Klompvoet: Ouers vertel hulle stories

akkreditasie

"Look at the leg!"

Sy regtervoetjie was ingedraai en die dokter het my toe gesê hy het 'n klompvoetjie, maar dit sal behandel kan word met gips. Hy was 4 dae oud toe ons die ortopeed die eerste keer gaan sien het, maar moes toe hoor hy is nog te klein, die gips gaan sy velletjie brand en ons moet terug keer oor 2 weke.

Twee weke later het hulle begin om die spiertjies en seningtjies te manupuleer met gips (die Ponseti metode), ek kan nog onthou ek het gewonder of hy ooit skoentjies sal kan dra. Vir 7 en half maande lank het hy elke tweede week nuwe gips gekry en dit was wonderlik om te sien hoe sy voetjie regkom.

Na die operasie het hy weer gips gehad vir 2 weke en toe kry hy sy eerste spesiale skoentjies. Dit is 2 skoentjies wat gemonteer is op 'n 'yster staaf'. Die normale voetjie se skoentjie is op 'n seker grade gemonteer asook die klompvoetjie se skoen. Dit is om seker te maak dat die voetjie nie weer indraai en die hele proses van voor af begin moet word nie.

Vandag is hy 16 maande oud en loop die wêreld vol en jy sal nie dink dat daar enige iets fout was met sy voetjie nie, en die operasie se litteken herinner ons aan waardeur hierdie klein lyfie al deur is om nou die wêreld vol te stap.

Christelle.

"Nee, ek't hom nie laat val, of hom mishandel nie"

Op 31 Augustus 2011 word ek teater toe gestoot vir n keiser, die opwinding van die afgelope 38 weke is besig om tot n einde te kom, om plek te maak vir n nuwe avontuur: ons baba seuntjie word oor 'n paar minute gebore!

Die dokter begin met die prosedure, almal is stil en gefokus op hulle werk, Pappa se oë blink maar hy sê niks en wag in spanning om sy seun te sien. Uiteindelik (wat na 'n ewigheid voel) sê die dokter: "Geluk, dis n seun" en sy woorde word bevestig met n harde babastemmetjie wat kwaad klink oor ons hom uit sy veilige nessie gehaal het. Ek kyk na my verloofde om te sien of hy huil soos daar tussen almal gespot was dat hy wel gaan huil, maar sy gesig spreek boekdele en ek weet: iets is nie reg nie. Met n vlugtige "Eks nou terug" staan hy langs my op om ons seuntjie te gaan groet, terwyl ek in spanning wag om self my kind te sien. Nog n leeftyd gaan verby voor my verloofde terug is by my: "Hy't klompvoetjies, maar die dokter se ons moenie bekommerd wees nie, hulle kan dit regmaak" my reaksie was net "O,ok" terwyl ek probeer dink wat op aarde klompvoete kan wees, en hoekom ons dit nooit op enige sonar opgetel het nie.

Uiteindelik kom die verpleegster met my skreeuende baba by my "kyk, daar's Mamma" probeer sy troos, hy loer met halwe oop ogies na my en is skielik stil toe hy my stem hoor (wat al my navorsing bevestig dat my baba wel gaan weet EK is sy Mamma as hy eers gebore is) eks bly en hartseer gelyk, my kind is hier, hys gesond en ek kan nie vir meer vra nie, maar ek worstel dieselfde tyd met wat vir ons voorlê.

Nog voor hy 24 uur oud was het n ortopeet en verpleegster hom by my gevat, en die eerste stel gipsies aan sy voetjies gaan sit, die res van ons tyd in die hospitaal was n mengelmoes van n nuwe Ma wat kort-kort onbedaarlik huil, deels oor sy "baby-blues" het, deels oor sy skuldig voel en haar baba ongelooflik jammer kry oor hy nie "normaal" is nie.

Vir die volgende 10weke het ons elke Vrydag gipsies gaan vervang, dit het vir my die kosbaarste oomblikkies geword wanneer ek Vrydagoggend Tiaan se gipsies self by die huis afhaal, hom ordentlik bad in plaas van "afstof" soos elke ander dag, sy bene en voetjies lekker met roompies smeer en hom dan n uur of wat later  terug vat vir nuwe gips.

Tiaan was skaars 10 wekies oud en net n rapsie oor 5kg toe hy vir sy eerste operasie gaan, die dokter het ons verseker dat na die operasie, 6weke in gips en so 3maande in spesiale skoene, Tiaan se voete so normaal soos myne en sy Pa s'n sal lyk. Na die eerste 3maande in die spesiale skoene het Tiaan se voete verbeter, maar ons is vertel dat hy vir nog 3maande skoene moet dra, hy moet net asb eers n groter paar skoene kry want die wat hy het is nou te klein. en plaas daarvan dat hy HEELDAG moet skoene dra soos die vorige 3 maande, hoef hy nou net met die skoene te slaap. 

Teen die tweede maand van die tweede sessie van drie maande skoene dra was my moed in my skoene, Tiaan se voete trek weer skeef, die skoene werk nie! Ek is na ons huisdokter toe (haar seuntjie het ook voetprobleme gehad) en sy't my na n pediatriese ortopeet toe gestuur wat spesialiseer in klompvoetjies. Sy't dadelik  besluit om weer te opereer, maar eers x-strale geneem om te sien presies wat BINNE die voetjies aangaan, ons het gesien dat sy toontjies in sy een voetjie bo-oor mekaar klim, en die dokter kon dit ook regstel.

Tiaan het die aand voor sy operasie begin loop, hy was ses weke in gips, gegaan vir manipulasie, was nog twee weke in gips en toe weer gegaan vir n manipulasie om die drade in sy voetjie uit te haal en nog vier weke gips gedra. Januarie is ons terug vir n opvolg en die dokter was steeds nie tevrede nie, Tiaan het toe nog twee keer daarna nuwe gips gekry, en het twee weke na sy laaste gips afgehaal is weer begin loop op 19 maande.

Na die skok, drama, trane en TALLE verduidelikings oor hoekom my kind in gips is en "nee, ek't hom nie laat val, of hom mishandel nie" is my seuntjie nou net so normaal soos al die ander maatjies van sy ouderdom, hy trap plat op sy voetjies, dra gewone,normale skoene en HARDLOOP die wereld vol! 

Ons voel nie net geseënd oor ons seuntje se voete nou reg is nie, ons het van sy geboorte af geseënd gevoel dat God ons met so n spesiale engeltjie vertrou!

Carli Maree.

"Die Liewe Vader het vir ons hierdie unieke seuntjie gestuur met ‘n rede"

Nooit het ek eers geweet wat klomp voetjies is nie.  Nooit het ek besef dat ek die 1 uit ‘n 1000 mammas sal wees wat hierdie spesiale seuntjie in die wereld gaan bring nie.

Toe ek die nuus ontvang op 21 weke, was ek geskok, dis my eerste swangerskap hoe kan dit nou met my gebeur??  My man (wie ook 2 kinders uit vorige huwelik het) het langs my kom sit en gese: Die Liewe Vader het vir ons hierdie unieke seuntjie gestuur met ‘n rede, want hy weet dis jou eerste baba, maar tog my eerste ook.  

Ons het die 8ste Junie 2012, besluit om ons laaste naweek bietjie alleen weg te gaan voordat boetie kom.  Juwan se tyd was die 15 de Julie, maar my keiser was geboek in Paarl Mediclinic die 10de Julie.  Die Saterdag oggend, het ek krampe gekry en gedink dis net blaas infeksie.  Die aand is ek na Hermanus Medi kliniek om medikasie te ontvang vir pyn.  Ek was toe al die tyd 6cm ontsluit.

Kwart voor 12 is Juwan Jozua von Kotze gebore met klomp voetjies en al, perfek vir sy Ma.  Met ‘n gewig van 2kg het hulle vir hom na 5dae, sy eerste gipsies aangesit.  Elke week moes ons deur ry na Louis Leipold om sy gipsies te vervang.  13weke later, moes hy ‘n operasie ondergaan om sy akkulus sening te verleng....daarna moes hy weer gipsies kry vir nog 3 weke.  Na 3 weke het Dr Ryno gesê hy is tevrede en kan Juwan nou finaal klaarmaak met die gipsies. Hy dra nou nog elke aand as hy slaap die Ponsetti-skoentjies met die ysterbar in die middel.  Hulle raak dit baie gou gewoond. Hulle dra dit tot en met die ouderdom van 4 jaar, dan is die beentjies in die voet sterk genoeg om die posisie te behou en sal dit nie in “relaps” gaan nie.

Ek voel geseend met my seuntjie – hy is defnitief ‘n Engel gestuur vir ons!! 

Francisca Bezuidenhout.

"Vier weke prematuur gebore as gevolg van my plasenta wat geskeur het."

Ons, Jako en ek (Sumerie), het nie beplan om swanger te raak nie. Ek is 41 en Jako 27 , dus is my ouderdom volgens statustieke meer geneig vir komplikasies en om dinge te vererger was ek in 2004 in 'n ernstige motorongeluk betrokke waarin ek my bekken op vier plekke gebreek ht en verskeie ander beserings opgedoen het.

Verlede jaar vind ek toe uit tot my skok ek is swanger! Ek was natuurlik gestress, die dokter's het destyds my gewaarsku dat ek nie mag swanger raak nie...so verskeie dinge het deur my gedagtes gegaan...asook verskeie vrese.

Met ons eerste besoek aan die dokter is die gevare aan ons uitgewys. Ons het besluit om deur te druk! Ek het erge pyn verduur, maar elke oomblik so gesond moontlik probeer leef vir die baba. Ons het eers in die helfte van die swangerskap uitgevind van die probleempie met die voetjie. Ons was nie bekommerd daaroor nie.

Stefan is toe vier weke prematuur gebore as gevolg van my plasenta wat geskeur het. Daar is die volgende dag met manupilasie (gips) begin. Ongelukkig is die behandeling gestaak oor Desember omdat die dokter om vakansie gegaan het en ons nie meer kon bekostig om die omgeveer 450km (900 heen-en-weer) weekliks te ry Paarl toe nie.

Toe in Februarie van die jaar vind ons 'n dokter in Vredenburg wat Ponseti manupilasies doen! Wat 'n wonderlike dokter! Soveel passie vir sy werk! Vandag is Stefan se behandeling al so vêr dat hy sy skoentjies dra. O ja, hy is met een klompvoetjie gebore wat na binne gedraai was. Hy is die dierbaarste seuntjie en het al deur soveel gekom. Ons sien net 'n blik toekoms vir hom alles te danke aan 'n wonderlike God en dokter wat soveel passie vir sy werk het!

Sumerie.

"Toe hulle hom vir my bring, het ek eerste sy vingertjies getel en gekyk dat da 10 vingertjies is en toe die voete..daar was 10 toontjies!"

Hi My naam Is Tanya ek is 29 en woon in Mooinooi Noort Wes. My seun was gebore op 27st April 2008 met klompvoetjies! Deur my swangerskap het ek eers op sewe maande 'n sonar gesien en niks het gewys nie en dokter het ook gesê dis 'n dogtertjie!

Die dag het aangebreuk dit was op n sondag oggend wat die pyne erger begin raak... my skoon sister het my in 'n bad gesit en my rug gevryf ek wou niks weet om hospital toe te gaan nie was soo bang al was dit my tweede kind. Ek wou met alle gewel hê my ma moes die baba vang omdat sy tevore met haar beroep dit al gedoen het! Sy wou natuurlik niks weet gesê sy sal nie kan nie eks haar eie dogter.

Ek het toe hospitaal toe gegaan. Na 'n hele paar pynlike ure was my seun gebore. Ek het gesien sy voete lyk snaaks maar ek het gedink dis so van hoe hy maar gelê het in my maag. Die sister wat hom gevang het, het net bly sê hulle kan voete reg maak dis nie so erg nie! Met al die nuus en als het ek glad nie eens aan daai voete gedink nie was net te bly hy's gesond.

Toe hulle hom vir my bring, het ek eerste sy vingertjies getel en gekyk dat da 10 vingertjies is en toe die voete..daar was 10 toontjies! My seun was vier dagies oud toe sit hulle gips op die eerste dag was baie moeilik hulle het daai kleine bene en voetjies gedraai en swaai ek het erg gehuil en kon dit nie hanteer nie dis toe ek eers besef waar deer ek en hy moet gaan.

My seun het weke na weke gegaan om gips af en an weer te sit. Hy het tot geleer kryp met daai gaga goed aan en nou en dan met 'n bottle dit geslaan vir jeuk. Vandag is hy 5 jaar oud en dra spesiaale boots wat ek by goverment hospitaal kry. Sy voete lyk baie beter maar nie 100 persent nie en winter dae is erger omdat sy voete pyn dis elke dag nog 'n stryd en al wat my daagliks pla is die dag met skool gaan dat god hom sal sterk maak as hy gespot gaan word.

Maar ek moet sê hys 'n sterk seun binne en buite! Ek is 'n enkel mama van twee en kan net God die dank gee dat my kinders gesond is. Ek wens alle sterkte aan mamma's en pappa's wat nuut 'n baba gekry het met klompvoetjies dis nie lekker om ons kinders in pyn te sien nie maar God het ons gekies vir hulle en hy sal ons dra deer dit!

Tanya Kiani, Mooinooi Noord-Wes

"Waar is ons perfekte baba nou? Wat van al ons drome vir haar? Gaan sy ooit kan loop?"

Ek en my man is altwee atlete en het groot drome vir ons ongebore kinders om goed in sport te presteer. In Junie 2012 het ek uitgevind ek is swanger, ek en my man was vreeslik opgewonde! Hy het sommer klaar na sport skoene en krieket bat's begin kyk! 

Ons het vir al die nodige sonars gegaan en alles met ons baba was perfek. Dit was in Desember 2012 wat ek en my man die eerste keer van iets soos 'n klomp voet gehoor het. Ek was toe ses maande swanger- die dokter se woorde "sy het 'n club foot" het sommer deur my hart geruk....

Daar het duisende vrae deur my gedagtes geskiet! Ek't nie eers geweet wat 'n klomp voet is nie. Die dokter het ons mooi verduidelik en dat dit maklik herstelbaar is, ek en my man was so sterk daar in die spreekkamer, doodse stilte in die kar en toe ons by die huis kom bars ek in trane uit. Waar is ons perfekte baba nou? Wat van al ons drome vir haar? Gaan sy ooit kan loop? 

Ek het probeer om nie meer daaraan te dink nie, net uit te sny uit my gedagtes. Sy is die 22ste Maart 2013 gebore, my oë het dadelik haar voetjie raakgesien. By die huis het ek nooit na daardie voetjie gekyk nie en dit net probeer ignoreer, mens weet dis nie die antwoord nie en mens voel soos 'n slegte ma, maar elke mamma droom van n perfekte kindjie. Na al die aande se stres en bekommernisse het ons haar na die orthopeet gevat toe sy vier daggies oud was.

Hy het haar voetjie met die ponseti metode behandel, dis 'n metode waar geen operasies of breuke nodig is nie, hy strek slegs die voet en spalk hom dan in gips wat weekliks geruil word. Die eerste spalking was vir mamma baie meer traumaties as vir baba, ek kon die trane net nie keer nie, ons het haar weekliks gevat vir die strek van haar voetjie totdat die voetjie 70grade na buite gedraai was in die gips.

Na die vierde stel gips het die ortopeet toe 'n baie klein snytjie omtrent 2mm, in haar enkel gemaak en sy het weer gips gekry vir drie weke. Sy dra nou spesiale 'skaatsplank' skoene permanent vir drie maande en daarna vir die volgende paar jaar moet sy net daarmee slaap. Dit was maar hartseer, want soos ander mammas kon ek nie my pasgebore babatjie bad nie agv die gips, nou sukkel ek om haar lekker vas te hou want haar bene is permanent wydsbeen gespalk. Darm kan mamma haar nou lekker bad elke aand! Sy is nou tien weke oud en die hele proses is amper verby. Haar voetjie lyk pragtig wanneer ons die skoene uittrek, sy is ons perfekte klein lyfie! 

Yvette Engelbrecht. 


Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees