Pak die boelie by die horings

akkreditasie
Help jou kind en vat die boelie vas met hierdie stap-vir-stap plan.

Skielik ken jy jou kind nie. Hy eet sleg, hy’s weer bang vir die donker en het selfs weer begin bed natmaak. Dan, ná baie uitvra, paai en troos, kom hy met die sak patats vorendag: Hy word geboelie.

Eers was dit ’n rondstampery en afknouery, maar nou word sy toebroodjies afgevat. Hy is bang wanneer die pouseklok lui, maar nog banger om vir sy juffrou te gaan sê.

Help jou kind en vat die boelie vas met hierdie stap-vir-stap plan.

1. Kry jou feite agtermekaar

Probeer soveel besonderhede moontlik by jou kind kry. Wie is die boelie en wat het hy gedoen? Waar het dit gebeur? En wanneer? Word ander kinders ook geboelie? Kry die inligting deur op ’n ontspanne, deernisvolle manier met jou kind te gesels, dalk oor die naweek. Verseker hom op ’n rustige manier dat jy weet wat om te doen en dat jy hom sal beskerm.

Onthou net ’n kind se tydsbegrip is anders as ’n volwassene s’n, wat dit moeilik kan maak om vas te stel hoe lank die geboelie al aan die gang is. Verwys na ander gebeure om hom te help, soos: Het hy jou al seergemaak toe dit kaskardag was?

2. Lig die onderwyseres in

Maar bly kalm! Jou kind se juffrou het waarskynlik nie geweet wat aangaan nie. Moet haar nie vinnig voor skool konfronteer wanneer julle albei haastig is nie. Maak eerder ’n afspraak sodat julle rustig kan praat. Vra haar watter stappe sy beplan en hoe jy kan help om die situasie op te los. As dit nodig is, vra vir ’n vergadering met die skoolhoof, onderwyseres en die boelie se ouers. Onthou, die boelie het waarskynlik hulp nodig om sy gedrag te verander. Hy’s ook maar net ’n kind.

3. Help jou kind om ’n gevoelswoordeskat op te bou

Jong kinders sukkel dikwels om uiting te gee aan hul gevoelens omdat hulle nie die regte woorde ken nie. Hulle raak dan gefrustreerd omdat hulle nie ’n woord het vir die emosie wat hulle ervaar nie.

Jy kan help deur baie met jou kind te praat oor hoe hy voel wanneer hy geboelie word. Hy sal ’n gevoelswoordeskat opbou en ook deur die gesprekke die gebeure begin verwerk. Moedig hom aan om te praat, maar moet hom nie probeer dwing nie.

4. Probeer vasstel hoekom jou kind geboelie word

Is dit dalk oor kultuurverskille, fisieke voorkoms of omdat hy ’n sensitiewe soort kind is? Het hy sosiale probleme wat hom laat uitstaan? Is hy byvoorbeeld erg skaam, buitengewoon stil of het hy dalk ’n swak selfbeeld?

’n Kind word gewoonlik (maar nie altyd nie) die slagoffer van ’n boelie as sy selfbeeld reeds swak is, of as hy aan homself twyfel. As jy ’n verband sien tussen sy selfbeeld en die geboelie kan jy hom al baie help deur aan sy selfbeeld te bou. Vertel ook die onderwyseres van die redes sodat die skool saam met jou kan werk om die beste oplossing te vind.

5. Stel ’n ‘ek is cool’-lysie saam met jou kind op

Dit help jou kind om te weet jy hou van hom en glo in hom. Herinner hom aan al sy positiewe eienskappe: mooi maniere, die feit dat hy slim is met somme, goed lees, lief is vir diere... selfs al dink jy nie dit hou verband met die boeliery nie. Skryf alles neer op ’n mooi vel papier en raam dit sommer vir sy kamer. Dis ’n bevestiging van jou kind se selfwaarde.

6. Help werk aan ’n selfversekerde houding

Leer jou kind om op ’n selfversekerde manier vir die boelie te sê dat hy hom moet uitlos. Kyk na sy liggaamshouding, lyftaal, stemtoon en of hy oogkontak maak. Wys hom dan hoe om dit reg te doen en laat hy oefen. Maak ’n speletjie daarvan.

’n Selfversekerde houding kan deurslaggewend wees as hy weer deur die boelie gekonfronteer word. Oefen moontlike reaksies en boelie-situasies saam met hom sodat hy dit in die toekoms met meer selfvertroue kan hanteer.

7. Betrek ’n terapeut

’n Geboelie kan jou kind erg afgetakel laat voel. Tipiese simptome is angstigheid, onsekerheid en ’n gebrek aan selfvertroue. Jou kind kan onbevoeg en onveilig voel in ’n omgewing waar hy voorheen veilig en gelukkig was. Sy vrees en angs wys in regressiewe gedrag soos duim suig, skeidingsangs en bed natmaak – so probeer hy jou bewus maak van sy pyn en behoefte aan veiligheid.

Veral as hy oor ’n lang tydperk geboelie is, is dit ’n goeie plan om deur terapie sy selfondersteuning ’n hupstoot te gee. ’n Terapeut kan hom help om bewustelik uiting te gee aan die gevoel van bedreiging en kan hom help om sterker te voel oor homself. ’n Kind wat diep binne sterk voel, sal die wêreld vierkant in die oë kan kyk.

Wie word ’n boelie?

Boelies is dikwels kinders wat self emosionele pyn ervaar. Sulke kinders het emosionele behoeftes wat nie bevredig word nie. Tipiese oorsake is ouers wat te min tyd saam met hul kind deurbring, emosioneel afwesig is of hul kind waardeloos laat voel (soos as ’n boetie of sussie voorgetrek word). Dikwels word ’n boelie self ook geboelie. ’n Boelie kan ook die slagoffer wees van fisieke of seksuele mishandeling.

Waar kom die aggressie vandaan?

Elke kind wil voel hy is belangrik en dat sy mening tel. Hy wil voel hy het waarde, is bevoeg en kan keuses maak. ’n Kind wat magteloos en gefrustreerd is, gaan instinktief voel of sy lewe bedreig word. Dit lei tot aggressie. Aggressie volg op gevoelens van vrees, angs en onsekerheid.

Wanneer die boelie ander kinders afknou en aanval, voel hy hy het krag en is in beheer.

Boelie-gedrag is die simptoom van ’n gebrek aan aanvaarding, erkenning, liefde en respek.

Help! My kind word ’n boelie!

  • Sorg dat jou kind positiewe rolmodelle het. Bring baie tyd saam met hom deur.
  • Dissipline is net regtig doeltreffend wanneer dit binne ’n goeie verhouding geskied. Te veel of te streng dissipline, of dissipline wat nie konsekwent toegepas word nie, is net so sleg soos geen dissipline.
  • Kinders aap na wat hulle sien. Hou jouself ’n bietjie dop. Sien jou kind jou padwoede of jou lelike reaksie as jou sportspan verloor? Tree jy aggressief op teenoor ander? Hoeveel geweld sien jou kind op TV?
  • Moedig natuurlike ontlading van frustrasie aan. Kinders moet buite speel en oefening kry. Maar wees versigtig om nie te veel klem op prestasie en sport te plaas nie – dit moet pret wees.
  • Moenie blind wees vir jou kind se probleme nie. Dis soms moeilik – ouers is deesdae so besig – maar moenie net op die skool steun om jou kind op te voed nie.
  • Te veel aandag (van die verkeerde soort) is ook problematies. Baie boelies is bedorwe brokkies wat in hul ouers se oë niks verkeerd kan doen nie.
  • Doen jou kind voor hy dink? Hy ly dalk aan gebrekkige impulsbeheer.
  • Gesels met jou kind oor sy liggaamstaal en oor sy stemtoon as dit aggressief, neerhalend of dreigend is. Oefen om van die lelike gewoontes ontslae te raak. Leer hom om mooi te vra eerder as om te eis.

Dankie aan dr. Annelien Nieman, ’n sielkundige van Benoni wat spesialiseer in probleemkinders; aan Beatrix van Rensburg van Somerset-Wes, ’n kliniese maatskaplike werker en Gestalt-spelterapeut; en aan Linda de Beer, stigter van Eduvelo Kids en ’n kleuterskoolonderwyseres met byna twee dekades ervaring wat ook landwyd mense in vroeë kinderontwikkeling oplei.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees