Uitsittyd wat werk

akkreditasie
Gebruik uitsittyd om jou kleingoed te dissiplineer. Ons vertel jou hoe om dit te laat werk.

Onthou jy nog hoe die stoute kinders in die klas hoekie toe gejaag is en daar met hul rug teen die klas moes staan? Dit was ’n basiese vorm van uitsittyd. Vandag span baie ouers uitsittyd in om jong kinders te dissiplineer.

Dis ’n sagte, maar doeltreffende manier om hulle te leer wat goeie en onaanvaarbare gedrag is, maar dit moet reg gebruik word – saam met ’n duidelike stel huisreëls wat konsekwent toegepas word, en sonder woede. Dié artikel wys jou hoe om uitsittyd ’n positiewe leerervaring vir jou kind te maak.

Wat is uitsittyd?

Dis ’n dissiplinetegniek wat gebuik word om ’n kind van enige ouderdom wat ’n reël oortree het of wie se gedrag onaanvaarbaar is, vir ’n bepaalde tyd van die toneel te verwyder. Dit steek ’n stokkie voor verdere swak gedrag. Dit kan ingespan word vir kinders van so jonk as agttien maande tot twee jaar oud en werk tot so ses jaar oud, soms selfs tot in die voortienerstadium.

Die idee is dat jy jou kind van jou aandag ontneem en hom isoleer. Onthou dat enige aandag, selfs woede en raas, steeds aandag bly.

Uitsittyd is nie ’n geleentheid om vir jou kind te preek nie. Dit help in elk geval nie om wanneer gemoedere hoog loop, met hom te probeer redeneer nie. Dit gee aan jou en jou kind ’n geleentheid om asem te skep en te bedaar.

Uitsittyd kan suksesvol toegepas word saam met ander dissipline-metodes soos om jou kind vir ’n bepaalde tyd van sy gunsteling-aktiwiteite of -besittings te ontneem.

Wanneer is uitsittyd aangewese?

Dit hang van jou af. Gewoonlik werk dit goed wanneer ’n kind buite beheer is of herhaaldelik ’n reël oortree. Dit kan enigiets wees van sy sussie se hare trek tot die kat aan die stert optel.

Die goue reël is dat jy enige vorm van dissipline konsekwent moet toepas. Dis dus ’n goeie plan om voor jy besluit om uitsittyd as strafmetode te gebruik, met jou kind daaroor te praat. Julle albei is dan kalm en jy kan vir hom verduidelik waarom en wanneer hy uitsittyd gaan kry en wat die doel daarvan is.

As jy hom dus uitsittyd gee, kan jy hom daaraan herinner dat julle saam daaroor besluit het. Jy kan dit inspan wanneer kinders baklei, mekaar slaan of ’n woede-uitbarsting kry. Verkieslik moet almal wat die kind versorg dieselfde metodes en reëls hê vir wanneer uitsittyd toegepas word.

Herinner jou kind wanneer julle albei kalm is, wanneer en hoekom hy uitsittyd kry.

Hoe maak ek?

Normaalweg is dit beter om die kind ’n waarskuwing of twee te gee. Wees ferm. Probeer om nie jou humeur te verloor of te skree nie, maar maak met elke waarskuwing jou stem meer ferm en dringender: “As jy weer jou sussie se hare trek, gaan jy uitsittyd kry.”

As jou kind dan nie luister nie en voortgaan met sy gedrag, tel jy hom op of neem hom aan die hand en vat hom na die plek waarop julle vooraf besluit het. Moenie in ’n gesprek of onderhandeling met die kind betrokke raak as jy eers op uitsittyd besluit het nie. As hy protesteer wanneer jy hom na die uitsittyd-plek neem of jou skop of slaan, probeer om dit te ignoreer. Die kind moet besef dat jy ’n besluit geneem het en daarby gaan hou.

Waar moet uitsittyd plaasvind?

Omdat die doel van uitsittyd is om die kind van die toneel te verwyder en hom ’n kans te gee om te kalmeer, is dit beter as die plek waar uitsittyd plaasvind ’n ander kamer is as waarin die oortreding plaasgevind het. Omdat kleiner kinders maklik bang kan word as hulle alleen gelaat word, is dit beter om vir hulle dalk ’n spesifieke plek in die gesinskamer te kies.

Jou kind moet dan daar gaan sit of staan (verkieslik met sy rug na die res van die kamer). As jy besluit hy moet na sy kamer of enige ander kamer toe gaan, maak seker dat die kamer veilig is.

Dit moet ’n geleentheid vir hom wees om tot bedaring te kom, dus moet daar liefs niks in die kamer wees soos ’n TV-stel of speelgoed wat hom kan besig hou of amuseer nie. Moet nooit sy bed vir uitsittyd gebruik nie. Hy kan sy bed met negatiewe dinge begin verbind en dit kan sy slaappatroon ondermyn.

Hoe lank moet uitsittyd duur?

Weer eens hang dit van jou af. Jy en jou kind moet albei tot bedaring kom. Uitsittyd begin eers wanneer jou kind stil is. Veral ouer kinders is geneig om te protesteer nadat uitsittyd begin het. Maak dit duidelik dat uitsittyd dan weer van voor af begin.

Die ouderdom van jou kind speel ’n groot rol in hoe lank uitsittyd kan duur. Kleuters kan nie vir lank stilsit nie moet dus nie te lank wag nie, anders lei dit tot nog meer frustrasie.

As jou kind sy plek of stoel gedurende uitsittyd verlaat, tel hom op en sit hom terug. Jy hoef nie in ’n debat betrokke te raak nie. Gewoonlik is een minuut per jaar genoeg. ’n Kind van vyf kan vir vyf minute uitsittyd gegee word. Jy kan ’n kookwekker inspan sodat almal kan sien hoe lank die uitsittyd duur en wanneer dit verby is.

Wat van ander kinders?

Niemand mag praat met die kind wat uitsittyd kry nie, anders is dit nie uitsittyd nie. Dis belangrik dat die ander kinders in die huis, veral die groter kinders, dié reël eerbiedig en hul samewerking gee. Hulle mag hom nie spot of enige aandag gee nie. Jy moet ook nie met die kind praat nie. As die ander kinders met hom praat, kan hulle ook uitsittyd kry.

Wat doen ek as uitsittyd verby is?

As jy besluit het uitsittyd is verby, gaan roep jou kind en gee hom ’n drukkie. Verseker hom van jou liefde. Moenie weer oor die oortreding of gedrag praat nie, want dit kan gemoedere weer laat vlam vat. As die kind genoeg gekalmeer het, vra hom om om verskoning te vra vir sy gedrag of vir die slagoffer van sy gedrag. Hy moet verstaan dat uitsittyd gemik word teen sy gedrag en nie teen hom nie. Waak daarteen om nie jou kind se selfbeeld te skaad deur hom skuldig of sleg te laat voel oor homself nie.

As hy hom van voor af sleg gedra, gee hom weer uitsittyd. As jy dit konsekwent toepas, behoort dit uiteindelik werk.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees