Stout kinders bestaan nie

akkreditasie
iStock
'n Etiket soos 'stout' is onbillik en selfs gevaarlik, maar dit beteken nie jy hoef nie jou kind se onvanpaste gedrag reg te stel nie. Ons vertel jou hoe.

Stout, soet, moeilik, maklik ... Is dit woorde waarmee jy (en ander mense) jou kind in ’n kategorie plaas? Beproef ’n slag ’n ander perspektief en fokus op jou kind se spesifieke gedrag en patrone van optrede – en wuif totsiens vir daardie etiket, wat nie vir jou of jou kind help nie.

Dissipline-kenners sê graag ’n mens kry nie stout kinders nie, maar wel stoute gedrag. Jou taak as ouer is om te keer dat daardie stoute gedrag ’n patroon word, want dit kan die lewe vorentoe net moeilik maak. Só gaan jy te werk:

Realistiese verwagtinge

Moenie te gou ’n gedragsversteuring diagnoseer nie. Hou jou kind se ouderdom in gedagte, want sekere “stout” optredes is heeltemal normaal vir ’n tweejarige, maar ’n probleem as dit nog by ’n tiener voorkom.

Teen sowat 18 maande verstaan jou peuter wat “nee” beteken, maar sy gaan nie noodwendig luister nie. Sy is in ’n verkenningsfase, en jou “nee” gaan nie sommer in die pad staan van haar ontdekking van die wêreld nie.

Jy mors jou tyd as jy met haar probeer redeneer, want dit kan sy ook nog nie doen nie. Op hierdie ouderdom werk aandag-aftrekking baie goed om haar weg te stuur van die ongewenste gedrag. Teen twee kan jou kind al beter gehoor gee aan opdragte en sal sy graag met alles wil help. Moedig dit aan, al duur alles langer!

Teen vyf verstaan sy al mooi hoe dinge werk, maar jy sal haar nog elke dag moet herinner aan die reëls en altyd ’n ogie hou. Dis normaal. Bly vriendelik en ferm.

Teen ses en sewe begin jou kind alles bevraagteken. Hulle wil weet hoekom sommige dinge reg is en ander verkeerd. Gee gerus ’n verduideliking, en moenie net kwaai sê “omdat ek so sê nie”. Kinders van hierdie ouderdom hou eintlik van reëls!

Positiewe aandag

’n Kind sal soveel aandag opslurp as wat ouers kan gee. Hulle soek aanhoudend reaksie van ma en pa, maar as hulle klein is onderskei hulle nog nie lekker tussen positiewe en negatiewe aandag nie.

Jy kan jou kind se gedragspatrone in die regte rigting stuur as jy sorg dat jou positiewe reaksies sterker en meer is as jou negatiewe reaksies.

Die kenners sê jy moet jou kind gereeld “vang” waar sy iets goeds doen, en nie net heeltyd wanneer sy iets stouts doen nie. Lewer dus positiewe kommentaar wanneer sy pragtig in die sandput speel, en moenie net skel wanneer sy die emmer sand by die huis indra nie.

Goeie gedrag moenie oorgesien en geïgnoreer word nie, want dan word dit nie vasgelê nie. Beproef dit – hoe meer aandag die goeie gedrag kry, hoe minder geneig sal jou kind wees om stout gedrag te kies.

Ken jou kind

Elke kind is uniek, en jy moet dit nooit vergeet nie! Jou “stout” kabouter is dalk net ’n vurige, intense en ekspressiewe mensie wat dinge meer bevraagteken en haar misnoeë meer passievol uitdruk as haar rustiger boetie.

Soms bots ’n ouer en ’n kind se temperament ook lynreg. Wees bewus daarvan en as dit die oorsaak is van botsings, sal jy as die grootmens werk daarvan moet maak.

Stel grense in

Grense by die skool is dikwels strenger as grense by die huis, wat ’n mens kan verstaan, want daar is net een juffrou en 25 kinders. Veral as jou kind van nature kriewelrig is, kan jy haar help deur tuis ook ’n voorspelbare struktuur te hê sodat sy gewoond daaraan kan raak.

Dit sal haar aanpassing op die skoolbanke makliker maak. Begin haar by die huis al leer om te fokus op die taak wat sy begin het en dit klaar te maak, soos byvoorbeeld ’n legkaart of ’n inkleurprentjie.

Kies jou woorde en metode

Ouers is die skrywers van die draaiboek van hul kinders se lewe. Wat hoor jou kinders die heeltyd by jou, en hoe laat dit hulle voel?

As jy gedurig raas en baklei, gaan sy later moed verloor en haar selfbeeld gaan ’n knou kry, want sy gaan begin glo sy doen nooit enigiets reg nie.

Die geheim is om onaanvaarbare gedrag met ’n positiewe benadering om te swaai, eerder as om gedurig te dreig en straf. Gestel jou kind wil nie gaan bad nie: Pleks daarvan dat jy haar dreig, kan jy verduidelik dat as sy dadelik gaan bad, daar nog tyd vir ’n ekstra storie sal wees. So leer jou kind ook dat samewerking positiewe resultate het.

Kinders van ses of sewe kan ook gewys word hoe hulle die lewe vir hulleself lekkerder maak as hulle saamwerk. Probeer om nie te raas oor ’n deurmekaar kamer nie, maar sê eerder jy sal haar pogings om netjieser te wees ’n bietjie beloon. Sterkaarte werk uitstekend.

Wanneer sy ’n goeie poging aanwend, kry sy ’n sterretjie, en as sy genoeg sterretjies het, gaan eet julle roomys of iets dergeliks. Jou kind moet die lekker van optrede en gevolg ervaar, en nie net die sleg van optrede en straf nie. Pas leiding, geduld en herhaling toe tot die goeie patroon gevestig is.

Reageer só

Wanneer jou kind iets stouts gedoen het, moet jy wel sorg dat sy ’n negatiewe gevolg ervaar. Hou dit ouderdomstoepaslik en billik. Bly kalm, en laat haar mooi verstaan dat haar optrede ontoelaatbaar is. Ouer kleuters kan ’n verduidelik kry, maar die kleintjies moet eenvoudig uit die situasie verwyder word.

Moenie jou kind se selfbeeld knou of haar minderwaardig laat voel deur haar met ander te vergelyk nie. Moet ook nie die straf uitstel tot later in die dag of later in die week nie. Teen daardie tyd het sy lankal vergeet wat sy gedoen het en hoekom, en die straf sal net soos wreedheid voel.

As jou kind reeds vasgevang is in ’n onaanvaarbare gedragspatroon waar sy herhaaldelik dinge doen wat ander mense seermaak of in gevaar stel, maatjies of diere doelbewus seermaak, leuens vertel om straf te ontduik of goed opsetlik breek, kan jy professionele hulp inroep. Wees net gewaarsku dat die terapie vir ’n ruk lank eers die gedrag vererger voor dinge beter word. Druk deur.




Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees