Leer jou kind lees

akkreditasie
Die beste manier om jou kind leesgereed te kry, is die outydse manier: deur van jongs af 'n liefde vir lees by haar te kweek.

Onthou jy nog hoe jy soms snoesig op pa se skoot gesit het terwyl hy koerant lees? Soms het hy sommer die sportstories hardop voorgelees, of die sakeberigte gedeel asof dit ’n sprokie is.
Vandag het jy ’n kleinding van jou eie. Sy’s ’n nuuskierige agie, kan al hardloop en speel en sy gesels graag. En jy wonder wanneer jy haar kan begin leer om te lees ...

Die vraag oor wanneer ’n kind gereed is om te leer lees is taamlik omstrede. Maar ons maak ’n fout deur dit ’n formele saak te maak, deur die klem te lê op die “leer” pleks op die plesier daarvan.

Eintlik is leer lees ’n doodnatuurlike proses. Elzan Frank, ’n leerterapeut van Stellenbosch, sê die kinders wat in hoër grade nog sukkel om te lees word dikwels in huise groot waar daar nie boeke is nie en waar die ouers self nie lees nie. Dis kinders vir wie die geskrewe woord nooit ’n natuurlike deel van hul lewe was nie.

Dit gaan uiteindelik oor taalontwikkeling – en dit begin al terwyl jou kind nog ’n pap baba is en jy met hom gesels, vir hom sing, rympies opsê en storieboeke lees.

In ’n tyd waar die internet, televisie en elektroniese speletjies hoogty vier moet ouers weer dink wat eintlik belangrik is. Daarby is stories lees vir ouers net so lekker as vir kinders; dis ’n heerlike gesamentlike ervaring. En dit skep eendag goeie herinneringe by kinders. “Lees word
gekoppel aan ’n goeie ervaring, ’n warm gevoel van veiligheid en genot,” sê Elzan.

Kyk, my baba kan lees!

Volgens sommige navorsers kan jy tot ’n baba met flitskaarte en prente leer lees. Dit beteken jy moet daagliks ’n leersessie hê waar jy vir baba kaarte wys, die woord noem en dan die prent wys.
Hiermee kan jy egter meer skade as goed doen, sê Elzan.

Die kind maak staat op sy visuele en gehoorgeheue om woorde te onthou. Dit lyk dalk later of hy vlot lees, maar probleme steek kop uit sodra die werklading in die skool meer word. Die basiese fondasie is nooit gelê nie en spelling en om werklik te lees kan vir jou kind ’n probleem word.

’n Kind wat nie die basis van klankleer het of die vermoë om onderskeid te tref nie, sal sukkel om werklik te lees en ook sukkel met begrip van wat hy lees.

Dit gebeur sonder dat jy weet

’n Jong brein begin hom baie vroeër op lees voorberei as wat ’n mens dink, sê Maryanne Wolf in haar boek Proust and the Squid – the Story and Science of the Reading Brain. Die brein gebruik alle rou materiaal wat tydens vroeë ontwikkeling bymekaargemaak word: elke persepsie, begrip en woord.

Al dié inligting word ingespan om die brein se leesstrukture te vorm. Baie van die inligting word ook gebruik wanneer die kind begin skryf.

Dis oor en oor bewys die hoeveelheid tyd wat kinders deurbring deur te luister na hoe ander vir hulle voorlees, dui aan hoe vinnig hulle later sal leer lees en wat hul leesvlak sal wees.

Verbeel jou die volgende: ’n Klein kindjie sit op haar ma se skoot en luister na woorde wat vertel van feetjies en kabouters, groot kastele en meerminne wat diep onder die see die mooiste liedere sing.

Sy kyk na die prentjies terwyl sy luister. Sy leer geleidelik dat die strepe op die bladsy letters vorm, dat letters woorde vorm, dat die woorde sinne word en dat dié sinne ’n storie vertel.

Lees is lekker en maklik

“Daar’s baie wat moet gebeur om die brein leesgereed te kry,” sê Ricka Venter, programdirekteur vir die voorskoolse en grondslagfase van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Dit gaan oor taalontwikkeling. ’n Kind moet eers holisties ontwikkel voor jy hom formeel moet leer lees. Dit moet natuurlik gebeur, sonder enige spanning vir die kind.”

Ontwikkel jou kind se gehoorvermoë

Speel vir hom geluide van diere of voertuie en laat hom dit identifiseer. Vra hom vrae soos “kom die motor aan, of ry dit weg?” Dit leer jou kind om onderskeid te tref tussen klanke en is belangrik wanneer hy begin lees.

Ontwikkel jou kind se waarnemingsvermoë

Pak drie blokkies in ’n ry. Twee lyk eenders, maar een verskil. Vra hom om die blokkie wat anders is uit te haal. Dit leer hom om verskille raak te sien.

Jou kind moet ook geleer word om eendersheid te kan raaksien– jy kan dieselfde oefening doen met iets soos teddiebere. Vra jou kind om die ooreenkomste uit te wys. Hou dit informeel en moenie dat dit ’n les word nie.

Dié ontwikkeling sal sorg dat hy later kan onderskei tussen byvoorbeeld ‘b’ en ‘d’. Hy sal ook die ooreenkomste kan raaksien tussen byvoorbeeld mat en kat.

Maak jou kind lief vir die geskrewe woord

Lees voortdurend stories en rympies. Hy sal agterkom die teks vertel die storie. Laat hom toe om self sy boeke by die biblioteek uit te kies. Lees dit saam met hom, al is dit ’n prenteboek.

Hou dit informeel

’n Kind moenie stremming ervaar wanneer hy “leer lees” nie. Bly weg van formele werkboekies – die tyd sal nog kom dat hy jaar in en jaar uit formeel met die geskrewe woord besig sal wees. ’n Kind wat gespanne is, wil nie leer nie. Dit moet natuurlik gebeur.

Praat baie met hom

As hy jou ’n vraag vra, gee hom ’n behoorlike verduideliking. Gebruik alle opvoedingsoomblikke om jou kind se taal te bevorder: Benoem dinge in die omgewing (blom, stoel, yskas) en laat jou kind self ontdek dat die naam op die ontbytgraanhouer dit is wat hy graag wil eet.

Maak saam boeke van sy eie

Plak foto’s van die gesin in ’n boek en skryf daaronder “pappa”, “mamma” en “kietsie”. Sodra jou kind al ’n bietjie kan saamgesels, kan jy vir hom sy eie “koerantjie” maak. Vra hom wat het hy vandag gedoen. Miskien was hy by ’n partytjie. Laat hom die prentjie teken
en skryf dan daaronder: “Henko het vandag partytjie gehou.”

Naamkaartjies

Wanneer jou kind self woorde begin identifiseer, kan jy begin om kaartjies op die verskillende voorwerpe in die huis te plak. Plak die woord “bed” op die bed en “bad” op die bad. Jou kind behoort agter te kom hier gebeur nou ’n ding en sal belangstel in wat op die
kaartjie staan. Jy kan dan vir hom wys en sê, maar moenie spel nie.

Wanneer is my kind dan gereed om te “leer lees”?

Sodra jou kind vra “wat staan hier?” is dit ’n teken dat hy gereed is om self te begin lees. Teen daardie tyd sal sy onderskeidingsvermoë, waarneming, gehoor en sig – al die dinge wat nodig is om te kan lees – al goed ontwikkel wees.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees