ma van Kyla, Wes-Rand, Johannesburg

Ma’s loer mos sommer agter by die doek in om te sien of daar ’n pakkie wag wat skoongemaak moet word. Eendag sit ek op my hurke op die vloer tussen ’n hele klomp mense en die volgende oomblik trek die tweejarige Kyla mý broek aan die agterkant weg, loer in en verklaar plegtig: “Nee, Mamma het nie gepoe nie!”

Hand op die bors

Anna-Retha Bouwer, ma van Ulrich en Lara, Pretoria

Ulrich, nou ses, het lank nadat ek ophou borsvoed het nog die gewoonte gehad om sy hand voor by my boesem in te druk. Een keer het ek ’n selfoonprobleem met ’n baie aantreklike en hulpvaardige verkoopsman probeer oplos toe klein meneer besluit hy steek nou sy kleim af. “Hy’s seker honger,”
het die man gesê. Ek het my selfoonprobleem maar later by ’n ander tak in ’n ander voorstad gaan oplos ...

Pak dit diep weg

Christine de Jager, ma van Chrizaan en Carlo, Rustenburg

Gelukkig het ek nog nie sulke groot verleenthede gehad nie, maar ek het wel besef dis tyd dat ek ’n bietjie meer privaatheid aan die dag lê toe my tweejarige seuntjie met ’n sanitêre doekie tussen sy bene uit die kamer gestap kom ...

Stuur jou stories aan web@babaenkleuter.co.za