Jou kind se emosionele woordeskat

akkreditasie
As jou kind eers die woorde ken om pyn, vrees en frustarasie mee te beskryf, sal dit jou lewe baie makliker maak - en vir hom is dit 'n enorme ontwikkelingsmylpaal

Elke dag se klein einas – gestampte tone, stukkende knieë en bloukolle – is vir die meeste kleuters, en hul mammas, ’n werklikheid. Gelukkig is dit ook gewoonlik die totale omvang van kleuters se pynlike ervarings.

Mammas moet dikwels kreatiewe maniere uitdink om vas te stel wat die eina veroorsaak, waar die eina is, en hoe erg die eina is. As kleuters nog nie oor die woorde beskik om sensasies soos pyn en gepaard- gaande emosies uit te druk nie, wys hulle dit op nieverbale maniere.

Hulle kan skree en huil of soos hansworse te kere gaan. Hulle kan begin om te veel of te min te eet. Hulle kan selfs weier om met maats te speel en baie teruggetrokke raak.

’n Ma moet ook onthou dat kleuters op haar gedrag en emosies ingestel is en daarvolgens reageer.

Ons het al almal gesien hoe ’n klein peutertjie wat pas begin loop het en dan val, eers na sy ma kyk voor hy begin huil. As hy vrees of skok op haar gesig sien, kom die trane maklik. Maar as hy sien sy het nie te groot geskrik nie, staan hy op en loop verder.

Net so kan kinders bang word en hul pyn probeer minimaliseer om hul ouers te beskerm as hulle sien dat die ouers skrik wanneer hulle ’n wond of seerplek kom wys. Hulle kan dit selfs vir hul ouers probeer wegsteek, dikwels met tragiese gevolge.

Daarom is dit belangrik dat jy die pyn raaksien sonder om histeries te raak of oorboord te gaan. Laat jou kind eerder verstaan dat jy hom glo en dat jy glo dat iets daaraan gedoen kan word.

Hoe ontwikkel ’n pyn-woordeskat?

Wetenskaplike studies het bevind dat peuters tussen 12 en 24 maande al kort woorde soos “eina”, “ouch”, “ouwie” en “ouw” of herhalende woorde soos “ouw-ouw” gebruik om te wys dat hulle pyn het. Dit beteken dat een of ander pynverwante woord dikwels onder die eerste woordjies is wat kinders leer. Hierdie woorde word meestal gebruik om te vertel dat hulle pas seergekry het.

Van 23 maande af begin peuters woorde kombineer, soos “kop stamp”, “toon eina” of “soen beter”. Van 36 maande af brei die lysie uit en word woorde soos “seer”, “pyn” en “siek” ook gebruik. Kleuters kan nou begin onderskei tussen “eina”, wat gebruik word om seerkry te beskryf – soos wanneer daar ’n sigbare wond met bloed is – en “siek”, wat gebruik word as die pyn onsigbaar is, soos maagpyn of hoofpyn.

Omdat kleuters se taalvaardighede op hierdie ouderdom baie begin uitbrei, sien ons ook nou die ontwikkeling van voorsetsels: “salf op” of “pleister op”. Hulle begin leer hoe om die werkwoord korrek te verbuig en “dit bloed!” word “dit bloei!” Op hierdie ouderdom begin sommige kleuters ook frases
gebruik om hul ouers gerus te stel: “Ek sterk”, “ek groot” “Wikus dapper seun”, “Mia groot meisie”.

Nog later leer hulle meer beskrywende woorde, soos “dit jeuk” of “my vinger brand”. Die sinne word langer: “Ek het 'n eina”. Van vier jaar af kan ’n mens sinne verwag soos “ek voel nie lekker nie”.

Veralgemening

Ons weet ook dat wanneer kleuters taal begin leer, hulle dikwels deur ’n proses van veralgemening gaan, wat beteken dat een woord gebruik word om baie verskillende begrippe aan te dui.

Jong kleuters gebruik byvoorbeeld die woordjie “mamma” om na alle vroue te verwys, en later besef hulle dat daar verskillende vroue is en word “mamma” vervang met “tannie”, “ouma” of “juffrou”. My Heinrich-kind het na alle gaskoeldrank as “Coke” verwys en sou dan spesifiseer “ek wil groen Coke hê” (Cream Soda), “wit Coke” (Sprite) en “oranje Coke” (Fanta)!

Veralgemening vind ook plaas wanneer kleuters pynwoorde aanleer. Hulle sal miskien vir ’n pleister vra vir alle einas – ’n pleister op die kop vir hoofpyn en een op die maag vir maagpyn. As jy dus weer ’n kleuter met ’n pleister op haar magie sien, moet jy weet dat sy dalk nog in hierdie veralgemeningsfase
is . . .

Onthou ook dat kleuters wat reeds voorheen aan pyn blootgestel was, soos weens siekte of ’n besering, se woordeskat meer ontwikkeld sal wees. Dieselfde geld vir kleuters wat ’n ouer boetie of sussie het, asook kleuters wat al in die hospitaal was.

Navorsing het gewys dat dogtertjies hulleself gewoonlik beter kan uitdruk as die pyn met siekte verband hou, terwyl seuns beter vaar met woorde wat seerkry beskryf.

Hoe toets ’n dokter vir pyn?

Dokters maak gewoonlik van drie metodes gebruik om pyn te bepaal.

  • Eie mededeling. Talle mediese studies het al gevind dat dit ’n baie duidelike en belangrike manier van pynbeskrywing is. Juis daarom moet ons ons kleuters van jongs af bemagtig met die regte woordeskat. Die vermoë om pyn te beskryf verbeter natuurlik ook namate ’n kind ouer word en meer ervarings het.
  • Gedragswaarneming. Die dokter neem waar hoe intens die kleuter huil en kyk ook na die gesigsuitdrukkings, gebare en bewegings wat die lyfie maak. Wanneer ’n arm gebreek is, sal kleuters ’n suigstokkie met die “gesonde” hand vat, selfs al hou die dokter die suigstokkie nader aan die seer hand.
  • Objektiewe fisiologiese toetse. Dit sluit in die neem van koors, asemhaling, bloeddruk, die suurstof-saturasievlak en bloedtoetse. Laasgenoemde word egter altyd in samehang met die eerste twee gedoen omdat die resultate net werklik doeltreffend is vir akute pyn en omdat dit wissel na gelang van die kind se algemene gesondheid en ouderdom.

By babas word pyn meestal met gedragswaarneming gemeet. Die dokter sal byvoorbeeld kyk na hul huil, gesigsuitdrukkings en liggaamsbewegings. Maar dis ’n moeilike manier om pyn te bepaal omdat babas kan huil weens algemene ongemak (soos ’n nat doek) eerder as van pyn.

Huil is ook nie ’n goeie aanduiding van pyn vir vroeggebore babas nie, omdat dit vir hulle moeilik is om hardop te huil. Daar word dus van ander skale gebruik gemaak, soos die NIPS (Neonatal Infant Pain Scale). Dié skaal word ingespan net voor, tydens en ná ’n pynlike prosesure (soos ’n bloedtoets) met
tussenposes van ’n minuut.

Aspekte soos die gesigsuitdrukkings, huil, asemhalingspatroon, arm- en beenbewegings en vlak van bewussyn word opgeteken.

Vir peuters met beperkte taalvaardighede is gedragswaarneming ook die hoofmetode van pynbepaling. Afgesien van gesigsuitdrukkings en spesifieke bewegings soos hoe die seer arm of been gehou word, sal hulle ook op ’n bepaalde manier huil, steun of kreun. Die meeste tweejariges kan begin verduidelik waar die pyn is, maar kan nog nie die graad daarvan beskryf nie.

Kleuters kan van drie jaar af die intensiteit van pyn begin onderskei (nie pyn nie, ’n bietjie pyn, baie pyn). ’n Baie doeltreffende tegniek vir hierdie ouderdomsgroep is om die kind vier blokkies te gee. Die kleuter word dan vertel dat elkeen van die vier blokkies ’n stukkie pyn voorstel: Een blokkie is “bietjie eina” en vier blokkies verwys na “die meeste eina wat ’n mens kan hê”. Dan moet die kleuter wys hoeveel stukkies eina hy het.

Sommige gesondheidswerkers gebruik ook gesiggies om intensiteit aan te toon, maar wetenskaplike studies het getoon dis nie altyd doeltreffend nie. Gesiggies met glimlagte kan kinders deurmekaar
maak wanneer hulle pyn het, want selfs al het jy net ’n “bietjie eina” wil jy nie ’n glimlaggie gebruik om dit te wys nie.

Wat moet ek my kind leer?

Dit is belangrik om jou kleuter van jongs af te leer om die pyn te probeer uitdruk. Dit kan gedoen word met woorde wat die onaangename sensasie beskryf (“die pyn steek” of “die eina brand”) en hoe
gereeld dit voorkom (“die hele tyd”, “baie”, “partykeer”, “ ’n klein bietjie van die tyd”). Laat hulle ook die plek beskryf of op hul lyfies of ’n pop se lyf wys presies waar dit seer is.

Onthou dat pyn migreer en dat ’n mens dit op ’n ander plek kan voel as waar dit is. ’n Tand is dalk seer, maar dan voel die hele kop seer. Of ’n been pyn, en dan voel die laerug seer. Ná antibiotika en hardlywigheid wat daarop volg het my vyfjarige Wikus heel moedeloos vertel: “Dit pyn van my maag af tot by my ruggraat!”

Stel jou kind gerus dat ’n mens die pyn op meer as een plek kan voel. Dis ook interessant dat ouer kinders minder geneig is om dadelik hulp te soek as hulle seergekry het. Namate hulle ouer word, word hulle ook versigtiger in moontlike seerkry-situasies.

Dit dui daarop dat hulle leer om hulself te troos deur van die tegnieke te gebruik wat hulle hul ouers al dikwels sien inspan het, soos om ’n stampplek te vryf of ys op te sit of om ’n seer duim gou in die mond te sit. Dié manier van pynhantering maak kinders minder afhanklik van hulle ouers.

Wat kan ek in ’n noodsituasie doen om my kind se pyn te verminder?

By die dokter of in die noodeenheid is die gewildste tegniek aandagafleiding. Daar is twee hoofsoorte: passiewe en aktiewe aandagafleiding.

Met passiewe afleiding wil die dokter hê dat die kind stil is en kan Mamma of ’n suster sing, kalmerend praat en ’n storie vertel of selfs ’n boekie lees. Aan die ander kant probeer die dokter die kind kry om deel te neem tydens aktiewe aandagafleiding sodat hy sy aandag op iets anders kan fokus.

Doeltreffende strategieë is om kleuters te laat tel of ’n mantra te laat opsê wat hulle help om die situasie te hanteer: “Ek is braaf en ek is sterk, Ek is gaaf en laat die dokter werk”.

Jy kan hulle ook vra om aan iets lekkers te dink. Video’s en TV kan ook werk, byvoorbeeld in ’n tandartsstoel. Dis baie minder pynlik as die kleuter na sy gunsteling- video sit en kyk en nie eens dink
aan wat die tandarts doen nie!

Vir babas werk passiewe strategieë die beste. Speelgoed soos spieëltjies, selfone of ander geraasmakers werk goed. ’n Ma se rustige stem, selfs terwyl sy ’n wiegeliedjie sing, werk ook.

Mediese navorsing het ook die waarde van vel-tot-vel-aanraking (soos met kangaroesorg) gewys. Dit behels dat jy jou baba net ná die pynlike prosedure teen jou bors vashou.

’n Ander studie het gevind dat ’n pynlike prosedure soos ’n hakprik minder intens ervaar word as die baba sy ma se stem hoor – selfs al is sy nie fisiek teenwoordig nie en word net ’n opname van
haar stem gespeel.

Hoe trek jy peuters en kleuters se aandag af?

Dit hang af van hul ouderdom. Hoe jonger kinders is, hoe angstiger is hulle oor enige mediese ingryping. Helder speelgoed, veral dié wat geluide maak en liggies het, en borrels blaas werk uitstekend. As jou kind ’n bietjie ouer is, kan jy doeltreffende geselsies met hom aanknoop. Vra: “Hoeveel boeties en sussies het jy?” “ Wat het jy op jou laaste partytjie gedoen?”

Vir ouer kleuters en skoolgaande kinders is die beste oplossing om hulle ’n keuse te gee: “Wil jy sit of wil jy lê?” “Watter arm moet ek gebruik?” Hulle kan ook aangemoedig word om na musiek op ‘n iPod te luister of om rekenaarspeletjies op ’n draagbare konsole te speel.

Ten slotte

Pyn is ’n werklikheid en ons gaan ons kinders nooit ten volle daarteen kan beskerm nie. Maar die belangrikheid van elke dag se kleiner stampe en stote is dat dit hulle leer om op die regte manier op pyn, vrees en woede te reageer.

So leer hulle om hulp te gaan vra of om hulself te paai en sus; en om vrede te maak eerder as om wraak te neem en iemand terug te kry.

Wat weet ons dus nou?

  • Peuters en kleuters ontwikkel tussen 12 en 30 maande ’n snelgroeiende woordeskat om pyn mee beskryf.
  • Verskillende woorde word in verskillende situasies vir verskillende soorte pyn gebruik.
  • Volwassenes moet nooit peuters en kleuters se ontluikende woordeskat onderskat nie – hulle kan hulself meestal heel verstaanbaar uitdruk!
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees