Jy het dalk al gehoor van linker- en regterbrein-denke. Ons lees dikwels in boeke dat linkerbrein-denkers op ’n ontledende manier dink; dis hulle wat die rekenmeesters en wetenskaplikes van die wêreld is. Regterbrein-gebruikers is weer kreatief en “kunstig”.

Dié opvatting is in ’n mate korrek, maar dis ’n oorvereenvoudiging. En dit is nie genoeg om jou te help as jy probeer verstaan waarom jou kind se juffrou sê hy ly aan aandaggebrek- of hiperaktiwiteitsteurnis nie.

Mense weet al van die 19de eeu af dat die linker- en regterbreinhelftes nie heeltemal op dieselfde manier werk nie, maar dié studies het eers in die 20ste eeu werklik momentum gekry. ’n Amerikaner met die naam Karl Spencer Lashley was die eerste neurosielkundige wat met erns die teorie ondersoek het dat spesifieke plekke in die brein verantwoordelik is vir spesifieke funksies.

Sedertdien het navorsing getoon dat die linkerbrein verantwoordelik is vir (onder meer) taal – veral woordeskat –, memorisering van inligting en die vermoë om opdragte, metodes en prosedures te verstaan en te volg.

Die regterbrein is waar visualisering, verbeelding, vergelyking en interpretasie plaasvind en dit is ook die breinhelfte wat jy gebruik om te verstaan en te begryp.

Die probleem met ons skole en universiteite

Wetenskap-gebaseerde vakke vereis dat kinders sekere formules en metodes moet kan toepas en spesifieke feite moet kan onthou. Tale vereis dat hulle ’n groot klomp woorde en grammatikareëls moet
kan onthou. Dit is alles linkerbrein-denkpatrone, en ongelukkig is dit waaraan ons instellings die meeste waarde heg.

’n Oorsig van die toelatingsvereistes vir die meeste grade aan universiteit toon dat wiskunde of wiskundevaardigheid vereis word, selfs vir rigtings wat onder die fakulteit geesteswetenskappe val.
Dit is alles goed en wel as jou kind linkerbrein- dominant is – met ander woorde, as sy linkerbrein oorheers. Sulke kinders vaar oor die algemeen goed in gestruktureerde vakke.

Maar wat van kinders wat regterbreindominant is? Hulle is die Einsteins en Richard Bransons wat die wêreld kan verander, maar vir eers lyk dit of hulle nie die eenvoudigste formule in die eksamenkamer
kan onthou nie. Hulle word dikwels as onderpresteerders beskou.

Dié van hulle wat goed vaar, al is hul regterbrein dominant, kon daarin slaag om hul denkwyse aan te pas en probeer om meer soos linkerbrein-mense te dink.

Die vereistes wat aan ’n leerder gestel word, bepaal in ’n mate watter helfte van sy brein hy gebruik, maar dis nie noodwendig die deel van sy brein waaraan hy voorkeur gee of wat “beter” werk nie.

Hoe 'n regterbrein leer

Regterbrein-kinders sal beter konsentreer as die leerproses kreatief is. Hulle moet die einddoel verstaan, en sal dan dikwels ’n kreatiewe pad daarheen vind. ’n Omgewing met buigsaamheid oor hoe
dinge gedoen word, en wat gereeld kognitiewe uitdagings aan hulle stel, sal hulle die beste pas.

Prente is baie belangrik en help dié kinders baie. As jou kind moet leer hoe donderstorms ontstaan, laat haar eenvoudige prentjies teken van hoe die onderskeie faktore bymekaar inskakel en watter meteorologiese prosesse die storm laat opbou. Met die hulp van die tekening gebruik jou kind haar kreatiewe regterbrein om haar linkerbrein te steun en die belangrike feite te onthou. Hoe kleurryker die prentjie is, hoe beter!

Die prente kan dan in haar kamer opgeplak word sodat sy dit elke dag kan sien, veral kort voor die eksamen. Maar onthou, prentjies help nie net regterbrein-kinders nie; kinders met ’n dominante linkerbrein kan dit ook nuttig vind.

Hoe linkerbrein kinders leer

Aan die ander kant kan kinders met ’n dominante linkerbrein soms sukkel om die groter prentjie te sien. Dis dus belangrik dat die juffrou aan die begin van ’n les die doelstellings van die les duidelik uiteensit
en verduidelik hoe sy daarby wil uitkom, soos om voorbeelde te gee of ’n eksperiment uit te voer.

Linkerbrein-kinders vaar gewoonlik beter met ’n gestruktureerde les waar hulle weet wat die einddoel is. Vir ouers wat hul kinders met huiswerk wil help, is dit belangrik om uit te vind of jou kind weet wat hy veronderstel is om te bereik. Vloeikaarte van prosesse wat gevolg moet word, soos die metode wat gebruik word om die wiskundesom te doen, kan baie nuttig wees vir sowel linker- as regterbrein-dominante kinders omdat dit gou duidelik sal wees of hulle die metode verstaan.

As jy verstaan watter helfte van jou kind se brein oorheers, kan jy begin verstaan waarom hy dalk sukkel met ‘n taak. As hy ’n dagdromer is wat roetine en herhaling haat, is sy regterbrein heel waarskynlik die sterkste. In dié geval gaan hy ekstra ondersteuning nodig hê – verkieslik wat pas by die manier waarop sy brein bedraad is – om sukses op skool te behaal. Dit beteken egter nie hy is onnosel nie. Hy’s doodeenvoudig iemand wat anders dink.

Watter kant verkies jou kind?

Tekens dat jou kind se linkerbrein dominant is

  • Hy is bewus van tyd en is meestal betyds.
  • Hy hou van struktuur en orde, en raak gefrustreerd as daar ’n chaos en voortdurende onsekerheid heers.
  • Hy benader probleme logies, soos om eers aanwysings te lees.
  • Hy verkies dit om dinge in volgorde te doen.
  • Hy hou nie van verandering nie en verkies roetine en voorspelbaarheid.

Tekens dat jou kind se regterbrein dominant is

  • Jy vang haar dikwels dat sy sit en dagdroom.
  • Sy het ’n baie lewendige verbeelding.
  • Sy verpes roetine en herhaling. As sy verveeld is, kan sy soms ontwrigtend raak.
  • Sy is geneig om dinge tot die laaste oomblik uit te stel, veral as dit ’n taak is waaraan sy gewoond is.
  • Sy kan soms impulsief optree.
  • Sy sal eerder instinktief optree as om ’n situasie te deurdink.

Breinvoeding

Jou kind se brein is in die eerste twee lewensjare baie sensitief vir voeding.

  • Voorsien jou baba van gesonde vette wat die brein bou. Goeie bronne is olierige vis soos salm, vars tuna, makriel, forel en sardyne, asook lynsaad en pampoensaad, en omega 3-verrykte eiers.
  • Lees voedsel-etikett  en vermy transvette ten alle koste.