Amanda Weber, ’n dieetkundige in Greenside, Johannesburg, bied die volgende wenke:

  • Vermy konflik ten alle koste – al laat dit jou bloeddruk styg as jy gereeld teen ’n onaangeraakte bord kos moet vaskyk. As jou kind later honger is, bied hom weer dieselfde maaltyd aan.
  • Probeer om minstens 3 keer per week as gesin almal saam te eet en nié voor die televisie nie. Kies dan eerder ’n lekker boom in die tuin waaronder julle kan eet, of geniet selfs ’n wegneemete by die dam. Kinders moet sien dat almal saam eet en dit geniet. Dit sal hulle ’n gevoel van samehorigheid gee.
  • Maak etenstyd en dít wat daarmee geassosieer word, pret! Laat die kleuters die servette maak (soos ’n gewone wit papierservet waarop hulle geteken het) of laat hulle oulike servetringe prakseer uit natuurlike materiale. Laat hulle self die tafel versier met blomme, skulpe (as hulle visvingers eet) of gekleurde linte.
  • Hou piekniek. Soms sukkel kleintjies om met eetgerei te eet – laat hulle toe om met hul handjies te eet.
  • Eet Chinees, m.a.w. met stokkies (om dit avontuurlik te maak). Laat hom toe om met sy handjies te eet as hy sukkel.
  • Laat hulle self kies die kleur melk vir hul ontbytpap kies (gewone voedselkleursel werk soos ’n bom. Gooi eerder self ’n paar druppels by die melk).
  • Selfs kapokaartappels kan gekleur word. Daar is niks so opwindend soos grasgroen kapokaartappels nie!
  • As jou kind byvoorbeeld net ertjies en wortels eet, laat dit teenwoordig wees met elke ete, maar probeer steeds een nuwe groente of gereg twee maal per week.
  • As jou kind net vrugte eet en nie sy mond aan groente wil sit nie, maak seker daar is hope vrugte in maklike eetbare happies regdeur die dag beskikbaar. Onthou, vrugte bevat gelukkig hope vitamiene.
  • Maak vrugte- en groentedrankies. Dit werk baie goed as jy met min groente begin en geleidelik meer wortels en beet byvoeg. Gee dit name waarby jou kinders aanklank sal vind, soos Spider-Man-sap Superspiere-skommels.
  • As jou kind groot genoeg is om neute, sade en gesondheidstafies te eet sonder om te verstik, kan jy dit gerus vir hom gee. Dis ’n goeie bron van proteïene en gesonde vette.
  • Maak seker hy peusel aan gesonde goed soos droëvrugte, fyn biltong, Provita met gerasperde kaas, gekookte eier, kersietamaties, komkommerstokkies, hawermoutkoekies, avokadopeer, roomkaas, springmielies, ensovoorts.
  • Voeg fyngemaalde neute by jogurt of sy ontbytpap.
  • Voeg fyngemaalde biltong by Marmite-toebroodjies of selfs by kapokaartappels.
  • Soms werk kamoeflering . . . Probeer sultanas of rosyne of ’n stukkie kaas by vleisballetjies inwerk. Of murgpampoentjies by maalvleis of pastasouse.
  • Maak vrugte- en groente-kebabs (die kleurkombinasies inspireer kinders).
  • Ons weet tamatiesous is gewoonlik ’n gunsteling en dis boonop gesond.
  • Eiers is die wondervoedsel wat jy nooit moet onderskat nie. Dit is hoog in proteïen, chroom, al die vitamien B-groepe en yster, en alle kinders (behalwe dié wat allergies is) behoort ’n eier ’n dag te kry in die vorm wat hulle verkies.
  • Dadelballetjies, wat bestaan uit gesmelte dadels, botter en klapper is ’n goeie, gesonde bron van energie, vet en kalium.
  • Gee droëvrugte of geblikte vrugte as jou kind dit verkies. (Droëvrugte is veral belangrik om die energie en koolhidraatinhoud te verhoog en die energiewaarde kan verder verhoog word deur vla of bevrore jogurt by te voeg.)
  • As jou kind nie van vleis, vis of hoender hou nie, beproef gerus sojaprodukte. Fry’s se produkte is hoog in proteïen.
  • Moet nooit jou kind met kos of lekkers beloon nie.
  • Beperk lekkers tot een of twee bederfies per week. (Koop happiegroottes of piepklein 50g-pakkies.)
  • Alle kinders het ’n multivitamien-aanvulling nodig, selfs al eet hulle goed. Deesdae het die kos wat ons eet baie minder voedingswaarde as vroeër en ’n aanvulling kan jou kind net goed doen.
  • ’n Multivitamien-aanvulling wat spesifiek sink bevat, stimuleer aptyt.
  • Die essensiële olies (omega 3 en 6) is noodsaaklik vir die optimale ontwikkeling van jong kinders en word selde net deur kos verkry. ’n Aanvulling is dus nodig.
  • Melk wat ouderdomspesifiek is, kan werklik ’n aanvullende rol speel.

Bel Amanda Weber by 011-646-8203.