Daar is 'n wesenlike verskil tussen speel (wat verbeelding bou, koördinasie ontwikkel en reëls en verantwoordelikheid leer) en boelie (wat daarop gemik is om ander seer te maak en te intimideer).

Die woord boelie roep dadelik ’n magdom beelde op: afknouery, baasspelerigheid, geniepsigheid, treitering, tirannisering en selfs mishandeling.

Maar wat presies is boelie?

Om as boelie geklassifiseer te word, moet die gedrag herhaal word
(dis dus nie iets wat net een keer gebeur nie), doelbewus wees en ’n teiken hê (op iemand spesifiek gemik word) en daar moet ’n wanbalans van mag wees (boelies is dikwels groter, sterker of ouer).
 
Anders as wat baie mense dink kan sowel seuns as meisies boelies wees, maar die manier waarop hulle boelie kan wel verskil. Boeliegedrag kan enigeen van dié drie vorms aanneem:

  • ’n Verbale geboelie, soos wanneer skeldname gebruik of iemand gedreig word.
  •  ’n Sosiale geboelie, waar sekere maatjies uitgesluit word.
  •  ’n Fisieke geboelie, soos wanneer iemand geslaan, gestoot word of sy besittings afgeneem word.

Boeliegedrag het nie net ’n uitwerking op die slagoffer nie, maar ook op die kinders wat dit sien gebeur. In ’n Australiese studie het ’n skrikwekkende 95 persent van laerskoolkinders erken dat hulle al “boelie-toeskouers” was. Vir dié “toeskouers” is boeliegedrag ook angswekkend en hulle kan begin vrees dat hulle volgende sal deurloop.

Hulle kan ook skuldig voel dat hulle nie iets kon doen om dit te voorkom of omdat hulle nie hul maatjie kon help nie.

Hoe ’n geboelie jou laat voel

Een van die belangrikste maniere om boeliegedrag vas te vat, is om self betrokke te raak. Maar baie ouers weet nie dat hul kind boelie of geboelie word nie. As jy weet jou kind het onder ’n boelie deurgeloop, is jou eerste reaksie gewoonlik woede: Hier kom Mamma Beer, niemand kan haar keer!

Die gevaar hiervan is dat as jy kwaad is, kan jy jou kind aanmoedig om terug te baklei, of jy kan die reg in jou eie hande probeer neem.  Sommige ouers (dikwels dié wat self as kind geboelie is) voel weer magteloos en doen niks om die situasie te beredder nie. jonger.

Hulle leer hul kinders om die boeliegedrag te aanvaar en daarmee saam te leef, en herhaal so dié verkeerde magtelose patroon.

Daar is ook ’n groep ouers wat op straf vir die boelie aandring. Dis egter nie altyd doeltreffend nie want dit kan jou kind magteloos laat voel (hy weet steeds nie hoe om die boelie te hanteer nie) en
hou die gevaar in dat die boelie jou kind net ál meer sal teiken.

As jou kind die boelie is ...

Hoe reageer ouers wat besef dat hul kind die boelie is?

Sommiges word kwaad en straf hul kinders op onbehoorlike maniere wat tot gevolg kan hê dat die boeliegedrag net vererger. Ander ontken dat hul kind ’n boelie kan wees en pak die skuld op allerhande ander dinge (“My kind kan nie help dat hy so sterk is nie; hy probeer nie ander seermaak nie”) of op ander mense (“Die ander maatjie het daarvoor gevra”).
 
Dis egter belangrik om die boelieprobleem aan te spreek omdat dit nie vanself sal verdwyn as ’n mens dit ignoreer nie. Ignorering van boeliegedrag stuur daarby ’n verkeerde boodskap aan jou kind uit.

Kyk of die probleem nie dalk ’n logiese oorsprong het nie, soos ’n spraak- of gehoorprobleem. Dikwels raak kinders baie gefrustreerd omdat hulle nie verstaan word nie (bv. weens onduidelike spraak) en hulle haal dit dan op ander kinders uit. Sorg dat jou kind se dag ’n duidelike roetine het omdat dit hom veilig laat voel.

Soms kan ’n skielike verandering soos ’n verhuising of egskeiding ’n kind sy balans laat verloor sodat hy skielik ’n boelie word. Beloon altyd alle positiewe gedrag.

Wat kan ouers dus doen?

Ongeag watter voet die boelieskoen dra: Jou betrokkenheid as ouer is van kardinale belang. Praat daarom altyd met die juffrou of dagmoeder – maar moet liewer nie aanvallend wees nie, anders ervaar juffrou jóú as ’n boelie. Vra haar of sy iets gesien het. Vertel jou kant van die storie en maak seker van die feite. Vra haar vir haar raad en hulp en ook dat sy jou op hoogte hou van wat gebeur.

Volg dit elke dan en wan verder op. As jy baie seker is dat daar wel ’n boelieprobleem is, moet die
probleem stelselmatig aangespreek word, ook met die boelie se ouers.

Strategieë vir kinders wat boelie, geboelie word of wat net toeskouers is:

  • Praat met jou kind en laat haar verstaan dat jy net kan help as jy weet wat aangaan. Luister na haar stories, bly kalm en moenie kant kies nie. Onthou dat elke saak drie kante het: jou kind se kant, die ander kind se kant en die regte kant.
  • As jou kind sukkel om haar gevoelens te verwoord, kan stories (of ander speelgoed soos handpoppe) op ’n speelse manier gebruik word om haar te wys hoe om met boelies klaar te speel. ’n Goeie boek is Paul Shipton se Die Anti-Boelie Masjien (ISBN 0-19-578412X).
  • Vertel jou kind gereeld dat jy nie boeliegedrag goedkeur nie en hoekom jy so voel. Verduidelik mooi hoekom jy nie wil hê sy moet ander boelie nie: “As jy vir Simon slaan maak dit hom seer” of “Hoe sal jy voel as Marni jou skeldname noem?” Beklemtoon dat jy nie eens die subtielste, kleinste vorm van boelie goedkeur of duld nie, soos ’n negatiewe opmerking nie.
  • Leer jou kind hoe om vrees en woede te hanteer sodat sy nie alles binnehou of woedeuitbarstings kry nie.
  • Vermy enige vorm van boelie by die huis. Sorg dat daar nie ’n magstryd tussen jou kinders ontstaan nie en gebruik konfliksituasies om hulle te leer om dit op die regte manier op te los.
  • Help jou kind om aan alternatiewe te dink en om aanspreeklikheid vir haar gedrag te aanvaar. Moedig haar aan om te verduidelik hoekom sy op ’n bepaalde manier opgetree het en leer haar dan om op ’n gepaste manier te sê dat sy jammer is. Dit is nie genoeg om net bloot “jammer” te sê nie, sy moet sê hoekom sy jammer is en om vergifnis vra terwyl sy oogkontak maak: “Ek is jammer ek het jou gebyt, Lize-Marie. Sal jy my asseblief vergewe?” In die begin gaan dit maar sukkel-sukkel, maar volharding is op die lang duur lonend.
  • Leer jou kind van jongs af om vir ander mense om te gee (empatie) en om die goeie in ander raak te sien, eerder as om belangriker as ander te wil voel. Stel ’n goeie voorbeeld van respek,omgee, samewerking en vriendelikheid en onthou dat jou voorbeeld meer as jou woorde tel.
  • Leer jou kind dat aggressie net meer aggressie ontlok en hoe sy konflik moet hanteer: “Wat dink jy kan werk? Wat doen jou maatjies as iemand hulle seermaak?”
  • Bou jou kind se taaiheid en leer haar om minder seine uit te stuur wat van haar ’n sagte teiken maak. Leer haar ook hoe om haar te laat geld, hoe om haar eie opinie te lug, hoe om ’n ferm stem te gebruik en hoe om toepaslike oogkontak te maak. Dit kan groot pret wees om hierdie vaardighede tydens aandete in ’n rolspelsituasie aan te leer!
  • Leer jou kind hoe om maats te maak en om weg te bly van maats wat haar nie met respek behandel nie. Dis ’n nuttige lewensvaardigheid wat eendag handig te pas sal kom in die werksituasie.
  • Maak dit duidelik dat boelies almal se probleem is – dié wat boelie, dié wat geboelie word en selfs die ander wat kyk hoe dit gebeur. Deur niks te doen nie as jy sien dat iemand geboelie word, versterk jy die boelie se gedrag.
  • Wanneer jou kind die boelie is, is dit belangrik om die gedrag en die kind te skei: “Jy is ’n oulike maatjie, maar ons kan jou nie toelaat om die ander kinders te byt of skop nie, en ons moet jou leer om op te hou.”
  • Laaste, maar beslis nie die minste nie, moet alle kinders, selfs die heel kleinstes, die vyfpunt-boelieplan geleer word.

Verduidelik die vyfvingertjie-plan so vir jou kind:

  •  Duimpie is groot en sterk – net soos ’n grootmens. Vertel vir juffrou,
  • pappa of mamma as iemand jou boelie, want dan kan ons jou help.
  • Duimpie se maat is ons wysvinger. Wys vir die maatjie hoekom boelie verkeerd is. Wys hom deur hom in die oë te kyk en dit
  • hardop vir hom te sê.
  • Langeraat is jou grootste vinger en hy vra “Hou op!”

Ringeman wil nie deel wees nie en hy draai om en loop weg. Ringeman gaan soek ’n gawe maatjie.
Pinkie is die kleinste en as die boelie nie so erg is nie, sê Pinkie ons moet dit sommer ignoreer.

Hetsy jou kind ander boelie, self geboelie word of dalk ’n “boelietoeskouer” is, jou reaksie en optrede gaan ’n blywende indruk laat. Om boeliegedrag in die voorskoolse jare te voorkom of aan te spreek kos baie tyd en harde werk, maar dit is elke druppel sweet werd. So word die moontlikheid van onder meer depressie, selfmoord, eetversteurings, dwelmmisbruik en selfs skoolslagting verminder.

Terselfdertyd help jy jou kind om te ontwikkel en te verander in iemand wat ander respekteer en wat omgee – en sulke mense vorm die hoeksteen van ’n gesonde samelewing. Met dié vyfvingertjie plan sê ek my sê en staan ek my man!