Prys en bou jou kind

akkreditasie
'n Goeie selfbeeld is die hoeksteen van gesonde kinderontwikkeling, en een van die maniere om dit te kweek is deur jou kind dikwels te prys. Dit het egter ook 'n skadu-kant.

Kleuters het nou maar eenmaal die geneigdheid om ouers se positiewe dialoog te toets. “Moenie!”, “los daar!” en “waar’s jou ore?” glip makliker uit jou mond as “mooi so”, veral as die klein klits jou geduld tot die uiterste beproef.

Dis daarom belangrik om jou kind te prys elke keer as hy die dag wel iets reg, oulik en goed doen. Onthou, jóú reaksie lok ’n reaksie by jou kind uit. As jy hom aanhoudend vertel hy is stout of luister nie, gaan hy nóg minder luister en net stouter word.

As jy hom egter vertel hoe oulik dit was wat hy gedoen het, sal hy dit weer probeer doen. Dit is werklik vir jou kleuter belangrik dat jy hou van hom en van die dinge wat hy doen.

Soms kan dit moeilik wees om kort en oënskynlik doeltreffende opdragte te vervang met positiewe, maar dikwels langer opdragte. Elke mens is egter in staat om mooi, opbouende woorde te sê. Jy moet net fyn begin soek na al die redes waarom jy dit vir jou kleuter kan sê.

Prys jou hier, prys jou daar

Om jou kleuter te prys (met vriendelike woorde, gesigsuitdrukkings, drukkies en dade), is byna die enigste manier waarop jy vir hom kan vertel dat wie hy is en wat hy doen, jou bly maak. Dit maak hom trots en laat hom waardig voel, wat nodig is om ’n positiewe selfbeeld te ontwikkel.

Selfs as jou kleintjie iets onbenulligs doen, soos om jou te help om ’n vertrek op te ruim of ’n tafel af te dek, behoort jy hom te vertel hoe bly hy jou gemaak het, hoe soet hy is én hoe trots jy daarop is dat hy
dit gedoen het.

Jy moet egter tussen twee soorte pryswoorde onderskei. Jy moet jou kind prys vir wat hy is én vir wat hy doen. Prys jy hom vir wat hy is, sê jy basies jy is onvoorwaardelik lief vir hom. Jy sê jy is dankbaar hy is jou kind en dat hy baie spesiaal is. Prys jy hom vir wat hy doen, verwys jy na iets spesifieks wat hy gedoen het en sê jy dit sodra hy dit klaar gedoen het.

Albei hierdie maniere van lof toeswaai is belangrik, maar dit is báie belangrik dat jy nie die maniere van prys sáám gebruik nie. Anders stuur jy sonder dat jy dit bedoel die boodskap uit dat jy net vir jou kleintjie lief is omdat hy iets so mooi reggekry of gedoen het.

Volgens die Amerikaanse kindersielkundige en skrywer dr. Todd Cartmell het ouers se woorde ’n invloed op kinders se denke. “Soveel kinders het leer fietsry omdat hul ouers vir hulle gesê het hulle kan. Maar net soveel meisietjies dink hulle is vet omdat hul pappas hulle grappenderwys ‘vettieboemstieks’ genoem het.

“Ouers is in hul kind se wêreld ’n betroubare bron van die ‘waarheid’. As jy iets sê, dink jou kleintjie dit móét dit waar wees. Daarom is dit so belangrik om jou woorde versigtig te kies.” Volgens Todd lê die geheim daarin om positiewe terugvoer te koppel aan ’n gedragspatroon. “Jy moet jou kind fyn dophou en dadelik sy gedrag prys wanneer hy iets doen wat reg of goed is. Jy kan slegs die gedrag goedkeur en aanpor as jy daarvan bewus is.”

Onthou ook om jou kind dadelik te prys as hy positiewe gedrag openbaar en ’n goeie beskrywing te gee van waarom jy dink hy so oulik is. Jou kind sal graag die mooi woorde weer wil hoor en jy moet dit duidelik maak hoe hy dit kan regkry.

As lof skade doen

In die boek When parents love too much waarsku skrywers Laurie Ashner en Mitch Meyerson dat ouers wat onverdiend prys, skade kan aanrig.

Dit is ewe gevaarlik om jou kind te prys op grond van prestasie – veral wanneer dit die enigste kere is dat hy geprys word. Natuurlik kan ’n pa trots wees op sy bulletjie se rugbyprestasie, maar as dit die eerste en enigste kere is dat Pappa pryswoorde uiter, kan die kleintjie begin dink dat hy Pappa net gelukkig kan maak as hy rugby speel. Die res van die tyd – of wanneer sy rugbyloopbaan later taan – voel hy soos een groot mislukking.

“As kinders se selfwaarde net op loftuitinge gebaseer word, begin hulle stelselmatig om slegs doelwitte na te jaag wat hul ouers se goedkeuring sal wegdra, maak nie saak wat dit verg of hoe ongelukkig dit hulle – en ander mense – maak nie,” sê Ashner en Meyerson.

Daar is natuurlik ook ’n fyn grens tussen ondersteuning en om jou kind met pryswoorde ’n gat in die kop te praat. Die jaarlikse Idols-kompetisie lewer gereeld deelnemers op wie se ouers hul grootste ondersteuners is. Dit is dikwels die ouers wat hewig reageer as beoordelaars hul kind nie na wense behandel nie.

Jou plig as ouer is om jou kind lief te hê ongeag wat hy doen of bereik, maar oor wie hy is. Natuurlik kan jy hom aanmoedig om sy drome na te jaag, maar jou ondersteuning moenie afhang van sy prestasie nie.

Dit is belangrik dat jou kind aan jou onvoorwaardelike liefde sal glo – al maak hy jou soms hartseer of doen hy onprysenswaardige dinge. As jy hom op die verkeerde tye prys, gaan hy jou opregte bedoelings begin wantrou. Kinders weet dikwels wat die waarheid is ...

Selfbeeld wat hou

Jou kinders onthou dalk nie eendag presies wat jy gesê het nie, maar hulle sal definitief die gevoel onthou wat jou woorde by hulle gelaat het. Dit is daardie positiewe gevoel – dat hul ouers dink hulle is wonderlik – wat hulle deur donker of moeilike tye sal dra.

Volgens Elzabé Peters, ’n Suid-Afrikaanse kliniese sielkundige, volg ’n goeie selfbeeld uit selfaanvaarding, wat voorafgegaan word deur oueraanvaarding. “Oormatige kritiek maak kinders onseker.

Navorsing het bevind dat ’n gesonde verhouding bestaan uit ’n verhouding van 1:5 – vyf positiewe goed moet gesê word vir elke een punt van kritiek! Laat jou dink, né?”

Volgens haar is jou eie goeie voorbeeld die beste manier waarop jy jou kinders kan beïnvloed. As jou selfbeeld sleg is, jy onseker is of jy deur jou eggenoot of kollegas geboelie word, leer jou kinders om slagoffers te wees. As jy egter ’n positiewe uitkyk het, sal jou kinders dit aanleer. ’n Positiewe en stabiele huishouding leer jou kinders om emosioneel stabiel te wees en skep ’n ruimte van sekuriteit waarin hulle in staat sal wees om uitdagings beter te hanteer.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees