Ontspanning goed vir ontwikkeling

akkreditasie
Genoeg ontspanning is net so belangrik vir jou kind as beweging. Leer jou kind om tot rus te kom - dit bou emosionele stammina en selfvertroue

Ontspantyd is wanneer jy doen wat waarlik vir jóú lekker is en so jou sintuie tot bedaring bring.

“In die ou dae het kinders op die gras gelê en vir die wolke gekyk, maar vandag ontspan hulle nie meer so nie,” sê die Johannesburgse arbeidsterapeut Elsie Labuschagne. “Nou word kinders se sintuie ge- bombardeer met sensoriese inligting en wanneer dié sensoriese stres te veel word, moet hul batterytjies herlaai word.”

Elke liggaam het ’n natuurlike rypwordingsproses. Ontspanning gee die senustelsel kans om volwasse te word en gewoond te raak aan al die sensoriese invloede wat ’n kind elke dag moet verwerk, sê Nolene Rust, ’n spelterapeut van Pretoria.

’n Blaaskans help ’n kind ook om sy emosies te reguleer. Dit is noodsaaklik vir optimale groei en ontwikkeling.

Kinders wat hulself nie die geleentheid gun om af te skakel nie, se gesondheid kan daaronder ly. Daar’s kinders wat hardlywig word omdat hulle nie tyd wil maak om op die toilet te ontspan nie – die wêreld is dan so groot en daar’s nog so baie om te ontdek!

Ann Richardson verduidelik in haar boek Koester jou Kleuter hoe dit werk: Babas en kleuters interpreteer hul wêreld met hulle sensoriese stelsel.

Sintuie help jou om sin van jou wêreld te maak. Sensoriese inligting word van die liggaam na die rugmurg en die brein (sentrale senustelsel) geneem. Die sensors in ’n kind se senings, spiere en gewrigte gee hom so inligting oor die wêreld om hom.

As sy sensoriese stelsel met insette oorstroom word, word die stelsel oorlaai, wat kan lei tot prikkelbaarheid, huilerigheid of hiperaktiwiteit.

Vir ontspanning moet oormatige stimulering uit die omgewing verwyder word.

SY LYFIE WAARSKU JOU

Omdat jou kind nie sy behoefte aan ontspanning kan verwoord nie, moet jy leer om sy noodkrete raak te sien, sê Elise. Tekens van oormoegheid sluit in:

  • ’n Baba trek sy rug op ’n boog.
  • Kleuters en babas draai weg van mense en maak hul oë toe.
  • Hulle suig ’n vinger of ’n hand.
  • Hulle maak buitensporige mondkontak met voorwerpe, soos om ’n strooitjie te kou.
  • Hulle soek na tassin-insette soos om opgetel te word.
  • Hulle kerm en wil gaan lê.

PRAKTIESE ONTSPANNINGSRAAD

Wat jy kan doen om te help

Ouers kan baie doen om hul kinders te help om hul gedrag te reguleer, sê Elsie. “Om ’n kalmerende omgewing te skep moet jy jou lyftaal en stemtoon aanpas: Beweeg stadiger en ritmies, praat sagter en
stadiger en hou jou stemtoon laag. Skakel jou rekenaar en selfoon af.”

Hier is ’n lys voorstelle van Elsie – aangevul met voorbeelde uit Koester jou Kleuter deur Ann Richardson – vir hoe jy jou kind kan help om sy sintuie tot bedaring te bring.

1. Beweging (vestibulêre sintuig)

Stadige heen en weer bewegings kalmeer.

  • Sus jou baba
  • Wieg hom in jou arms of skommelstoel
  • Swaai hom ritmies in 'n swaai, hangmat of kombers wat julle vashou

2. Propriosepsie

Stabiele posisies en beweging teen weerstand kalmeer.

Stabiele posisie: Draai jou kind styf in 'n handoek toe.

Beweging teen weerstand:

  • Laat hom in die tuin help
  • Trek toe
  • Laat hy klim
  • Laat hom houers druk waaruit iets kom, soos room of seep
  • Laat hom vloeistowwe giet
  • Vra hom om iets fyn te maak
  • Hy kan met wondergom speel
  • Hy kan borrelplastiek laat bars
  • Laat hom koubare of harde kos soos hawermoutkoekies eet
  • Hy kan met klei of boontjiesakke speel

3. Gehoorsintuig

Ritmiese of bekende klanke kalmeer

  • Speel klassieke en Barokmusiek
  • Laat hy na natuurklanke luister
  • Sing gunsteling liedjies oor en oor
  • Laat hom na die getik van 'n horlosie luister
  • Praat in 'n rustige stemtoon
  • Beperk klankprikkels soos die TV en radio.

Reuksintuig

Bekende reuke kalmeer, soos die geur van sy houers, vanielje of laventel em lekkerruik speelgoed. Een van die tendense vanjaar is aromaterapeutiese speelgoed.

Smaaksintuig

  • Bekende en soet smake kalmeer.
  • Sy gunsteling kos of soet smake troos
  • Laat hom jogurt deur 'n duk srooitjie suig
  • Laat hom toffies of gom lekkers kou.

Tassintuig

Die tassintuig word gekalmeer deur diepdruk-aanraking, neutrale warmte, sagte, gladde teksture en deur dinge in die mond te steek of met die mond aan te raak.

  • Hanteer jou kind ferm en gee stewige drukkies.
  • Masseer hom. Dit laat streshormone afneem en stel goedvoelhormone soos endorfiene en melatonien vry wat jou kind vaak maak. Jy kan ook jou kind se voorkop streel of sy hande en rug vryf terwyl jy langs hom lê voor hy gaan slaap.
  • Vryf hom ná badtyd met ’n warm handdoek.
  • Laat hom onder ’n swaar kombers slaap.
  • Maak ’n “toebroodjie” met kussings waarvan hy die “vulsel” is.
  • Verskaf sagte, syerige klere, beddegoed en speelgoed.
  • Laat hom suig: aan ysies, ’n suigstokkie, sy vingers of deur ’n strooitjie.
  • Laat hom kou aan krakerige kos, ’n waslap of plastiekbuise.
  • Laat hy kos van ’n lepel af lek.
  • Laat hom toffies of gomlekkers kou.
  • Hy kan met water en/of sand speel.
  • ’n Warm bad laat ’n mens se liggaam en gees ontspan. As jou liggaamstemperatuur val, maak dit jou vaak. ’n Warm bad verhoog jou kind se liggaamstemperatuur vir ’n kort rukkie en wanneer daardie temperatuur dan val, voel hy vaak.
  • Dit is belangrik dat jy jou kind se badtyd beplan om saam met sy slaaproetine te val.

Sigsintuig

Natuurlike kleure en dowwe lig kalmeer.

  • Hou die kleure in die slaapkamer neutraal en pastelkleurig.
  • Hou beligting sag en vermy flitsende ligte.
  • Lê saam op die gras en kyk na die wolke of blare.
  • Blaas borrels en hou dit dop.
  • Lawalampe sal jou kind ook kalmeer.
  • Lees ’n storie: Julle kan baie stories lees maar dis wys om altyd met dieselfde slaaptydstorie af te sluit.

Die rol van televisie

Omdat jong kinders nog nie ’n duidelike skeidslyn tussen fantasie en werklikheid kan maak nie, vind hulle fantasie net so skrikwekkend as realiteit en wat op televisie gesien word, is eg. Dit wat hulle sien, kan hulle nagmerries gee en veral nuusstories kan hulle erg ontstel, want hulle verbeel hulle dikwels iets soortgelyks kan met hulle gebeur.

Dit maak hulle angstig en kan hulle uit die slaap hou. Die Johannesburgse sielkundige Karin Steyn verwys na navorsing wat verlede jaar in die Amerikaanse tydskrif Pediatrics verskyn het, wat gevind het dat alles soveel vinniger op TV gebeur – daar is nie ’n realistiese ervaring van tydsverloop soos in die
regte lewe nie – dat kinders verleer hoe om geduldig te wees.

TV kyk kan kinders se aandagspan verkort en 10 persent van gereelde kykertjies ly aan aandaggebrek. Die studie waarsku TV oorstimuleer en kan ’n ontwikkelende brein permanent herbedraad.

Goeie ontspanningstegnieke

Maklike joga vir kinders

Kleuterjoga is ’n kreatiewe manier waarop kinders die stilte in hul self kan ontdek. Kleuterjoga leer hulle ontspanning, selfbewussyn, koördinasie, beheer, selfvertroue, balans, emosionele stamina, asembeheer, fokus en sensoriese integrasie. In Johannesburg: Yoga 4 Kids (Fourways, Rivonia en Craighall Park). Tel. 011-234-3891.

Prettige asemhalingstegnieke

Dis baie ontspannend om diep asem te haal. Die kuns is om al die pad tot in jou maag asem te haal.

  • Sit ’n plakker op jou kleuter se maag en laat sy kyk hoe dit op en af beweeg.
  • Plaas haar hand op haar maag dat sy kan voel hoe die asem in- en uitgaan.
  • Laat sy haar verbeel haar maag is ’n ballon wat opgeblaas word as sy inasem en dan weer afgeblaas word.
  • Kinders kan ook diep asemhaling met reuk oefen. Laat jou kind ’n laventelkers diep inasem.
  • Laat sy een neusgat met haar ringvinger toehou en diep inasem, en dan weer deur die ander neusgat uitblaas. Herhaal die oefening ’n paar keer met albei neusgate.

Stilwordplekkie

Die Johannesburgse arbeidsterapeut Elsie Labuschagne noem dit ’n womb space. Dis ’n wegkruip- en stilwordhoekie waarheen jou kind kan gaan as sy oorweldig voel: ’n klein tent vol kussings, ’n groot pofferige sitsak, ’n gunstelingkombers of ’n tonneltjie.

Jou kind se hawe

Jou kind se slaapkamer is haar veilige hawe en ontspansone en moenie met straf of dissipline verbind word nie. As jy dus afkoeltyd inspan, moet die strafhoekie of -kamer nooit die slaapkamer wees nie.

Visualiseringstegnieke

Al ooit daaraan gedink om te maak of die matras warm roosterbrood is en jy die botter wat daarin smelt? Dis geweldig ontspannend! Op die webtuiste www.yourfamilyclinic.com/adhd/relax.htm is daar ’n reeks visualiseringstegnieke wat daarop gemik is om kinders te laat ontspan.

Twee van die oefeninge behels dat jou kind maak of sy al die sap uit ’n suurlemoen druk en daarna die suurlemoen laat val – dit ontspan haar hand- en armspiere. In ’n ander oefening moet jou kleuter haar verbeel ’n olifant kom op haar afgeloop en moet sy haar magie so styf moontlik trek sodat die olifant haar nie plattrap nie. Maar dan kies die olifant koers en sy kan haar magie heeltemal laat ontspan.

Ontspanningsmusiek- en hipnose-CD’s

Gaan kyk gerus by enige goeie musiekwinkel of op Kalahari of Amazon – daar is ’n hele aantal CD’s in hierdie genre beskikbaar. Pick ’n Pay het ’n Butterfly Kids-reeks vir kinderontspanning.

Lag is die beste medisyne

Speel om jou kleuter te laat lag sonder om die gelag uit te dwing – kielie is dus verbode. Kyk wat jou kind laat lag en doen dit oor en oor. Dit laat jou kind ontspan en gee selfwaarde en sekuriteit. En natuurlik is dit lekker vir almal as sy lag.

Voorstel: Speel “ek het duisend soene vir jou” en probeer om haar te vang om een van daardie soene op haar te plant. Laat jou kind dikwels wegkom, maar so af en toe kan jy jou soen mooi strategies op haar plant.

Hipnose

Kliniese hipnoterapeute kan ontspanningshipnose met kinders doen en hulle veral selfhipnosetegnieke leer vir onbewuste, selfkalmerende gedrag. Bel Sasch (SA Society for Clinical Hypnosis) by 012-348-1342 of 012-348-5795 vir nog inligting.\

Nare gedrag

Sommige kinders grawe in hul neus, suig hul hare, kou hul naels, drink badwater, speel met hul geslagsdele, stamp hul kop of suig duim. Dis alles selfkalmerende gedrag.

Hoekom? Dis dan so ’n verleentheid!

Baie kinders grou in hulle neus om te ontspan of omdat hulle niks anders het om te doen nie. Die Australiese borsvoedingskonsultant en kleutermasseerder Pinky McKay noem dit boredom busters. Liggaamsdele sorg vir ’n sensoriese ervaring en liggaamsgaatjies is fassinerende plekke met lekker, nuwe teksture.

Hoe jy kan help

As jy haar aandag die heeltyd daarop vestig, gaan dit die gedrag eerder aanvuur en uitrek. Probeer om dit te ignoreer. Jou beste wapen is om jou kind se aandag af te trek.

  • Hou haar hande besig.
  • Gee haar ’n boek of vingerpop.
  • Speel ’n vingerspeletjie soos Duimpie, Duimpie se Maat.
  • Hou haar handjie vas en gesels met haar.
  • Gee haar jou karsleutels om mee te vroetel.
  • As neuskrappery die probleem is, gee haar ’n snesie elke keer as sy soontoe mik.
  • Probeer ook vasstel of daar enige ander rede vir die gedrag is, soos verveling, allergieë of ’n behoefte aan sensoriese stimulasie om haar senustelsel beter te ontwikkel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees