Slyp jou kind se groot motoriese vaardighede

akkreditasie
Gee jou kind van babadae reeds 'n voorsprong deur haar groot motoriese vaardighede te slyp. Ons het 'n kenner gevra watter oefening die beste hiervoor is.

Vir baie ouers klink die ontwikkeling van ’n kind se grootspiere na harde werk, maar dit is nie. Groot motoriese ontwikkeling stel ’n kind in staat om regop op ’n stoel te kan sit en by ’n tafel te kan werk. Dit stel kinders ook in staat om langer tye te kan stilsit soos wat van hulle in die skool verwag
sal word.

“Kinders wie se groot motoriese vaardighede goed ontwikkel is en wat oor goeie postuurbeheer beskik, het oor die algemeen ook ’n beter selfbeeld as kinders met ’n agterstand of swak motoriese beheer,” sê Rosa-Marie Olivier, ’n arbeidsterapeut van Alberton.

“Goed ontwikkelde groot motoriese vaardighede lei tot meer waagmoed, wat kinders help om beter met hul omgewing om te gaan en dus meer blootstelling te kry. Dit gee ontwikkeling op ander terreine weer ’n hupstoot,” sê sy.

Pret en plesier

Hier is 10 aktiwiteite wat jy saam met jou kind by die huis kan doen om haar grootspiere te ontwikkel.

  1. Kruiwaloop. Hou jou kind se bene vas en laat haar vorentoe of agtertoe op haar hande loop. Dié speletjie stimuleer die hand-, skouer-, nek- en rugspiere.
  2. Diereloop. Loop soos ’n groot olifant, vlieg soos ’n vlinder, hop soos ’n hasie, skop soos ’n donkie, spring soos ’n padda, loop soos ’n gorilla ... Dit stimuleer byna alle spiergroepe en lei tot beter ruimtelike vaardighede en motoriese beplanning.
  3. Bollemakiesie. Dit stimuleer spiere wat ’n hoofrol speel in balans en motoriese beplanning.
  4. Spronge. Sterspronge, tweebeentjie spring en eenbeentjie spring stimuleer die posisie-sintuig wat lei tot beter bewustheid van die liggaamsdele in die ruimte, asook balansvaardighede.
  5. Huppel en kruishuppel. Dit stimuleer die vloeiende gebruik van die twee helftes van die liggaam en middellynkruising. Spiere wat ontwikkel word, sluit in die heup-, maag- en rugspiere.
  6. Rol. Dit versterk verskeie spiergroepe, asook draaivermoë, bilaterale integrasie en middellynkruising. Laat jou kind op en af teen heuwels en op die grasperk rol – dis veral goeie oefening omdat dit teen weerstand en teen verskillende snelhede gebeur.
  7. Hinkspel (hopscotch). Dit moedig veral motoriese beplanning en balansvaardighede aan.
  8. Engeltjies in die sneeu. Laat jou kind op haar rug lê en eers haar ledemate afsonderlik oplig, dan albei arms gelyktydig, dan albei bene gelyktydig, daarna die arm en been aan een kant gelyktydig, dan dié aan die ander kant en laastens die arm aan die een kant en die teenoorgestelde been gelyktydig en andersom. Dit moedig veral motoriese beplanning en bilaterale integrasie aan.
  9. Hardloopspeletjies soos aan-aan en wedlope. Dit stimuleer spiere wat help met balans, motoriese beplanning en ruimtelike oriëntasie.
  10. Dans- en klapspeletjies. Doen dit op die maat van aksieliedjies soos “Saai die waatlemoen”. Swaai die arms, “roei die skuitjie”, “blaas die fluitjie” ensovoorts. Dit stimuleer ritme, bilaterale integrasie, middellynkruising en motoriese beplanning.

Apparate soos ’n springmat, klimraam, hoepels, toue, skaatsborde en fietse bied ook eindelose moontlikhede vir prettige ontwikkeling!

Vir babas

Jy kan van kleins af begin deur jou kleinding reg te posisioneer. Laat haar altyd op haar sy slaap sodat die handjies voor bymekaar op die middellyn is. Vanuit dié posisie kan baba later op haar ruggie en
magie begin omrol.

Teen ongeveer vier weke kan jy begin om jou baba gereeld tydens haar wakker tye op haar magie te laat lê. Dit sal haar motiveer om haar rug- en nekspiere te gebruik om haar koppie te lig. Moet egter net nie dat jou baba op haar maag slaap nie om wiegiedood te voorkom.

Hang ’n bewertjie bo die doekruilplek. Dit sal haar aanmoedig om haar kop op haar middellyn te hou wanneer sy op haar rug lê. Of laat haar speeltyd op haar rug lê en speel met jou vingers in die lug
bo haar.

“Rol ook tydens doekruiltyd haar heupe sagkens van kant tot kant om die doek onder haar uit te kry. Dit stimuleer die skuins rompspiere vir latere rol en rotasie,” beveel Rosa-Marie aan. Nóg ’n oefening is om haar op haar rug te laat lê en aan albei handjies op te trek tot sy in ’n sittende posisie is.

Teen drie maande behoort haar kop nie meer terug te val nie en behoort sy met haar ken vorentoe te beur wanneer jy die oefening doen. Moet haar egter nie in ’n sittende posisie dwing of lank so probeer
hou voor sy daarvoor gereed is nie. Laat ’n sittende baba op ’n dinamiese oppervlak sit soos ’n balanseerbord of ’n houtskinkbord wat bo-op ’n kussing geplaas is. Wieg dit saggies heen en weer sodat sy uitgedaag word om haar balans te hou.

Laat ’n kruipende baba oor verskillende oppervlaktes kruip soos matrasse, kussings, komberse en op en af teen skuinstes. Dit laat haar spiere harder werk en bevorder so ontwikkeling.

Mylpale

Hier is die grootspier-mylpale wat jou kind moet bemeester, sê die arbeidsterapeut Rosa-Marie Olivier.

3 jaar

  • Spring met albei voete saam van ’n trappie af.
  • Ry met ’n driewiel en stuur rofweg om wye hoeke.
  • Vang ’n groot bal (20 cm) met stywe, reguit armpies en teenaan die bors.
  • Staan een tot twee sekondes op een been.
  • Klim trappe met afwisselende voete op, en teen drie en ’n half jaar ook af.
  • Loop op tone, dikwels met hande en arms wat help balanseer.
  • Skop ’n bal sterk.

4 jaar

  • Spring ongeveer 50 cm ver.
  • Spring en klap gelyktydig.
  • Ry goed met ’n driewiel en maak skerp U-draaie.
  • Vang ’n bal met hande en arms, teen die bors en elmboë gebuig.
  • Kan self aan die swaai kom.
  • Eksperimenteer met verskillende posisies op ’n klimraam.
  • Staan vyf tot agt sekondes lank op een been.
  • Hardloop op tone.
  • Loop op ’n balansbalk.

5 jaar

  • Begin om fiets te ry sonder kantwieletjies.
  • Huppel goed, maar soms nog rukkerig.
  • Vang ’n bal met hande, beweeg die liggaamsposisie in die rigting van die bewegende bal.
  • Bons en vang ’n tennisbal.
  • Vang ’n boontjiesak.
  • Staan nege sekondes of langer op een been.
  • Staan 10 sekondes of langer op tone met hande op heupe.
  • Loop op tone op balanseerbalk.

6 jaar

  • Spring oor ’n stokkie wat 20 cm bo die grond gehou word.
  • Sterspronge.
  • Ry goed fiets.
  • Huppel goed en gekoördineerd.
  • Bons en vang ’n tennisbal met een hand.
  • Staan 15 sekondes lank op een been met oop oë en 5 sekondes met toe oë.

Moenies

Onthou jou baba of kleuter se spiere ontwikkel nog en moet geleidelik sterker word. Wees dus versigtig om hom te ooreis. Betrek hom gereeld – ’n paar keer elke dag – vir kort rukkies by groot motoriese speletjies en hou op as jy sien hy is moeg, eerder as dat jy hom een maal per week heeltemal ooreis en dan moed verloor.

Moet nooit toelaat dat die speletjies vir jou kind soos werk of straf begin voel nie. Maak saam tuin nat, spit, trek die swaar tuinslang tot op die regte plek, strek om die regte plekkie nat te spuit, stoot saam
kruiwa en trek onkruid uit. Laat hy die inkopiesakke help dra, speel met die honde, laat hom toe om die hout vir die braai aan te dra.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees