Dis te skattig as kleingoed sleeptong praat of sukkel om hul tongetjies om moeilike grootmenswoorde te kry. Maar wanneer jou kind ouer word, raak dit minder oulik. Dan wonder jy: Is dit normaal as Jannie oor sy woorde struikel, of nog nie ’n “s” of ’n “r” reg kan uitspreek nie? En moet jy ’n spraakterapeut se hulp inroep, of kan jy die saak sommer self oplos?

Ons bekyk drie tipiese spraakprobleme van voorskoolse kinders, en drie kundiges sê hoe jy dit kan aanpak.

Probleem 1: Hakkel

Daleen Klop, spraaktaalterapeut van Stellenbosch, is Suid-Afrika se hakkelghoeroe. Sy sê onvlothede kom in alle mense se spraak voor.

“Dis wanneer die onvlotheid so erg is dat dit inmeng met jou vermoë om te kommunikeer dat daarna verwys word as ’n spraakafwyking of hakkel,” verduidelik sy.

’n Kind hakkel wanneer daar ’n versteuring is in die deel van sy neurologiese stelsel wat spraak beheer. Hoewel spanning en emosionele faktore ook tot hakkel kan bydra, is dit nooit die hoofoorsaak nie.

Oorerflikheid speel ’n rol en mense wat hakkel, het dikwels gesins- of familielede wat ook hakkel. Dit word nie aangeleer of nageboots nie, en jy hoef dus nie bekommerd te wees dat jou kind sal begin hakkel as hy blootgestel word aan iemand wat hakkel nie.

Daleen sê kinders tussen 3 en 5 jaar is dikwels onvlot. Dit gebeur omdat hul spraak en taal nog besig is om te ontwikkel.

Spraak-onvlotheid kan egter toeneem as daar ontwrigting in die huis is, soos wanneer julle trek, ’n nuwe baba opdaag of daar ’n egskeiding is.

Soms duur die onvlotheid net ’n paar weke. Normale onvlotheid skakel nie oor in hakkel nie en verdwyn gewoonlik vanself, sê Daleen.

“Jy kan help deur ’n rustige spraakomgewing te skep deur stadiger te praat, rustig te luister tot jou kind klaar gepraat het en hom nie in die rede te val of sy sinne vir hom te voltooi nie. Wees geduldig en gee hom baie tyd. Moet hom nie aanjaag of probeer reghelp nie. ”

As jou kind se onvlotheid vererger of hy gefrustreerd raak oor sy spraak, kan jy ’n
spraaktaalterapeut raadpleeg. Raadpleeg trouens dadelik ’n terapeut as jy bekommerd is. Die terapeut sal die onvlotheidspatroon kan ontleed en onderskei tussen normale onvlotheid en vroeë hakkelry. Indien nodig, sal terapie en ouerleiding aanbeveel word.

Vroeë behandeling bied die grootste kans op sukses. Hoe ouer jou kind, hoe meer vasgelê is die patroon en hoe meer kan komplikasies en emosionele probleme ontstaan.

Probleem 2: Lispel

Daar is verskillende soorte lispel, sê Corneli Strydom, nog ’n spraaktaalterapeut van Stellenbosch.
Die minder opmerklike vorm is soos dié van die Britse sjef Jamie Oliver, wie se “s” net nie baie skerp klink nie.

Maar by party mense hoor jy die gelispel duidelik wanneer hul tong tussen hul tande deurkom.
Een van die hoofoorsake van so ’n tongstotery is die afwesigheid van voortande. “Kinders wat hul voortande vroeg wissel, is meer geneig om te lispel omdat ’n mens eintlik jou tande nodig het om die klank te vorm. As jy die klank leer wanneer jy nie voortande het nie, kan jy dit verkeer aanleer,”sê Corneli.

Selfs kinders wat later wissel, kan begin lispel wanneer hulle nie voortande het nie. “Party oorkom dit, want hulle het voorheen reg gepraat. Maar ander haak vas en dit lyk asof hulle net nie weer die regte patroon in hul geheue kan opspoor nie.”

Kinders met lae spiertonus is ook soms geneig om te lispel.

Anders as hakkel, is ’n gelispel nie oorerflik nie. Dis meestal aangeleerde spraakgedrag. As iemand lispel met wie jou kind ’n sterk band het, kan hy sy uitspraak daarop baseer en self begin lispel, sê Corneli.

Kinders behoort die “s” teen vier jaar oud korrek te kan uitspreek in Afrikaans, en teen vier en ’n half jaar oud in Engels. So nie, is dit wys om ’n spraakterapeut se hulp in te roep.

“ ’n Gelispel word as ’n spraakprobleem beskou,” sê Corneli. “ Mense frons as ’n groot man sy ‘s’ tussen sy tande sleep. Hulle dink ook dikwels iemand wat lispel, is dom. Kinders word daaroor geterg en kan sielkundig geknou word as hulle nie hulp kry nie.”

Dis ook nogal ’n kuns om jou kind te help sonder om hom gespanne te maak. Dit werk soms om jou kind daarop attent te maak deur te sê “Moenie dat jou tongetjie uitkom nie”. Maar ander kinders kan baie gespanne raak as jy hulle reghelp, veral wanneer die gelispel al sterk vasgelê is, sê Corneli. Sy beveel 4 stappe aan:

  1. Maak seker jou kind kan hoor die klank wat hy vorm, is nie so skerp nie. Hy moet leer onderskei tussen ’n gelispel en ’n regte skerp “s”.
  2. Laat hom die “s” probeer vorm en skerper maak.
  3. Laat hom rympies opsê en oefen, soos Sannie sê Sannie Sal Sewe Sakke Sout Sleep.
  4. Hou sy spontane spraak dop, want baie kinders sê die rympie perfek maar lispel wanneer hulle normaal praat.

“As dit nie werk nie, maak ’n afspraak by ’n terapeut. Sy sal vir julle ’n tuisprogram ontwikkel,” is Corneli se raad.

Probleem 3: Probleme met “r”

Kobie du Plessis, nog ’n spraaktaalterapeut van Stellenbosch, sê die meeste kinders kan teen vier jaar die “r” reg uitspreek en sommiges selfs vroeër. Maar selfs al leer jou kind dié klankie eers in graad 1 of 2, is dit nog normaal.

Sommige leer bry deur nabootsing omdat iemand na aan hulle, soos ’n ouer, bry. Dit beteken egter nie dat alle kinders van ouers wat bry, ook sal bry nie want hulle hoor natuurlik die standaard-“r” ook op ander plekke.

Soms bry ’n kind, al bry nie een van sy ouers nie. Dis gewoonlik vanweë ’n motoriese onvermoë om die “r” korrek uit te spreek, sê Kobie. ’n Kind vergoed dan daarvoor deur die “r” te vervang met ’n bryklank of ’n ander r-produksie soos ’n trilling in die wang of ’n “l” of ’n “h”. Soms sal hy die klankie sommer net weglaat.

As ’n motoriese probleem die oorsaak is, is dit belangrik dat jou kind se spraakmotoriese vermoë verbeter word sodat hy kan leer om die klank korrek te vorm.

In sommige Afrikaanssprekende gemeenskappe word ’n bry-r as ’n dialek of spreektaal beskou en nie as ’n spraakafwyking nie. As jy jou kind goed verstaan of meen sy bry-r is deel van sy identiteit, moet jy jou nie daaroor bekommer nie.

As dit egter sy verstaanbaarheid aantas of hy voel selfbewus daaroor, kan julle gerus professionele hulp inwin.

Kobie sê dis belangrik dat jy ’n goeie spraakmodel verskaf deur duidelik met jou kind te praat. Waak egter daarteen om jou kind die hele tyd reg te help of daarvan bewus te maak dat hy anders praat.
Met dié lekker speletjies kan jy jou kind help om sy tongetjie reg te laat lê om ’n “r” te sê:

  • Beweeg die tongpunt binne-in die mond al in die rondte: Maak die huis skoon met die besempie (tongpunt), vee die dakkie (verhemelte), ruite (wange) en voordeur (lippe).
  • Beweeg die tongpunt vinnig op en af en sê “La-la-la-la-la-lielielielie” ens. Ry met ’n karretjie en sê “Bbbbbbrrrrooom”. Blaas jou lippe vir ’n trilling.
  • Sê vinnig terwyl jy ’n speelgoed-padda laat spring: “Padda-padda-padda”. Later word dit dalk “parra-parra-parra”.

Wees geduldig, raai Kobie aan. “Die r-klank is nie so maklik om te leer nie en party kinders sukkel lank daarmee. Neem liewer jou kind vir spraakterapie indien jy bekommerd is of die probleem te lank voortduur. Vra jou spraaktaalterapeut vir oefeninge spesifiek vir jou kind, want alle oefeninge help nie vir alle kinders nie.”