Ritalin of reg eet?

akkreditasie
Jou woelwater se juffrou sê dat hy die klassie ontwrig en by die huis sukkel jy om hom stil te laat sit. Lees hier voor jy hom 'n pilletjie laat sluk.

Alle kinders sukkel soms om op te let, of doen iets sonder om aan die gevolge te dink en gedra hulself partykeer nie soos ouers graag wil hê nie. By sommige kinders is hierdie gedrag egter so erg dat dit hul lewens, en joune, heeltemal ontwrig.

Aandagafleibaarheid-hiperaktitwiteitsindroom (AAHS) begin gewoonlik tussen 2- en 4-jarige ouderdom en affekteer 5 tot 8% van skoolkinders. Drie keer soveel seuntjies as dogtertjies word geaffekteer, en tot soveel as twee derdes van hulle sal dit hê selfs wanneer hul volwasse is.

Wat is AAHS?

AAHS, of ADHD soos almal dit ken, is ’n siektetoestand van die brein waar lae vlakke van dopamien voorkom. Dit is een van die algemeenste gedragsiektes in kinders.

3 tipes AAHS word onderskei: hoofsaaklik onoplettend, hoofsaaklik hiperaktief of impulsief, en gekombineerd. Dit kan nie genees word nie, maar kan suksesvol behandel word.

Hoekom my kind?

Ongeveer 80% van AAHS-gevalle is die gevolg van genetiese oordrag. As jou kind dit het, is die kans dus groot dat hy ’n ouer, boetie of sussie, grootouer, oom of tannie het wat AAHS het.

Ander moontlike bydraende faktore is rook of alkoholgebruik tydens swangerskap, skildklierprobleme tydens swangerskap of by die kind self, premature geboorte en lae geboortemassa.

Kindersiektes wat met AAHS geassosieer word, is breinvliesontsteking, enkefalitis, virusinfeksies, kopbeserings, epilepsie en loodvergiftiging. Dit word nie veroorsaak deur te veel suiker te eet, televisie kyk, familiechaos of swak ouerskap nie. Maar van hierdie faktore kan dit egter vererger.

Hoe kan jy hom help

Die media is propvol allerhande kure vir AAHS en daar word daagliks navorsing gedoen om die beste behandeling te kry. Alle behandelingsopsies werk egter nie ewe goed vir alle kinders nie en jy moet die behandeling vind wat die beste vir jou kleuter is en inpas by jou familie se spesifieke behoeftes. ’n Kombinasie van behandelingsmetodes is dikwels die doeltreffendste.

Die eerste stap is om by ’n kenner te leer oor die toestand en behandeling. Jy sal leer hoe om jou kind te help met organisering, probleemoplossingstegnieke en hoe om sy simptome te hanteer.

Gedragsbeheertegnieke, medikasie, en skoolprogramme en -ondersteuning is nog behandelingsmetodes wat werk. Jou kind sal heel waarskynlik na ’n gewone skool kan gaan, met sekere aanpassings.

Wees daarop bedag dat gewone onderwysers nie noodwendig opgelei is om AAHS-kinders te hanteer nie, en daarom sal sy die leiding van ’n kenner nodig hê.

Sy kan dit vir jou kind makliker maak deur ’n huiswerklêer te gebruik, opdragte duidelik te maak, positiewe terugvoer te gee en sensitief te wees vir moontlike selfbeeldkwessies.

Gedragsbeheertegnieke

As ouer het jy ’n geweldige groot impak op jou kleuter en jong kind se gedrag, en daarom is gedragsbeheertegnieke baie effektief in die behandeling van AAHS. ’n Sielkundige sal jou leer hoe om jou kind te help om homself op die gepaste manier te gedra.

Dit is belangrik om altyd konsekwent te wees en goeie gedrag te beloon eerder as om swak gedrag te straf. Jy sal jou ongeorganiseerde kleuter baie help as jy ’n roetine vestig, self georganiseerd is, afleidings uit die weg ruim en keuses beperk tot kies tussen twee goed.

Leer jou kleuter probleemoplossingstegnieke en kommunikasievaardighede. Stel doelwitte met belonings en dissiplineer effektief: neem voorregte weg in plaas daarvan om te skree of slaan. Help jou kind om sy talente te ontdek en fokus daarop. Jou kind se gedrag sal beter wees selfs nadat hierdie behandeling gestaak is.

Feingold-dieet

Hierdie is die bekendste dieet vir die behandeling van AAHS. Dit behels die uitsluiting van salisilate en voedseladditiewe soos sintetiese kleur- en geurmiddels, preserveermiddels en aspartaam.

Salisilate kom natuurlik voor in appels, perskes, lemoene en tee, terwyl additiewe in onder andere geprosesseerde kosse en lekkers voorkom.

Die dieet is gebaseer op die teorie dat sensitiwiteit vir hierdie middels ongewenste reaksies soos hiperaktiwiteit veroorsaak. Daar is egter nie genoeg bewyse om hierdie dieetbenadering deur die bank aan te beveel nie, maar dit mag wel leer en gedrag vir ’n klein groepie kinders verbeter wat sensitief vir hierdie middels is.

Reg eet

Daar is ’n groot verskeidenheid alternatiewe behandelings vir AAHS, onder andere verskeie dieetaanpassings wat gedoen kan word.

Onvoldoende wetenskaplike bewyse maak dit egter omstrede en meer navorsing is nodig voordat reg eet vir die behandeling van AAHS aanbeveel kan word. Kleur- en preserveermiddels, kunsmatige voedselkleursel en benzoaatpreserveermiddels kan ’n negatiewe uitwerking hê op die gedrag van veral sommige kleuters, selfs dié sonder AAHS.

Veral die kleurmiddels tartrasien (E102), geel (E110), carmoisine (E122) en ponceau 4R (E124) en die preserveermiddel natrium-benzoaat (E211) is nagevors. Indien jy ervaar dat jou kind se gedrag verander ná inname van kosse met kleuren preserveermiddels kan jy hierdie middels vir ’n tydperk uitsluit en kyk of gedrag verbeter.

Lees altyd die etiket van jou kind se gunsteling-lekkerny. Kleur- en preserveermiddels kom dikwels in ongesonder kosse voor, en die uitsluiting daarvan sal nie ’n ongebalanseerde dieet veroorsaak nie.

Suiker

Te veel suiker kan nie jou kind hiperaktief maak soos baie mense dink nie. Inteendeel, suiker kan hom eerder kalmeer as gevolg van die afskeiding van serotonien ná suikerinname.

Suiker is nie ’n essensiële nutriënt nie en suikerbevattende lekkers en koeldrank kan maklik die plek van gesonde kos in jou kind se dieet inneem. Alhoewel die uitsluiting van suiker nie AAHS simptome kan verbeter nie, is dit dus wys om jou kind se suikerinname te beperk.

Omega 3 en 6 aanvullings

Senuweeselmembrane bestaan uit fosfolipiede wat groot hoeveelhede poli-onversadigde vetsure (omega 3 en -6) bevat. Hierdie vetsure is dus belangrik vir breinfunksie
en teoreties behoort aanvulling simptome van AAHS te verlig.

Navorsing lewer nog gemengde resultate en verdere studies is dus nodig.

Medikasie

AAHS kan effektief behandel word deur twee tipes medikasie, naamlik stimulante en nie-stimulante.

Metielfenidaat (Ritalin), is die algemeenste stimulant, wat dopamienvlakke in die brein verhoog en so aandag en wakkerheid bevorder.

Dit verlig simptome van AAHS in 70-80% van skoolkinders met dié siekte, maar verskeie newe-effekte soos angs, geïrriteerdheid, buiveranderinge, onttrekking, maagpyn, slaapprobleme en lomerigheid kan soms voorkom.

Kleuters is selfs nog meer sensitief as ouer kinders vir hierdie neweeffekte. Dit kan ook swak lengte- en gewigstoename veroorsaak omdat dit jou kind se eetlus demp.

Metielfenidaat se uitwerking is soortgelyk aan kokaïen en dit is nie goedgekeur vir gebruik in kinders onder 6 jaar nie. Die enigste stimulant wat goedgekeur is vir kinders onder 6 is amfetamien wat kragtiger is as metielfenidaat en ook ’n kragtige eetlusdemper is.

Stimulante is verslawend en onsekerheid oor die langtermyn veiligheid en effek op breinontwikkeling in kleuters maak dat baie ouers ander behandelings verkies bo medikasie. Nie-stimulante het gewoonlik minder neweeffekte en word gegee vir skoolkinders as stimulante nie effektief werk nie.

Dit is belangrik om sorgvuldig die voor- en nadele wat die medikasie vir jou kleuter kan inhou, te oorweeg, voordat jy besluit om sommer net ’n voorskrif te kry.

Woelig of hiperaktief?

Daar is geen enkel toets wat gedoen kan word om AAHS te diagnoseer nie. Diagnosering sal oor ’n aantal afsprake plaasvind waartydens verskeie evalueringsmetodes ingespan sal word. Inligting oor jou kind moet van verskeie persone gekry word en simptome moet in verskeie omgewings- en versorgingskontekste voorkom. Die stappe sluit in:

1. Uitskakeling van ander oorsake

Verskeie ander probleme kan simptome soortgelyk aan AAHS veroorsaak. Neem jou kind vir ’n gehoortoets sowel as ’n oogtoets. Daarna kan jy hom dokter toe neem vir ’n mediese ondersoek, sy skildklierfunksie laat toets en vasstel of hy moontlik ’n ystertekort het. Leerprobleme, leesprobleme, angs of depressie kan ook redes wees vir hierdie gedrag en moet ondersoek word.

’n Dieetgeskiedenis kan deur ’n dieetkundige gedoen word om vas te stel of hy moontlik ’n ongebalanseerde dieet en voedingstekort of voedselallergie of -intoleransie het. Al hierdie toestande kan alleen of saam met AAHS voorkom.

2. Evaluering

As geen ander moontlike oorsake vir sy gedrag gevind kan word nie, kan jy jou kleuter na ’n sielkundige, neuroloog of pediater neem wat ’n volledige evaluering sal doen. ’n Sorgvuldige geskiedenis moet verkry word van die ouers, onderwyser en kind self, rakende sy akademiese-, sosiale- en emosionele funksionering asook sy ontwikkelingsvlak.

AAHS kan gediagnoseer word indien 6 of meer van die simptome vir minstens 6 maande lank gereeld voorkom, en dit ontwrigtend vir jou kind se ontwikkelingsvlak is. Van die simptome moet reeds voor 7-jarige ouderdom teenwoordig wees. Dit moet ook minstens twee areas van sy lewe affekteer en daar moet duidelike bewyse wees dat dit sy skool-, huis en/of sosiale lewe belemmer.

Vroeë diagnosering en behandeling van AAHS is belangrik om latere probleme soos swak prestasie, familie-ontwrigting, depressie, verhoudingsprobleme, antisosiale gedrag, beserings, dwelmmisbruik en misdaad te voorkom.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees