Q&A: Eetfiemies

akkreditasie
My kleuter het eetfiemies. My kind is twee jaar oud en wil niks eet behalwe jogurt en Mariebeskuitjies nie. Hy wil nie eens aan ander kos proe nie. Wat doen ek verkeerd?

Jy gee ongelukkig nie meer inligting oor jou seuntjie nie. Dit is belangrik om te kyk na sy eet- en gewiggeskiedenis. Was hy nog altyd n slegte eter of het dit skielik begin? Het iets verander in sy
omgewing – dalk ’n nuwe skool of ’n nuwe boetie of sussie? Wat is sy groeikurwe – is hy ondergewig, oorgewig of daal sy groeikurwe? Drink hy vloeistowwe (melk, sap, water) en hoeveel?

Die eerste stap is om hom pediater toe te neem en seker te maak daar is nie ’n fisieke oorsaak vir sy swak aptyt nie. Studies op kleuters met eetprobleme toon dat een van die grootste oorsake ’n te hoë melkinname is. Vanaf 18 maande het kleintjies net 250ml melk per dag nodig. Bied melk altyd eers ná ’n maaltyd aan.

Kleuters en kieskeurige eetgewoontes is sinoniem. Eetgewoontes kom gewoonlik ná hul derde verjaardag reg. Ná hul eerste verjaardag neem hul groeitempo dramaties af en het hulle minder kos nodig.

Kyk eerder na wat jou kind oor ’n week inneem as in ’n dag. Soms eet kleuters een dag net vrugte, dan net eier en dan weer net rys. Probeer sy inname van dag tot dag wissel sodat hy ’n groter verskeidenheid voedingstowwe inkry.

Maak hom soveel moontlik betrokke by die bereiding van sy kos, al is dit ’n gemors. Op twee jaar oud wil kinders alles self doen en dink hulle hulle is groot. Laat hom belangrik voel deur hom self besluite oor sy kos te laat neem, maar binne perke: Wil jy ’n piesang of ’n perske hê? ’n Broodjie met Marmite of kaas, ens.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees