Voed jou kind se verbeelding

akkreditasie
Moenie sommer jou peuter se verbeelding as nonsens afmaak nie. Wakker dit eerder aan en jou kind sal blom.

Die ouderdom 1 tot 3 jaar is die mees verbeeldingryke tyd in ’n kind se lewe. Kinders van dié ouderdom leer nog hoe die wêreld werk. Hulle eksperimenteer, want hulle kan meestal nog nie vooraf voorspel wat gaan gebeur nie.

Vir hulle is alles nog moontlik – dit kan paddas reën, diere kan praat of selfs motor bestuur. Daar is geen perke nie.

Hierdie ouderdom se verbeeldingsvlugte kan soms skreeusnaaks wees, maar dis nie jou werk as ouer om die heeltyd uit te wys wat werklikheid is en wat nie “waar” is nie. Jy sal jou kind veel beter help groei en ontwikkel as jy sy verbeelding inspan en gereeld saamspeel.

Verbeeldingsvlugte is ouderdomsgepas en jy hoef jou glad nie daaroor te bekommer dat jou kind nie tussen werklikheid en speel-speel kan onderskei nie. Hoe meer hy van die wêreld leer, hoe meer leer hy wat “reg” en “verkeerd” is.

Hoekom?

Jou peuter se breintjie is fluks aan die groei. Sy breinselle kommunikeer heen en weer met mekaar en hierdie konneksies tussen die selle vorm later deur herhaling netwerke. Dis dié netwerke wat hom toelaat om te dink en leer. Die netwerke wat nou vasgelê word, sal hom vir die res van sy lewe help.

Hoe meer hy ’n netwerk gebruik, hoe sterker word dit vasgelê, en ’n netwerk wat nie gebruik word nie, verdwyn mettertyd. Deur sy verbeeldingskrag aan te moedig, help jy sy brein om netwerke te vorm.

Hoekom is dit goed?

  • Jou peutertjie leer deur verbeeldingspel om probleme op te los, want hy moet vooruit beplan en met verskillende moontlikhede vorendag kom, elkeen ondersoek, en dan besluit watter een die beste oplossing bied. Dis ’n vaardigheid wat hy deur sy hele lewe gaan nodig hê.
  • Jou kleintjie leer ook deur sy verbeelding om aanpasbaar te wees wanneer hy met nuwe situasies gekonfronteer word. Wanneer dinge dan nie presies so uitwerk soos hy gedink het nie, is dit nie ’n krisis nie, want hy beskik oor genoeg verbeelding om die nuwe of veranderende situasie te hanteer.
  • Deur sy verbeelding oefen jou kind vir die lewe. Hy gaan winkel toe, hy gesels oor die foon, hy bestuur ’n motor, hy maak tee of besoek die dokter... Alles in sy kop, ja, maar dit bring die dag wanneer hy hierdie dinge werklik self gaan doen soveel nader. As ’n kind (of grootmens!) nie dink dat hy iets sal kan doen nie, sal hy dit ook nooit kan doen nie.
  • Jou kind bou aan sy woordeskat deur sy verbeelding te gebruik. Met elke nuwe ervaring waaraan hy blootgestel word, leer hy nuwe woorde en sinne.
  • Om verbeeldingspeletjies te speel is ’n wonderlike manier om prettige tyd saam met jou peuter deur te bring. Jy betree sy wêreld en dit is baie goed vir julle binding.
  • Haar verbeelding laat jou kleuter toe om enigeen te wees, negatiewe emosies te ontgin, nuwe dinge wat sy geleer het te toets en om dinge te laat uitwerk soos sy wil hê hulle moet. Sy is in beheer!

Gee sy verbeelding vlerke

Moedig mimiekspel aan

Dis veral goed vir klein peuters wat nog nie so baie praat nie. Laat hom ’n pop kosgee of bad, soos wat jy vir hom doen. Of laat hy die gesin se kat na-aap wat op vier bene rondloop en opkrul om te slaap en dan luilekker strek.

Lees baie boeke en prentjieboeke voor

Wees dramaties wanneer jy lees, en as jou kleintjie al lekker praat, laat hy die boekie vir jou “lees”. Moedig hom aan om self op te maak wat gebeur as hy nie so lekker onthou nie. Vra “wat gebeur volgende?” voor julle omblaai.

Vertel stories uit jou eie kleintyd en sy eie babadae

Hy sal dit vreeslik geniet om die hoofkarakter van ’n storie te wees. Maak dit opwindend en vra hom om saam te vertel.

Vra “wat as?” vrae as julle iewers heen ry

Dit sal jul motorritte ook meer rustig maak en iets word waarna hy sal uitsien. Vra “wat sal gebeur as die motor nou vlerke kry?”

Luister saam verskillende soorte musiek

En sing, dans of speel saam. Jou kind sal ’n gevoel ontwikkel vir die verskillende emosies en ritmes wat deur die musiek uitgebeeld word.

Moedig kamma-kamma-spel aan

Jou kind kan enigiets wees wat hy wil van ’n koning tot ’n superheld tot ’n voëltjie in die lug. ’n Paar hulpmiddels sal die speletjie nog interessanter maak. Span alledaagse goed hiervoor in – bokse, toiletrolle, ’n paar potte en dalk ’n omgekeerde tafel en ’n kombers of twee is al wat nodig is.

Ruil rolle

Jy is die kind, en hy’s die ouer. Hy sal baie leer van sy eie gedrag, en wees gewaarsku: jy sal leer hoe hy jou sien!

Sit ’n slag die televisie af

Die Amerikaanse akademie van pediaters beveel aan dat kinders onder 2 glad nie televisie kyk nie. Maar as jou kind wel gaan kyk, probeer dan saam kyk en gesels oor wat julle sien.

Leer om jou te verlusting in ’n lekker gemors

Modderkoekies, verf, waterspel, klei – dis alles uitstekend vir jou kind se verbeelding. Smul dan lekker saam aan die denkbeeldige sjokoladekoek, plak sy kunswerke teen die muur op, bewonder sy kleiskeppings, en onthou, water word weer droog!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees