Kos wat jou kind stout maak, feit of mite?

akkreditasie
Kan kos regtig probleemgedrag by kinders aanwakker? Ons het kenners gevra om die feite van die mites te skei.

Waarom lyk ons kinders soos engeltjies op foto’s of wanneer ons met onbeskryfbare liefde na hulle kyk terwyl hulle slaap? As die lyfie op die foto wakker word, verdwyn die engeltjie dikwels in die niet en het min van ons genoeg ekstra energie om moeilike situasies met ons kinders te hanteer.

Daar is nie iets verkeerd met jou of jou kind as haar gedrag jou soms teen die mure wil uitdryf nie. Moeilike, onverstaanbare of selfs onaanvaarbare gedrag kan verskillende oorsake hê, waarvan een dalk kos is.

Wat word as probleemgedrag beskou?

Dit kan insluit van lus teloosheid, swak konsentrasie, oordrewe angstigheid of teruggetrokkenheid tot ’n kind wat aggressief optree, groepsituasies ontwrig, bed natmaak, huilerig of knieserig is, obsessief is, aan slaaploosheid ly, leer probleme het of agtelosig is.

Sulke gedrag kan verskillende oorsake hê. Dis dus belangrik dat jy deur ’n proses van uitskakeling probeer vasstel wat jou kind se gedrag veroorsaak. Dieet kan reeds van babastadium af ’n invloed op kinders se gedrag hê, maar dit is belangrik om te onderskei tussen feite en mites.

Eet gebalanseerd

Kinders se gedrag kan ’n emosionele manifestasie van hul fisieke toestand wees, sê die Pretoriase dieetkundige Marthie Leach.

“Ek sien soms kinders wat die plek wil afbreek met die eerste kuier en nadat hul dieet aangepas is, is daar nie meer sprake van wangedrag nie.” Tensy die gedrag die gevolg van ’n neurologiese toestand is, kan jy dikwels gedragsprobleme laat opklaar deur ’n paar reëls vir ’n gebalanseerde dieet te volg. So
kan jou kinders hulle volle potensiaal bereik, sê Marthie.

Energievlak konstant

Kinders se gedrag wissel as hul bloedsuikervlak wissel, sê Marthie. “Om die bloedsuikervlak konstant te hou is dit belangrik dat jou kind elke drie uur iets eet. “As dié vlak daal, daal jou energievlak, voel jy moeg en prikkelbaar en verswak jou konsentrasie.

Kinders kan dus nie langer as drie uur ononderbroke konsentreer nie – hulle moet eers weer iets eet.”

Dikwels is kinders eenvoudig net te honger om te leer of luister en hul gedrag word verkeerdelik geïnterpreteer as onoplettend, stout, moedswillig of ongehoorsaam, sê Marthie.

Suiker, kleurstowwe en bymiddels

Baie ouers dink hul kinders is “allergies” vir suiker en gevolglik “hiperaktief”. ’n Kind wat op ’n kinderpartytjie anders as normaalweg reageer, is nie noodwendig allergies vir enigiets nie, alhoewel die
kleurstof en bymiddels in die partytjiekos die sondaars kan wees. Sulke kinders word dalk net oorweldig deur die baie maatjies en oorreageer bloot omdat hulle die situasie emosioneel nie kan hanteer nie.

As jy wil toets of dit die kleurstowwe en bymiddels is, skakel dit twee weke lank uit jou kind se dieet en kyk of daar ’n verandering in haar gedrag is, sê Marthie. “As sekere kinders eers rooi lekkers eet, dan groen koeldrank drink, dan ’n hand vol oranje southappies verslind en net om seker te maak, ook ’n lekker taai pienk lekker eet, tree hulle op asof hulle in ’n wentelbaan beland het. Suiker is nie die oorsaak van hul optrede nie – dis die kunsmatige kleurstowwe en bymiddels,” verduidelik die Pretoriase neuropediater dr. Michael Lippert.

“Die kinders is nie allergies vir die produkte nie, maar het ’n biochemiese onverdraagsaamheid daarvoor.” Die gedrag word ook nie noodwendig deur ’n neurologiese toestand soos aandaggebreksteurnis (AGS) of aandaggebrek- hiperaktiwiteitsteurnis (AGHS) veroorsaak
nie.

’n Klein persentasie kinders met AGHS se simptome kan wel in ’n mate deur kleurstowwe en bymiddels in hul dieet vererger word, maar dis nie die rede vir hul optrede nie en daarom word hulle met medikasie gehelp.

Sommige kinders se liggaam reageer dus sleg op sekere kossoorte en dit veroorsaak fisieke newe-effekte wat as emosionele onvermoë of wangedrag uitkom.

Kan kinders dit ontgroei?

Kinders ontgroei hul onverdraagsaamheid vir sekere produkte gewoonlik teen omtrent 18 jaar oud.
Selfs kinders met ’n neurologiese toestand se aanvanklike simptome kan ook teen dié ouderdom verbeter, hoewel sommige volwassenes steeds sekere tekens van aandaggebrek en hiperaktiwiteit toon,
sê Michael.

Pasop vir ’n etiket

Hoewel onderwysers, ouers en vriende natuurlik kan sien in watter rigting kinders se gedrag neig, moet ’n mens nie ’n etiket om jou kind se nek hang nie.

So ’n etiket het emosionele newe-effekte wat verdere skade kan berokken. Jy as ouer is die volwassene en jou reaksie gaan jou kind se gedrag verder beïnvloed. As biologiese of neurologiese probleme die oorsaak van jou kind se probleemgedrag is, gaan dit nie help om te skree en raas nie. Sy het nie beheer oor haar gedrag nie.

Sy’s ’n individu, nie iemand wat in ’n “stout” of “moeilike” boksie gedruk kan word nie.

Hoe kan jy help?

  • As jou kind onverdraagsaam vir kleurstowwe en bymiddels is, help haar deur self ook nie daarvan te eet nie, veral as sy nog te klein is om ’n verduideliking van die situasie te verstaan.
  • Sodra jou kind groot genoeg is om te verstaan, kan jy verduidelik dat sekere goed haar baie sleg laat voel en selfs ’n voorbeeld van ’n vorige situasie ophaal sodat sy nie dink sy word gestraf nie.
  • Sorg dat jou kind se magie vol is as jy gaan kos koop en tussen al die verleidelike lekkergoed by die betaalpunt staan. Jy gaan haar moeilik weerhou van iets wat sy wil hê, weet dus wat sy kan eet deur vooraf na die inligting op die verpakking te kyk.
  • Jou kind bly ’n kind en is nog besig om emosioneel te groei. Dis belangrik dat jy as ouer situasies emosioneel volwasse hanteer en jou kind die regte leiding gee.

Wenke vir 'n gesonde dieet:

Ontbyt is ’n moet

“Begin jou kind se dag reg deur hom ontbyt te gee,” sê die Pretoriase dieetkundige Marthie Leach. “Hy het energie nodig om te konsentreer. Kinders wat ontbyt eet, is dié wat 100 persent skoolbywoning- syfers toon en is min siek, hulle hanteer emosionele probleme makliker, is nie oorgewig nie, het ’n verstandelike voorsprong en hulle spierkoördinasie is beter.”

Kinders kan nie op ’n leë maag en dus leë lyf konsentreer nie. Hulle gaan naar, moeg, prikkelbaar en futloos voel en hulle optrede gaan dit op die een of ander manier weerspieël.

“Jou kind het koolhidrate nodig om die dag mee te begin. As dit ’n deurmekaar oggend is, gee haar een of twee snye brood met grondboontjiebotter op. Dit hoef nie eens gesondheidsbrood met drie soorte sade te wees nie. ’n Sny witbrood sal ook die ding doen.

Prop jou motor se berghokkie vol vrugtestafies, neute en langlewe-vla. Terwyl julle skool toe jaag, druk jy ’n hand vol neute, ’n stafie en ’n boksie vla in elkeen se hand. Geen ouer het ’n verskoning om ’n kind sonder ontbyt af te laai nie!”

Flous met groente

Ons almal weet kinders moet daagliks groente en vrugte eet en as hulle nie besonder baie daarvan hou nie, doen wat Marthie doen. “Flous hulle,” sê Marthie. Kook byvoorbeeld wortels, kool en broccoli saam gaar.

Verpulp dit saam met die groentewater (waarin die voedsaamheid is) en voeg dit by vanaand se maalvleis voor jy die frikkadelle rol. Hulle eet tog te lekker sonder dat hulle weet daar is ’n hoop groente in weggesteek.

Bak wafels met fyngedrukte pampoen. So maak jy pragtige bruin wafels en almal lek hulle vingers af terwyl hulle smul aan wafels (met pampoen) en stroop!”

Moet ek aanvullings gee?

Die Pretoriase neuropediater dr. Michael Lippert is nie ’n voorstander van vitamien- en mineraal- aanvullings nie, behalwe wanneer ernstige tekorte medies gediagnoseer is en dit noodsaaklik is om dié tekorte aan te vul. Hy sê ’n gebalanseerde dieet behoort in die eerste plek voldoende vitamiene en minerale te bevat sodat dit nie nodig is om jou dieet aan te vul nie.

Ernstige tekorte soos ’n ystertekort kan soortgelyke simptome as aandaggebrek- en/ of hiperaktiwiteitsteurnis hê. “As die kleuter se skooljuffrou opmerk dat jou kind angstig of teruggetrokke is, nie aandag gee, luister of konsentreer nie, kan dit dalk ’n ystertekort in sy dieet wees,” sê Marthie.

Moedersmelk

Dis ’n mite dat ’n borsvoedende ma se dieet haar baba se gedrag beïnvloed, sê die Stellenbosse pediater dr. Christopher Pienaar.

Slegs in uiterste gevalle kan ’n ware suiwel allergie byvoorbeeld die baba se gedrag raak as die ma
suiwel drink. Jou dieet kan ook nie babakoliek veroorsaak nie.

Ma’s blameer hulself dikwels as hul baba ’n skreeubui of kwaai krampe kry, veral as die ouer
geslag skimp dat hulle “gister mos al weer ’n tamatie of ’n stukkie ui geëet het”.

Dr. Michael Lippert, neurologiese pediater in Pretoria, verduidelik dit so: As ’n ma uie eet, beweeg
dit deur haar spysverteringstelsel en word in chemiese komponente opgebreek tot net peptiede
uiteindelik oorbly.

Moeders melk bevat dus peptiede en nie uie nie. Boonop word moedersmelk verder biologies gefiltreer voor die baba dit drink. Die baba se liggaam neem die gefiltreerde peptiede op en dit gaan weer deur
haar spys verteringstelsel en dieselfde chemiese proses.

Van uie is daar teen daardie tyd nie meer sprake nie.

In 'n neutedop

Hier is die belangrikste moontlike oorsake van probleemgedrag by kinders.

  • Jou kind toets die grense wat jy gestel het. As jy die grense dan aanpas om by haar wense te pas – onbewustelik, of omdat jy te moeg of moedeloos is om standpunt in te neem – kan dit jou kind verwar en onseker laat voel.
  • Sy stuur ’n boodskap dat sy eintlik kos nodig het en haar emosies is die enigste manier waarop sy dit kan oordra, want sy besef dit dalk self ook nie.
  • Haar gedrag is die gevolg van ’n biochemiese onverdraagsaamheidheid vir kunsmatige kleurstowwe en bymiddels. Dit kan met dieetaanpassing beheer word.
  • Haar gedrag is die gevolg van ’n neurologiese toestand soos aandaggebrek of hiperaktiwiteit, wat professioneel gediagnoseer en meestal met medikasie behandel word.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees