Stimuleer jou kind se brein optimaal

akkreditasie
Hoe jou kleintjie se brein ontwikkel bepaal hoe sy eendag op skool gaan vaar.Ons wys jou hoe om haar denke van kleintyd af reg te stimuleer.

Die brein is ’n ongelooflike skeppingswonder. Dis die plek waar alles in jou kind se liggaam bymekaar- kom; waar sy denke, bewegings, taal en gevoelens beheer word.

Jou baba se breintjie begin drie weke ná bevrugting al vorm en in die eerste drie jaar ná haar geboorte ontwikkel dit teen ’n fenomenale spoed. Wanneer sy drie jaar oud is, is haar brein al 80 persent van sy volwasse breingrootte.

As jy verstaan hoe jou kleinding se brein werk, kan jy help om dit optimaal te ontwikkel. Elke ervaring, emosie, aksie of voorwerp waaraan jou kleinding blootgestel word, het immers ’n invloed op hoe haar brein vorm.

Die wonderwerk van die brein

Jou baba se brein bestaan met geboorte uit biljoene spesiale senuweeselle of neurone. Dié selle stuur en ontvang boodskappe deur middel van prikkels wat van sel na sel beweeg. In die proses word bepaalde paadjies of verbindings tussen die senuselle gevorm waarlangs inligting oorgedra word.

Hoe meer ’n paadjie gebruik word, hoe vinniger sal inligting daarlangs oorgedra word. As dit nie gebruik word nie, kan dit verlore gaan.

’n Brein bestaan uit dié drie dele:

  • Die breinstam: Dié deel is veral verantwoordelik vir lewensonderhoudende funksies soos asemhaling, hartklop, bloeddruk en sluk en is met geboorte al goed ontwikkel. Dit speel ook ’n rol in slaap.
  • Die serebellum: Dit speel ’n belangrike rol in die integrasie van die sensoriese inligting wat dit van die oë, ore en spiere ontvang en om fyn bewegings te koördineer.
  • Die serebrum: Dis die groot grys deel en bestaan uit vier lobbe wat elk spesifieke prikkels verwerk en interpreteer. Een lob beheer denke, beplanning, organisasie, probleemoplossing, korttermyngeheue en beweging. ’n Ander lob verwerk sensoriese inligting soos smaak, temperatuur en aanraking. Nog ’n lob verwerk inligting wat van die oë af kom, en die laaste een verwerk inligting oor reuke, smake en klank en speel ook ’n rol in geheue.

Jou kleinding se brein ontwikkel in ’n bepaalde volgorde wat direk verband hou met haar liggaamlike ontwikkeling. Afhangende van jou gene, sal sekere dele van die brein beter by een mens ontwikkel as by ’n ander.

Onder 2 jaar

Met geboorte is jou baba se brein sowat 25 persent van sy volwasse grootte. Hoewel daar reeds breinpaadjies gevorm is, is nog baie meer nodig en sal jou kleinding teen haar tweede verjaardag reeds meer as 100 biljoen sulke verbindings hê – omtrent die helfte van wat sy as volwassene sal hê.

Die eerste twee jaar is die senso-motoriese fase van jou kind se verstandelike ontwikkeling. Die fokus is dus hoofsaaklik op sintuiglike en motoriese ontwikkeling.

Aanvanklik kan jou baba net 25 cm ver sien en net in swart en wit, maar breinskanderings wys dat haar brein teen twee maande aktief besig is met visuele take.

Teen omtrent vier maande kan sy al byna so goed soos ’n volwassene sien. Sy kan met geboorte al goed hoor, maar haar reaksie op geluide is aanvanklik refleksreaksies. Teen vier maande kan sy al haar kop doelbewus draai in die rigting waaruit sy ’n geluid hoor.

Jou kleinding se bewegings is aanvanklik onbeheers, maar binne vier maande sal genoeg breinpaadjies ontwikkel het dat sy haar ledemate doelbewus kan beweeg om iets reg te kry. Sy sal aksies oor en oor herhaal – so word verbindings tussen die breinselle versterk en ervarings in haar geheue vasgelê.

Teen maand ses sal sy voorwerpe doelbewus kan manipuleer en begin verstaan dat sy ’n invloed op die dinge om haar het. Ná haar eerste verjaardag kan sy al op ’n meer ingewikkelde manier dink en
voorwerpe as werktuie begin gebruik, soos om ’n speelding met ’n stok nader te haak.

In die senso-motoriese fase raak jou baba baie belangrike groot motoriese vaardighede baas: Sy leer sit, kruip en rol. Ná haar tweede verjaardag verfyn sy haar motoriese bewegings en balans en word sy
ook vaardiger met fyn motoriese aksies.

Aanvanklik ervaar jou baba net twee emosies – kalmte of spanning – maar dit brei mettertyd uit. Teen ’n jaar oud is die hippokampus, wat geheue beheer, goed genoeg ontwikkel dat jou peuter sal onthou wat ’n paar uur tevore gebeur het. Sy begin ook voorwerppermanensie verstaan.

Teen 18 maande word die serebellum ryper, wat haar met die begrip van tyd help. Nog verbindings word in die serebrale korteks (grysstof van die brein) gevorm, wat taalontwikkeling aanhelp. Jou baba
ontwikkel al in haar eerste lewensjaar spraakvaardighede, maar dis in haar tweede jaar dat kommunikasie veral ’n belangrike rol speel.

Stimuleer so

  • Gee jou kleinding soveel blootstelling moontlik aan sintuiglike stimulasie. Laat haar ’n verskeidenheid klanke, smake, reuke en visuele beelde of vorms beleef.
  • Borsvoed haar eksklusief in die eerste ses maande; dis die beste breinkos wat jy kry. Gesels daarna met jou dokter oor yster- en omega 3-aanvullings.
  • Raak jou kleinding gereeld liefdevol aan en stimuleer haar vel met massering.
  • Verander gereeld jou baba se omgewing sodat sy nuwe dinge het om na te kyk.
  • Moenie haar beweging onnodig beperk deur haar ure lank in ’n motorstoeltjie of swaai te los nie. Gee haar soveel vryheid van beweging moontlik. Beweging vermeerder die verbindings tussen die breinselle.
  • Kruip, loop en klim verbeter ook heelbreinvaardighede.
  • Moedig haar aan om te kruip deur speelgoed effens buite haar bereik te plaas sodat sy daarna uitreik.
  • Kruip is baie belangrik; navorsing wys ’n verband tussen ’n gebrek aan kruip en latere leerprobleme. Wanneer jou kind arm- en beenbewegings uitvoer wat die middellyn oorsteek, word die twee kante van die brein gedwing om te kommunikeer en versterk die senuweepaadjies wat die kante van die brein verbind. Dit help later met lees en skryf.
  • Lees vir jou kind. Navorsing wys kinders se taal ontwikkel beter as hulle al van drie maande af stories hoor.
  • Speel musiek. Studies het gewys musiek dwing jou om sowel die linker- as die regterkant van die brein te gebruik en bevorder heelbreinontwikkeling.

Onder 4 jaar

In dié tyd is dit veral die middelste deel van jou kind se brein wat ontwikkel. Dit hou verband met sy emosies, taalvaardighede, selfbegrip en sosiale vaardighede.

Sy taalgebruik word nou meer volwasse, maar sy denke bly steeds onlogies en hy verstaan die lewe hoofsaaklik uit sy eie perspektief. Sy redenasievermoë is nog baie eensydig.

Jou kleinding se verbeelding sal nou begin blom, maar hy kan sukkel om fantasie en werklikheid te onderskei. Hy begin saam met ander kinders speel eerder as net langs hulle.

Hy kan die verskille en ooreenkomste tussen voorwerpe sien en begin om die verhouding tussen dinge te verstaan. Hy kan byvoorbeeld sien waar ’n vorm in ’n vormsorteerder hoort sonder dat hy dit fisiek hoef te toets.

Jou kind kan nou al inligting vir kort rukkies onthou en dit akkuraat weergee. Sy langtermyngeheue begin ook ontwikkel. Dis nou die tyd van eindelose vrae aangesien jou kind woordslim genoeg is om so
uiting aan sy nuuskierigheid te gee.

Teen sowat drie jaar oud begin sy tydsbegrip verbeter en verstaan hy daaglikse roetines en spesiale geleenthede soos Kersfees, maar hy weet nog nie regtig hoe lank ’n jaar is nie. Hy het ook al ’n begrip van getalwaarde en verstaan die doel van tel.

Stimuleer so

  • Verbeeldingspel oefen jou kind se vermoë om lateraal te dink. Gee hom baie geleentheid vir fantasiespel deur ’n kis met konsertklere byderhand te hou.
  • Lei hom om sy verskillende emosies te benoem en help hom dit reg kanaliseer. Laat hom sy emosies teken.
  • Sorg vir genoeg sosiale interaksie en spel saam met maatjies.
  • Leer jou kind basiese sosiale vaardighede soos om asseblief en dankie te sê, te groet en te deel.
  • Laat hom met ’n verskeidenheid kunsmedia en -tegnieke eksperimenteer. Detailwerk soos om binne die lyne in te kleur of skrifpatroontjies te maak oefen sy linkerbrein terwyl vrye tekeninge waar hy sy kreatiwiteit en spontaneïteit kan uitleef, die regterkant oefening gee.
  • Klei speel is ’n uitstekende heelbreinoefening omdat albei handjies saam moet werk.
  • Laat hom blokkies bou. Hy gebruik albei hande hiervoor en het soms logiese denke nodig, asook kreatiwiteit wat die hele brein oefen.
  • Maak seker jou kleinding se dieet bevat genoeg omega 3-vetsure. Dis te kry in olierige vis soos salm, makriel en sardientjies.
  • Speel speletjies wat die ouditiewe geheue oefen. Dit sal hom later help om opdragte op skool makliker uit te voer. Klap ’n ritme en vra hy moet dit nadoen, gee drie lawwe opdragte wat hy in volgorde moet uitvoer of leer hom rympies en liedjies.
  • Oefen sy visuele geheue; dit kan later met spelling help. Pak ’n paar voorwerpe op ’n skinkbord en laat hom daarna kyk. Verwyder een en kyk of hy kan sê wat dit was. Of gooi die voorwerpe toe en laat hom onthou wat hy gesien het.
  • Laat hom speel, speel en speel. Spel ontwikkel jou kind se emosies, sy lyfie, sy woordeskat en sy denke.

Onder 6 jaar

Dis nou die tyd wanneer die buitenste deel van die brein met die gepaardgaande linker- en regterfunksies optimaal ontwikkel. Jou kind se temperament en denkvoorkeure word bepaal deur watter kant die sterkste werk. Kinders wat regterbreindominant is, is gewoonlik visueel, kreatief, intuïtief ingestel en het ’n geheelbeeld van inligting, terwyl linkerbreindominante kinders meer verbaal, logies en ontledend is en meer in detail na dinge kyk.

Teen vyf jaar oud is jou kind se brein byna 90 persent van die volwasse breingrootte. Sy geheue raak ál beter en hy kan sy aktiwiteite die volgende dag al vooruit beplan. Hy kan voorwerpe sorteer terwyl
hy twee eienskappe in ag neem, soos vorm en kleur.

Hy begin nou stadigaan onderskei tussen fantasie en werklikheid. Sy tydbegrip word ál beter. Hy kan die name van vorms leer en kan tussen ’n verskeidenheid kleure onderskei. Hy kan tel en selfs sekere letters herken. Hy kan ingewikkelde fyn motoriese vaardighede uitvoer soos om’n skoenveter te knoop.

Stimuleer so

  • Vertel stories. Taal is die basis van baie ontwikkelingsfasette. Vertel vir jou kind stories en vra dat hy dit terugvertel of sy eie storie opmaak.
  • Moedig jou kind se nuuskierigheid aan en probeer om al sy vrae te beantwoord. So leer jou kind outomaties.
  • Lei hom om kreatiewe antwoorde op probleemvrae te vind. Dit stimuleer die regterbrein.
  • Moedig jou kleinding aan om kamma te lees. As sy oë van links na regs en van bo na onder beweeg en hy simbole begin herken, word sy linkerbrein baie goed geoefen. Die visualisering van beelde en ervaring van emosies oefen weer die regterbrein.
  • Leer hom liedjies; dit stimuleer die linkerkant van die brein. As hy daarop dans of sy eie liedjies opmaak, stimuleer dit weer die regterkant.
  • Gun hom hope tyd op die klimraam. Dit gee sy brein uitstekende terugvoer oor sy posisie in die ruimte en sy sin vir rigting en is ook goed vir middellynkruising en balansoefeninge.

Wenk: Hou in gedagte dat jou kind nie soos ’n volwassene kan dink nie omdat hy fisiek nog nie daardie vermoë het nie. ’n Kind sal byvoorbeeld moeilik verstaan dat die inhoud van 'n kort, dik tweeliter-houer dieselfde is as dié van lang, dun tweeliterhouer. Sy breintjie sukkel om met meer as een eienskap op 'n slag te werk en hys al du sna die lente kyk sonder om die breedte in ag te neem.

Dit strem breingroei

Stres: As ’n baba kwaai mense ervaar, werk die brein op oorlewingsvlak en is dit dus minder ontvanklik vir leer.

Gebrek aan aanraking: Die aanraaksintuig ontwikkel reeds voor geboorte en baie van jou kind se leerervarings hou daarmee verband.

Geen stimulasie: Studies wys doeltreffende stimulasie kan die struktuur, grootte en chemiese werking van ’n kind se brein verander.

Wanvoeding: ’n Ondervoede kind se brein sal waarskynlik kleiner wees as normaal en sy IK sal laer en taalontwikkeling swakker wees. ’n Kind is op sy sensitiefste vir wanvoeding of dieettekorte in die eerste twee jaar ná geboorte.

Mishandeling: As ’n kind mishandel word, sal sy breinontwikkeling daaronder ly.

Oorstimulasie

Dis belangrik om ’n balans te vind tussen te min en te veel stimulasie. As ’n kind oorgestimuleer
word, kan sy haar later eenvoudig afsluit van alles om haar sodat sy eintlik minder leer. Tekens
van oorstimulasie is prikkelbaarheid, ongelukkigheid, ’n gebrek aan konsentrasie, ’n onwilligheid om op
stimulasie te reageer en as sy saans sukkel om aan die slaap te raak.

Hou jou kind se reaksie dop en laat jou deur haar lei. As sy wegdraai wanneer jy iets met haar wil doen,
is dit dikwels ’n teken dat sy genoeg gehad het.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees