Vrees vir honde

akkreditasie
My vierjarige seuntjie word angsbevange as hy 'n hond sien. Ek verstaan dit glad nie, want hy het nog nooit 'n nare ervaring met 'n hond gehad nie. Ek en my man is baie lief vir diere en wil nie hê my seun moet 'n vrees vir honde ontwikkel nie. Hoe kan ek hom help? 

René Daniels (opvoedkundige sielkundige) antwoord: 

Kleuters het baie gevoelens, wat vrese en angstigheid insluit. Dit is baie algemeen dat hulle gevoelens van vrees vir diere projekteer weens die onbekende faktor. Dit is waarom soveel kleutervrese normaal vir sekere ontwikkelingfases is, soos om bang te wees vir vreemdelinge, skeidingsangs of vrees vir die donker.

Jy moet ook in ag neem dat kleuters absolutiste is; hulle kan nog nie verstaan dat goed en sleg in dieselfde ding bestaan nie. Dit kan ’n mens help om in gevaarlike situasies vrees te ervaar. Vrees skop die veg-of-vlug-reaksie aan die gang, wat jou help om jouself te beskerm.

Jy moet egter altyd in gedagte hou dat honde meestal ook bang vir kinders is, want hulle is onvoorspelbaar en terselfdertyd nog op dieselfde ooghoogte as die hond. Stel jou kind aanvanklik aan ’n opgestopte, wollerige hondjie bekend en later aan ’n battery-aangedrewe hond wat blaf en sy stertjie waai. Wys ook foto’s of video-opnames van honde.

Jy kan daarna ’n rustige hond vind wat nie sal opspring of aan jou kind lek nie. Hou die hond van ’n afstand af dop, byvoorbeeld van deur ’n venster. Jy moet jou kind deurentyd in jou arms hou vir beskerming en sekuriteit. Verduidelik vir hom dat ’n hond wat sy stert swaai, bly is om hom te sien en blaf is die hond se manier om met hom te praat. Jy kan later nader beweeg terwyl jy jou kind steeds vashou en die hond eienaar sy hond in sy arms vashou. Met ’n volgende keer moet dieselfde gebeur, maar julle moet nader beweeg om die hond te troetel. Moenie jou kind dwing as hy steeds bang is nie. Herhaal hierdie oefening ’n paar keer tot jou kind die hond op sy eie probeer troetel. As hy eindelik self die hond wil vashou, kan julle die hond versigtig saam vashou.

Beoefen uiterse geduld terwyl jy jou kleuter so minder sensitief maak. Jy wil nie jou kleuter se vrees vererger deur die proses te vinnig te doen nie.

Moet vir eers nie ’n groot ding van jou kind se vrees maak nie en as hy aan jou wil vasklou vir veiligheid, laat hom toe sonder om ergerlik te raak.

As jy met sy vrees gemaklik raak en dit erken deur te sê: “Jy is regtig bang vir die hond”, beweeg aan en gaan voort soos normaal. As julle verby ’n hond moet stap, dra hom of hou sy hand en stuur hom weg van die dier. Onthou ook maar dat party kleuters nooit hul vrees ontgroei nie en dit kan ’n fobie word wat professioneel behandel moet word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees