Jou kind se geheue is iets wat geleidelik ontwikkel. Sekere dinge moet vir kort rukkies onthou word, soos dat mamma gevra het sy moet ’n rooi waslap gaan haal, en ander dinge moet vir lank onthou word, soos dat ‘a’ vir appel staan.

Al twee soorte onthou is belangrike boustene vir leer. Jou kind se brein is al van geboorte af besig om strategieë te ontwikkel wat haar sal help om inligting te herroep en te onthou. Jy kan daardie proses ’n hupstoot gee met ons praktiese voorstelle.

Probeer hierdie wenke

  1. Speel gereeld kaartspeletjies wat gerig is op geheue-ontwikkeling, soos Memory Cards.
  2. Pak voorwerpe op ’n skinkbord uit. Laat jou kind goed daarna kyk. Verwyder dan een ding sonder dat sy sien wat. Sy moet dan sê wat jy weggevat het. Maak die speletjie ál moeiliker deur ál meer voorwerpe te gebruik of die posisie van die voorwerpe te verander of haar kyktyd korter te maak.
  3. Speel onthouspeletjies in die motor. Sê: “Ons hou piekniek en vat ’n mandjie.” Sy moet herhaal wat jy sê en een item byvoeg: “Ons hou piekniek en vat ’n mandjie en ’n appel.” Dan’s dit weer jou beurt om te herhaal en by te voeg. Kyk hoe lank die lysie kan word voor sy iets vergeet.
  4. Wanneer julle krale ryg of blokkies bou, konsentreer op patrone of kleure wat jou kind moet naboots en herhaal. Pak die patroon, laat sy daarna kyk, verwyder dit dan en kyk of sy dit uit haar kop kan pak.
  5. Vra jou kind om die inkopieslys te help onthou.
  6. Vra jou kind elke aand wat sy daardie dag vir ontbyt geëet het, wat in haar kosblik was en of sy kan onthou wat sy vir middagete gehad het.
  7. Leer haar visualiseer. Voor kindersleer skryf, vorm hulle begrippe met die hulp van prente. As jy die woord “pen” hoor, sien jy in jou geestesoog die voorwerp self en nie die woord “pen” nie. Moedig jou kind aan om dinge te visualiseer voor sy dit doen.
  8. Leer haar oor haar metageheue. Metageheue is die vermoë om te verwoord hoe iets onthou word. Jy “praat” deur die ding wat jy wil onthou om dit te vestig, byvoorbeeld die patroon van die krale wat julle ryg: “Een bloue, dan ’n rooie, en ’n gele. Die rooi kruip tussen die blou en die geel weg.” Deur hardop te beskryf wat sy wil onthou, raak dit maklik.
  9. Goeie luistervaardighede is nou verbind met ’n goeie geheue. Sê vir jou kind om mooi te luister en dan alles te teken wat jy sê. Begin met ’n lys van drie diere. As sy dit maklik regkry, maak die lys langer en langer.
  10. Kinders leer deur te luister, te sien en te beweeg. Span al drie in om haar te help om iets te onthou. Wys haar die voorwerp, sê vir haar die naam daarvan en laat sy haar voete stamp op die maat van wat jy sê.
  11. Vra haar uit oor goed wat gister gebeur het, of laas week, of laas somer. Hoe meer gereeld sy inligting moet herroep. hoe meer oefening kry haar brein. 
  12. Leer haar assosiasie. As sy opdragte of 'n roetine moet volg, kyk of jy dit kan laat rym of allitereer: "Dis tyd vir bak, borsel, boek en bed." Lê dan klem op die 'b'-klank. 
  13. Skaak is een van die beste bordspeletjies om geheuete oefen. 
  14. Leer jou kind van jongs af om haar omgewing te orden. Wys haar hoe 'n mens opruim- kinders weet dit nie vanself nie. As dinge altyd op dieselfde plek gebêre word, hoef 'n mens nie later te probeer onthou waar jy dit gelos het nie- jy weet mos waar dit is!