Raad vir kieskeurige eters

akkreditasie
Soos jou baba groter word, begin al meer nukke en grille kop uitsteek – veral aan die etenstafel. Vir daardie onmoontlike aande wanneer jou kleuter haar neus optrek vir alles wat jy opdis en jy begin fantaseer dat ’n wegneem-pizza al vyf boustene van ’n gesonde en gebalanseerde dieet bevat, het ons 10 wenke om die kalf uit die put of ten minste die spinasie op die vurk te kry.

1. Maak maaltye interessant

Moenie jou kind se bord oorlaai nie. Sit liewer minder kos op die bord, maar maak dit interessant. Maak ’n gesig met ’n mond van wors, aartappels vir die oë, ’n wortel vir die neus en tamatiesous vir rooi wange. Pleks daarvan om kaassous oor ’n stukkie vleis te gooi, kan jy dit gerus in ’n aparte bakkie sit sodat Sannie self haar vleis daarin kan doop. En hoekom moet vrugte op ’n bord kom? Sit ’n slag drie klein bakkies voor met verskillende stukkies vrugte in elk.

2. Stel ’n goeie voorbeeld

Jy kan nie verwag dat jou kleuter aan ertjies en soetpatats moet smul as jy self jou neus daarvoor optrek nie. Stel ’n goeie voorbeeld vir jou kind deur self gesond te eet. As jy slegs gesonde kos en versnaperings in jou koskas hou is dit al waaruit jou kind kan kies. Wees dus gedissiplineerd in die supermark en sorg dat jy jou trollie laai met gesonde kos soos neute en ryskoekies (Woolworths verkoop ’n lekker een met ’n lagie jogurt bo-op) pleks van aartappelskyfies en lekkers.

 3. Maak maaltye spesiale gesinstyd

Ja, ja, almal is besig, maar probeer minstens drie aande ’n week almal saam aan tafel sit. Vra jou kind uit oor haar dag. As jy self die dag met jou kleinding deurgebring het, gebruik die tyd om die res van die gesin te vertel wat julle alles aangevang het – dalk het julle ’n nuwe rympie geleer of ’n sandkasteel op die strand gebou. Onthou om die TV af te skakel terwyl julle eet.

4. Onderskei tussen ‘alledaagse’ kosse en ‘spesiale’ kos

Wegneemetes is nie totaal taboe nie, maar jou kind moet leer dat dit slegs vir spesiale geleenthede is. Probeer jou maaltye vooraf beplan sodat jy nie elke tweede aand terugval op Mr Delivery se spyskaart nie. Maak dus seker dat jou koskaste vinnige en gesonde alternatiewe het soos koeskoes en bevrore groente sodat jy nie onnodige tyd hoef te bestee aan aartappels skil en wortels opkap wanneer jy laat by die huis kom nie. Onthou: Jy is die ouer en moet die voorbeeld stel dat gesonde maaltye lekker en pret is.

5. Lees jou kind se behoeftes

Volwassenes eet om verskillende redes, nie net om hul honger te stil nie. Klein kinders is egter verbasend verstandig as dit kom by hul kosbehoeftes. Party dae het hulle eenvoudig minder kos nodig as ander. As jou kind nie vanaand wil eet nie, moenie aanneem dis fiemies nie – dalk is haar magie seer of het sy ’n groot bord kos by die speelskool verorber. ’n Siek kind sal noodwendig nie veel van ’n aptyt hê nie. Moet dus nie kos aan jou kind opdwing nie. Maar moet ook nie ’n halfuur later toelaat dat sy koekies en roomys eet om ’n honger magie te vul nie.

6. Wen-wenke vir groente-griewe

Baie kinders wat nie van gekookte groente hou nie sien wel kans vir rou groente. Sny wortel- en ander groentestokkies en sit dit voor met ’n doopsous soos hummus (fyngemaalde kekerertjies gemeng met ’n bietjie olyfolie en suurlemoensap) of tzatsiki (gerasperde komkommer en jogurt). Versteek ook groente in lasagne, ’n maalvleisbroodjie of souse soos bolognaise (rasper wortel en murgpampoentjies daarin). As jou kleuter selfs ’n stukkie gerasperde wortel uit ’n bord bolognaise kan vis, kook die groente, maak dit fyn en meng dit dan by die sous in. Laat jou kind haar eie groentetuin plant – eenvoudige dinge soos wortels en murgpampoentjies is maklik om te onderhou en kan taamlik vinnig geoes word. As jy nie ’n tuin het nie, laat haar pietersielie in ’n pot plant en vra haar om ’n handjie vol vir pastasouse te pluk.

7. Mamma se klein regterhand

Wanneer jy jou kleinding in die kombuis laat help is die kanse groter dat sy sal eet wat uiteindelik uit die kombuis kom. Laat haar toe om basiese keuses te maak oor wat sy vir aandete gaan kry: Laat haar besluit of julle vanaand blomkool of boontjies gaan eet. Gee haar eenvoudige takies soos om groente te was, kropslaaiblare te breek en eier te klits. Of laat haar toe om te help tafel dek en die ander lede van die gesin te roep wanneer die kos reg is. Noem aan tafel dat sy die boontjies gemaak het en vertel haar hoe lekker haar kos smaak.

8. Wen-idees as jy regtig raadop is

Maak ’n vrugte-smoothie: Kombineer ’n koppie appelsap met ’n paar lepels Bulgaarse jogurt en vrugte van jou keuse. Lekker kombinasies is piesang en aarbeie of mango en pynappel. Of maak vrugte-ysstokkies: Puree aarbeie saam met ’n koppie melk en vries in roomys-vormpies van plastiek.

9. Gebruik jou verbeelding

Soms kan broccoli ’n slag “boompies” wees. Saterdagoggend se roereier hoef nie geel te wees nie: Gooi ’n paar druppels groen voedselkleursel by en sit “groen eiers en spek” voor. En gee haar op ’n warm dag bevrore ertjies en noem dit “ysbeer-kos”. Hoekom elke aand aan tafel sit? As dit triestig buite is, slaan die tent op in die woonvertrek, rooster wors in die oond en sit dit voor met gekookte mielies en gebakte aartappel (of wat ook al jy normaalweg by ’n braai sal opdis). En as dit ’n lekker someraand is, hou piekniek op die grasperk met koue vleis, broodjies en doopsouse (en laat die miere en voëls die krummels wegdra).

10. Aanhouer wen

Die kanse is goed dat jou kleinding nie sommer met die intrapslag spinasie bo aartappelskyfies gaan verkies nie. Maar hou aan om ’n nuwe kossoort aan te bied – dit kan tot vyftien probeerslae verg voor sy uiteindelik besluit dat spinasie tog die moeite werd is. Onthou ook dat iets wat vandag lekker is, volgende week dalk sal afskuif op die gewildheidsranglys. Hou dus aan om variasie te bied in die kos wat jy maak.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees