Maak 'n optimis groot

akkreditasie
Die kosbaarste geskenk wat jy jou kind kan gee is om hom toe te rus met die selfvertroue en optimisme wat hom laat floreer ongeag die uitdagings wat oor sy pad kom.

Navorsers dat al meer kinders aan depressie ly – en dis veral pessimistiese kinders wat kwesbaar is. Wat kan jy doen om jou kind teen depressie te bekerm en hom ’n optimistiese lewensbenadering te leer? Twee kinderdepressie-ghoeroes het raad.

Ons almal wil meer as net ’n gesonde liggaam vir ons kinders hê. Ons wil hê hul lewe moet gevul wees met vriendskap en liefde en groot dade. Ons wil hê hulle moet leergierig wees en lus om uitdagings aan te pak. Ons wil hê hulle moet dankbaar wees vir wat hulle ontvang en trots op dít wat hulle self bereik het. Ons wil hê hulle moet selfvertroue hê sodat hulle die toekoms kan stormloop.

En boonop wil ons hê hulle moet sterk wees teen die aanslae van die lewe en teen mislukking. Hulle moet kinders wees kinders wat lief is vir avontuur en ’n sin vir regverdigheid het.

En, sê Martin E. P. Seligman, skrywer van die boek The Optimistic Child: Dit is heeltemal moontlik om kinders met al die bogenoemde eienskappe groot te maak. Maar jy kan dit doen net as hulle van kleins af immuun gemaak word teen pessimisme en depressie.

Ja, dis waar. Jy kan ’n kind grootmaak wat gló hy is in staat om sy eie drome te bewaarheid. Die gesegde lui nie verniet nie: As jy glo jy kan iets doen, kán jy . . . En dit is die kernverskil tussen pessimisme en optimisme.

Deesdae ken almal van ons iemand wat aan depressie (of ’n vorm daarvan) ly. Hulle geniet nie meer die lewe nie, en as hulle ’n hou toegedien word, glo hulle hulle is heeltemal winduit en dit gaan lank duur voor hulle weer hul asem terugkry.

’n Pessimistiese ingesteldheid, sê Martin, is dikwels die saadjie wat tot depressie kan ontkiem. En dis skrikwekkend om te dink dat depressie nie net tot volwassenes beperk is nie. Dis vinnig besig om baie van ons kinders ook in ’n diep , donker put af te trek. Selfs die kleinste, doodnormale aanslae van die lewe trek hulle plat. Hulle neem dit persoonlik op en weet nie lekker hoe om dit te hanteer nie.

“Stres en trauma, gesinne wat verbrokkel, leerprobleme, alkohol- en dwelmmisbruik en ’n ongesonde leefstyl wakker ook depressie aan,” sê Liesl van der Sandt, spelterapeut by die Kinder-traumakliniek in Garsfontein, Pretoria. Liesl het voorheen in die buiteland gepraktiseer en onder meer gewerk met getraumatiseerde oorlogsvlugtelinge en weeskinders van destydse geweldsbrandpunte soos Kosovo en Sierra Leone.

Sy sê ons moet onthou dat ’n kind ook bekommernisse kan hê wat hom soms terneergedruk laat voel. Ons moet versigtig wees om nie kinders se bekommernisse as onwerklik of ongeldig af te maak nie.

Maar nes Martin meen Liesl ook dat ons pessimisme en kinderdepressie kan voorkom as ons beskikbare hulpmiddels inspan . . .

Dit begin op dag 1

Die eerste 2 jaar van ’n baba se lewe word hoofsaaklik deur sy hulpeloosheid gekenmerk. ’n Pasgebore baba is heeltemal hulpeloos en reageer op reflekse. As hy huil, kom tel mamma hom op, maar hy huil nie om haar te roep nie. Sy gehuil is eenvoudig ’n refleks-reaksie op pyn of ongemak; dis nie iets wat hy kies om te doen nie.

Later leer dié klein japsnoet egter dat hy sy omgewing kan manipuleer deur sekere goed te doen. Hy leer dat wanneer hy huil, kom tel sy mamma hom op. En dat hy sy handjies kan gebruik om voorwerpe te vat.

Jou kind se eerste 2 jaar is die wegspringblok vir sy gemoedstoestand vir die res van sy lewe. As jy hom nou verwaarloos en dikwels onseker laat voel oor jou liefde, is die kans baie goed dat hy ’n knou gaan kry.

Dís waarom soveel kenners deesdae beklemtoon dat babas nie bederf kan word nie. En selfs babas kan depressief raak. Liesl sê een van die grootste oorsake van depressie by babas en kleuters is hul persoonlike omstandighede en omgewingsfaktore.

“Die literatuur praat soms van ‘infant depressive disorder’, wat al tussen 4 en 6 maande oud by ’n baba waargeneem kan word. Dis gewoonlik babas wat glad nie lag nie of kontak maak met die mense om hulle nie. Hulle toon geen uitdrukking nie sluit hulle emosioneel van die wêreld om hulle af.

“Dié babas slaap nie goed nie, sosialiseer glad nie graag nie, eet nie goed nie, hulle gewig ry wipplank en hulle is lusteloos,” sê Liesl.

Babas is buitengewoon sensitief vir hul omgewing en die mense daarin. As mamma depressief is, kan dit ’n groot invloed op haar kind of baba se gemoedstoestand hê.

“ ’n Ma met depressie moet dus so gou moontlik behandel word om haar baba op lang termyn te beskerm,” sê Liesl.

Laat jou kind self optimisme leer

Martin se navorsing wys pessimisme (en optimisme!) kan aangeleer word. Aangeleerde pessimisme kan jou daarby hulpeloos laat voel.

Hy het twee groepe muise vir sy navorsing gebruik. Die eerste groep is in ’n houer met water geplaas, maar in die middel van die houer was ’n eiland onder die water weggesteek. Nadat die muise ’n hele ruk lank geswem het, het hulle die eiland onder hul pootjies “ontdek” en daarop gaan rus.

Hy het presies dieselfde met ’n tweede groep muise gedoen, maar sonder ’n eiland. Die muise het geswem tot hulle só pootuit was dat hulle byna verdrink het.

Martin het daarna albei groepe muise saam in ’n houer met water geplaas. Die eerste groep het (optimisties) bly swem en die eiland gesoek terwyl die tweede groep baie vinniger moed verloor en baie vinniger byna verdrink het, juis omdat hulle al die eerste keer geleer het dat die situasie hopeloos is.

Met dié eksperiment het Martin gewys dat as ons sukses ervaar deur ons eie doelbewuste pogings, skep ons ons eie optimisme.

En dit is juis om dié rede dat jy jou kind die vryheid moet gee om self sy eie optimisme te ontdek.
Natuurlik moet jy vir hom ’n veilige omgewing met grense skep waarin hy dit kan doen, maar jy moet hom die geleentheid gee om self te leer dat hy in staat is om sekere goed te doen.

In sielkunde is daar ’n hele beweging wat bekend staan as die selfbeeld-beweging. Dié kenners glo dat jy jou kind se selfbeeld van sy eerste bewuswording moet opbou en sterk maak.

En hoewel Martin hiermee saamstem, waarsku hy tog dat jy nie jou kind om die bos moet probeer lei nie.

Kyk maar na die volgende voorbeeld:

’n Klein boetie en sy ouer sussie sit op die mat en verf. Die sussie se prentjie is pragtig, terwyl die kleintjie s’n maar taamlik daarteen afsteek. Om kleinboet goed te laat voel oor homself, vertel die pappa in oordrewe taal hoe pragtig sy seun se prent is en dat dit net so mooi is soos sy sussie s’n.

Maar sussie steur haar min aan dié bravade. En boetie kan mos self sien sy sussie se prent is mooier! Pleks daarvan dat sy pa maar net vir hom verduidelik dat syne ewe mooi sal wees wanneer hy ’n bietjie groter is en as hy gereeld oefen, het hy ’n vals en ongeloofwaardige prentjie geskep, al was dit met goeie bedoelings.

En sy ongeloofwaardige woorde het sy seun net nog hulpeloser laat voel.

“Depressie is die siekte van individuele hulpeloosheid en individuele mislukking. As ons te hulpeloos voel om ons doelwitte te bereik, ly ons aan depressie. Hoe meer ek dink dat ek al is wat saak maak en hoe meer ek dink dat my doelwitte, my sukses en my plesier al is wat in die lewe gaan tel, hoe pynliker raak dit as ek misluk,” sê Martin.

Die lewe behels nou maar eenmaal mislukking en hulpeloosheid ook en al wil jy jou kind toevou en vir ewig daarteen beskerm, kan jy ongelukkig nie. Jy kan hom eerder van kleins af immuun maak daarteen deur hom op sy eie dinge te laat ervaar en mislukking te leer verwerk.

Die geheime van ’n optimistiese kind

Martin noem ook ander maniere waarop jy jou kind kan leer om ’n optimis te wees:

  • Slegte gebeure is net tydelik. As hy sê: “Niemand wil ooit met my maatjies wees nie”, leer hom eerder om in te sien dat dit tyd verg om nuwe maatjies te vind, veral in nuwe situasies.
  • Goeie gebeure is permanent, soos om te weet dat ek gewen het omdat ek hard geoefen het.
  • Sekere situasies en oorsake is spesifiek. Hy voel dalk hy is ’n patetiese sportman omdat hy baie sleg gevaar het met ’n spesifieke sportsoort, maar laat hom verstaan dat dit net (sê maar) tennis is waarmee hy vandag nie so goed gevaar het nie.
  • Blameer ’n spesifieke situasie eerder as hom persoonlik. “Ek is gestraf omdat ek my sussie geklap het,” is beter as “ek is gestraf omdat ek ’n slegte kind is”.

Kritiek wat opbou

Kinders leer hul manier van dinge sien meestal by hul ouers, onderwysers en afrigters. Hulle luister hoe volwassenes hulle kritiseer en absorbeer die styl sowel as die inhoud van die kritiek soos klein sponsies.

Pleks daarvan om vir jou kind te sê hy is lui, kan jy liewer sê: ”Jy probeer nie vandag hard genoeg nie.”

“Onthou, jou kind luister fyn na hoe jy sy foute interpreteer en boots jou styl na. As jy ’n pessimis is, gaan jou kind dit by jou leer,” sê Martin.

Klop kinderdepressie só:

Die saadjie van depressie is dikwels oorerflik en ontkiem dan in die aanwesigheid van trauma, stres, groot veranderings soos immigrasie, selfs verhuising. Maar hoewel ’n mens niks aan die oorerflikheidsfaktor kan doen nie, kan jy voorkom dat dit verder gevoer word, sê Liesl van der Sandt.

  • Handhaaf ’n gesonde gesinsomgewing en ’n warm atmosfeer by die huis. Dit moet vir jou kind lekker by sy huis wees. Julle huis is ’n veilige hawe waar hy sy probleme kan deel, kan speel, liefde en geborgenheid kan ervaar en getroos kan word as hy seerkry.
  • Wees sensitief vir jou kind se emosionele behoeftes sodat hy altyd gelief, geborge, versorg en veilig voel.
  • Help jou kind om sosiale probleme op te los sonder om heeltemal oor te neem.
  • As jy self ’n positiewe gesindheid teenoor die lewe het, sal jy dit aan jou kind oordra.
  • Maak seker dat jou kind vir trauma behandel word indien nodig. Onbehandelde trauma kan tot post-traumatiese stresversteuring lei en ook depressie veroorsaak.
  • Laat jou kind weet hoe onvoorwaardelik lief jy vir hom is, nes hy is.
  • ’n Uitgebreide ondersteuningstelsel is belangrik vir kinders, veral as hulle weet nie net mamma en pappa nie, maar ouma en oupa en ’n oom of tannie is net so lief vir hulle.
  • Laat jou kind weet dat jy altyd daar is vir hom en dat hy met al sy vrae en probleme na jou toe kan kom.

’n Optimistiese kind binne ’n dag

Oggend

  • Maak hom wakker met ’n glimlag en sorg dat hy sáám met jou glimlag – al moet jy jou gesig op vreemde maniere trek!
  • Vertel vinnig vir hom in ’n paar sinne van al die wonderlike goed wat dié dag gaan inhou. Probeer positiewe dinge uit alledaagse goed te haal.
  • Kyk by die venster uit en wys hom hoe wonderlik die natuur is. Daar is voëltjies, bome, ’n sonnetjie en hope gras om op te hardloop!
  • Moedig hom aan om dinge self te doen en prys hom as hy dit regkry. Daar steek baie waarde in lof op die regte tyd.

Middag

  • Gee hom gesonde kos en geniet dit saam met hom. Gesels ’n slag oor al die lekker geure, smake, teksture en kleure. Vra hom hoekom hy van sekere goed hou. Selfs groente eet kan uit ’n optimistiese oogpunt beskou word.
  • Maak tyd om ’n rukkie saam met hom te speel. ’n Ouer kind hou van mededingende speletjies – laat hom toe om soms te wen en verloor. Die kere dat hy verloor, is net so belangrik soos sy oorwinnings sodat hy kan besef dit is glad nie so erg om soms aan die kortste ent te trek nie.
  • Help hom ook om met ander maats te sosialiseer. Moenie dadelik inmeng as daar rusies is nie en moenie persoonlik raak as jy wel tussenbeide tree nie.

Aand

  • Gesels oor die dag se gebeure. Vind uit wat hom kwaad of hartseer gemaak het en hoekom dit hom so laat voel het. Probeer die situasie ontleed – die feit dat sy maatjies met hom mislik was, is mos net ’n tydelike ding. En môre moet hy dalk eerder met iemand anders speel wat ook alleen is.
  • Laat hom lekker voel oor homself. Vertel hom hoekom jy vandag saam met hom geniet het. Jy het lekker vir sy grappies gelag, heerlik saam met hom gespeel en hy is regtig ’n dierbare seuntjie. Sê dit! Dit sal hom positief oor homself laat voel.
  • Laat hom ook vertel van al die goed wat vandag vir hom lekker was. En met daardie gedagte kan hy heerlik afsit droomland toe . . .
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees