Kinders geniet dit om televisie te kyk en dit hou hulle ’n bietjie onder jou voete uit terwyl jy gou kosmaak. Is dit dan regtig so sleg, veral as jy hulle net opvoedkundige programme laat kyk? Dit hang af...

Kinders tussen twee en vyf leer deur met die wêreld om hulle in aanraking te kom. Aktiewe tyd saam met jou, ’n maatjie of buite in die vars lug is die heel beste vir breinontwikkeling.

Daar is ook ’n direkte verband tussen die hoeveelheid ure voor die televisie en ongesonde eetpatrone en vetsug – dis al deur talle studies bewys. En het jy al gesien hoe ’n kind sitlê voor die kassie? In uiterste gevalle kan hulle selfs skeletprobleme ontwikkel!

Die hartseerste nadeel van televisie is egter dat dit jou kind kan beroof van sy natuurlike verwondering aan sy wêreld. Op televisie is alles ’n boeiende spektakel, met klank en beeld wat sonder tussenposes stimuleer. Alles word so geredigeer dat net die opwindendste oomblikke uitgesaai word. Wanneer dié fantasiewêreld dan afgeskakel word, kan die werklike wêreld maar bra saai voorkom.

Hou ’n bietjie die kleingoed dop by die volgende kinderpartytjie – baie van hulle word glad nie meer beïndruk deur ’n towenaar, nar of poppekas nie, want daardie vermaak kan nie kers vashou by televisie se ontploffings en flitsende ligte nie. Of moes jy ook al in die dieretuin hoor dat die uitstappie vervelig is, want die leeu lê dan net en wil nie jag soos op televisie nie?

Kinders is ook groot na-apertjies en dis gevaarlik (in die ergste gevalle) as hulle animasie-karakters se spronge wil namaak, kompleet met ’n kreet in ’n Amerikaanse aksent daarby. En dis hartseer (in die minder ernstige gevalle) as hulle ontoereikend begin voel omdat hulle nie alles kan doen wat die kinders op televisie kan doen nie. Op televisie is alles so maklik – enige probleem word binne die halfuurbestek van die program opgelos. As die wêreld daar buite maar net so gewerk het...

Kinders kan ook glad nie onderskei tussen advertensies en programme nie, en jou kind is ’n sagte teiken wat geprogrammeer word om dinge te wil hê waarvan sy dalk nie eens sou geweet het as sy dit nie op televisie gesien het nie.

En die laaste rits nadele: Kleuters wat te veel kyk, se slaappatroon word versteur; kinders bemeester baie gou die afstandbeheerder en kan maklik op onvanpaste programme afkom soos rofstoei; hulle begin met irriterende aksente praat.

Wenke vir gesonde TV-tyd

Hoeveel?

Beperk televisietyd tot byvoorbeeld ’n halfuur per dag vir ’n peuter en ’n uur per dag vir ’n ouer kleuter. Julle kan ook ’n reël maak om glad nie soggens te kyk nie, of glad nie naweke nie – wat ookal jul gesinsopset pas. Stel ’n goeie voorbeeld deur self minder te kyk. Maak seker almal wat na jou kinders omsien weet wat die reël is. Julle kan ook ’n reël maak dat daar nie televisie gekyk word wanneer maatjies kom kuier nie.

Wat?

Hou by opvoedkundige programme en DVD’s, of neem jou kind se gunsteling-programme op en kyk dit oor en oor. Kies veral programme wat jou kind se deelname vereis, soos dat sy moet saam sing, of iets moet doen soos hande klap.

Hoe?

Probeer aktief kyk ... Kyk saam met jou kind en gesels oor wat julle sien. Vra jou kind uit oor hoe hy die storie interpreteer. As iets sy belangstelling geprikkel het – soos ’n dier,plek of kultuur – soek saam daarna in ’n boek, of teken agterna prentjies daarvan. Moet glad nie voor die televisie eet nie. Moenie die televisie pal aanhou as agtergrondgeraas nie.

As jy streng kan wees tydens die voorskoolse jare, sal jou kind elke dag meer ware leergeleenthede hê en sal sy nie later op televisie staatmaak as haar hoofbron van vermaak nie.