Watter tee vir baba?

akkreditasie
Lees hier watter soorte tee gesond is en wat jy liewer moet vermy.

Tee is naas water die drankie wat ter wêreld die meeste gedrink word. Dalk gryp jy ook na ’n koppie
tee omdat jy, noudat jy swanger is of borsvoed, aangesê is om weg te bly van die koffiepot.

’n Groot verskeidenheid soorte tee is volop beskikbaar, elkeen met sy eie bewerings van ’n hele rits gesondheidsvoordele. Voor jy dit vir jou baba en kleuter gee, kyk gerus saam met ons ’n bietjie dieper in die teekoppie en besin eers oor wat alles daar te sien is.

Swart tee

Bykans 80% van tee wat wêreldwyd geproduseer word, is swart tee en word van die Camellia sinensis-plant gemaak.

Om swart tee te maak word die blare blootgestel aan lug wat veroorsaak dat die ensieme wat natuurlik daarin voorkom, dit laat fermenteer. Hierdie proses gee teeblare ’n donkerbruin kleur. Daarna word dit gedroog en dan gestoom om enige mikroörganismes dood te maak.

Teeblare bevat flavonoïede, waarvan katekiene die volopste is. Tydens die fermentasieproses word die katekiene omgeskakel na ander flavonoïede, naamlik teaflaviene en tearubigene wat ons dan in tee kry. Dit is hierdie flavonoïede wat tee so ’n gesonde drankie maak.

Dit tree op as antioksidante wat selle teen die skadelike uitwerking van vry radikale beskerm en so ’n algemene positiewe uitwerking op gesondheid het. Tee se werking as antioksidant is so kragtig dat een koppie swart of groen tee drie keer meer doeltreffend is as ’n porsie van sommige groentes en meer as dubbel so doeltreffend is as sommige vrugte.

Navorsing wys dat as jy minstens 3 koppies swart of groen tee per dag drink (sonder suiker en melk, of met laevetmelk), dit jou risiko om hartvatsiektes te kry verlaag. Hoewel meer navorsing steeds gedoen word om dit te bevestig, kan tee moontlik ook ’n rol speel in die voorkoming van kanker en nierstene, en ’n positiewe invloed hê op beendigtheid en verstand.

Die beste manier om dié gesonde drankie in te neem is sonder suiker, en sonder melk as jy kan. Die meeste mense drink tee egter met melk, en as jy ook een van hulle is, kan jy voortgaan. Die melk se proteïene kan dalk die werking van die antioksidante verminder, maar belemmer nie die absorpsie
van die flavonoïede nie. Meer navorsing word nog gedoen om te bepaal of faktore soos die inname
van tee naby maaltye en byvoeging van suiker of suurlemoensap die absorpsie of aktiwiteit van flavonoïede beïnvloed.

As swart tee jou nie geval nie, kan jy English Breakfast, Earl Grey, suurlemoen- of lemoentee probeer. Dit is alles swart tee gemeng met speserye en geurmiddels. Ystee word gewoonlik ook van swart tee gemaak. Dit bevat egter ongeveer vyf teelepels suiker per blikkie, en hoewel dit ’n gesonder opsie as
gewone gaskoeldrank is, moet dit matig gedrink word.

Groen tee

Groen tee word van dieselfde blare as swart tee gemaak, maar anders verwerk. Die vars blare word eers vinnig gestoom om die ensieme te inaktiveer en so fermentasie te voorkom, en word daarna gedroog. Hierdie proses sorg dat groen tee meer van die flavonoïed katekien bevat wat in teeblare voorkom. Die katekiene is verantwoordelik vir die kenmerkende kleur en geur van groen tee.

Groen tee bevat ongeveer dieselfde hoeveelheid flavonoïede as swart tee, maar ander soorte. Heelwat
minder navorsing is al gedoen om die gesondheidsvoordele van groen tee te ondersoek.

Geen definitiewe voordele is nog bewys nie, maar dit lyk of groen tee moontlik, soos swart tee, ’n rol kan speel in beskerming teen hartsiektes, kanker, tandbederf en moontlik met gewigverlies kan help. As jy weer ’n ystee koop, beproef gerus een gemaak van groen tee.

Rooibostee

Rooibostee is ’n eg Suid-Afrikaanse kruietee wat van die Aspalathus linearisplant gemaak word. Dis ryk aan die unieke flavonoïede wat rooibostee, soos swart en groen tee, ook ’n goeie antioksidant maak.

Rooibostee word tradisioneel vir medisinale doeleindes gebruik, en word veral bemark vir babas vir die verligting van koliek, allergieë, asma en velprobleme. Min wetenskaplike studies is egter gedoen om dié gesondheidsvoordele te bewys omdat rooibostee tot onlangs slegs in Suid-Afrika gedrink is. Onlangse
studies toon dat rooibostee ook ’n rol kan speel in die voorkoming van hartsiektes deur onder meer cholesterolverlaging.

Die feit dat dit laag in tannien is en kafeïenvry, maak rooibostee die ideale tee vir swanger vroue, borsvoedende ma’s en kinders. Dalk is daar in jou kas ook ’n pakkie rooibostee spesiaal vir jou kleuter.
Hierdie tee is soms organies of ’n bietjie soeter, maar nie noodwendig beter as die pakkie vir grootmense nie.

Kruietee

Kruietee kan gemaak word van gewone teeblare waarby kruie, vrugtesap, heuning of ander versoeters of geurmiddels gevoeg is. Wanneer kookwater oor kruie, blomme, wortels of speserye gegooi word is dit in der waarheid ’n kruieaftreksel, maar ons praat steeds daarvan as kruietee. Voorbeelde hiervan is kamille-, vinkel-, roosbottel- en kruisementtee.

Kruieteemengsels is ook oral op winkelrakke te kry.

Kamilletee

Kamilletee is een van die algemeenste kruietees en kan ook vir kinders gegee word. Dit word gebruik in kruieteemengsels vir koliek, slegte spysvertering en diarree. As jy gespanne is kan dit jou moontlik help om te ontspan.

Hoewel baie swanger vroue dit drink om oggendnaarheid te verlig, is dit nie bewys as veilig in swangerskap en tydens borsvoeding nie.

Gevalle van allergiese reaksies soos ’n veluitslag en selfs anafilaktiese skok is al aangemeld. Dit kan ook inmeng met medikasie soos warfarin en die uitwerking van kalmeermiddels verhoog.

Heuningbostee

Heuningbostee is ook ’n kruietee wat van Suid-Afrika afkomstig is. Dit word van die Cyclopia intermedia-plant gemaak en bevat ander flavonoïede as swart, groen en rooibostee. Heuningbostee word tradisioneel gebruik as geneesmiddel en as ’n ekspektorant vir chroniese slymvliesontsteking en tuberkulose. Daar is egter geen studies in mense gedoen oor hierdie tee nie.

Vinkeltee

Vinkeltee word soms in kruieteemengsels gebruik vir die verligting van koliek. Vinkel se langtermynveiligheid is egter onbekend en allergiese reaksies kan voorkom.

Pepermenttee

Pepermenttee word gebruik vir slegte spysvertering en om ’n omgekrapte maag te streel. Party mense gebruik dit om die pyn van ’n spastiese kolon te verlig. Daar is egter geen studies in mense gedoen om hierdie voordele te bewys nie.

Wees versigtig om dit te gee vir iemand met refluks, mantelvliesbreuk of nierstene. Sommige tuisgemaakte kruisementtees kan giftige olies bevat wat lewer- en senuweeskade veroorsaak.

Chinese steranystee

Steranystee is nog ’n kruietee wat gevaarlik kan wees.

Chinese steranystee word gebruik vir die behandeling van koliek in babas. Dit word egter soms verwar
of besmet met Japanse steranystee, wat giftig is. Hierdie tee behoort dus nie vir babas gegee te word nie. Dis trouens ’n goeie plan om geen tuisgemaakte kruietee vir jou kleinding te gee nie.

Wees versigtig vir vreemde kruietees

As jou vriendin vir jou ’n pakkie kruietee uit ’n Oosterse land saamgebring het, wees ook versigtig! Vreemde kruieteemengsels kan kruie bevat wat skadelik kan wees vir jou of jou ongebore baba. Sekere kruie in groot hoeveelhede kan lewerversaking, bloeding, asemhalingsprobleme of allergiese reaksies veroorsaak. Moenie altyd glo wat op die etiket staan nie.

Woorde soos “natuurlik” en “gesondheids-” laat die meeste mense dink dit is goed vir hulle, maar dit is nie noodwendig nie, so loop maar lig. Die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) berig oor verskeie soorte kruietee wat onder die mikroskoop bekyk is en daarvolgens met swamme en gis besmet is. Veral as jy swanger is en vir klein kinders kan dit gevaarlik wees. Wees liewer oorversigtig met jou baba en kleuter.

Tee en yster

Swart tee bevat polifenole genaamd tanniene wat die absorpsie van nie-heemyster met tot 50% kan verlaag wanneer dit saam in een maaltyd ingeneem word. Die katekiene in groen tee kan op
dieselfde manier ook die absorpsie van nie-heemyster belemmer. In volwassenes sonder ’n risiko vir ystertekort behoort normale hoeveelhede tee nie ysterstatus te beïnvloed nie.

Swanger vroue, babas en kinders het egter baie hoë ysterbehoeftes en indien te min yster ingeneem en geabsorbeer word, kan dit maklik lei tot ystertekort. As jy swanger is, en ook vir jou kleuter, is
dit dus beter om tee saam met maaltye te vermy; as jy dit drink moet dit minstens een uur voor of ná ’n maaltyd wees.

Die absorpsie van nie-heemyster kan bevorder word deur ’n vitamien C-ryke kos of drankie saam met jou maaltyd te geniet. Babas en enigiemand met ystertekort-anemie moet liewer wegbly van swart tee.

Tee vir babas?

Jou baba groei teen ’n snelle pas en daarom het sy baie groot hoeveelhede voedingstowwe nodig vir so ’n klein lyfie en magie. Die beste kos vir babas is dus dié wat in ’n klein hoeveelheid baie voedingstowwe bevat. As ons borsmelk en rooibostee met mekaar vergelyk is dit duidelik dat rooibostee nie melk kan vervang nie.

Tee of water wat in die eerste week van jou baba se lewe gegee word meng in met borsvoeding en kan
maak dat jy vroeër ophou borsvoed as wat jy dalk beplan het. Selfs wanneer tee vir ’n ouer baba gegee word, vervang dit maklik haar melk en sy verloor dus baie waardevolle voedingstowwe wat haar lyfie nodig het.

Vrugte, groente en peulgroente bevat ook groot hoeveelhede van ’n verskeidenheid flavonoïede. Hierdie kosse is  beter bronne van dié gesonde komponente vir jou baba, aangesien dit ook baie ander voedingstowwe bevat.

Suiker, heuning, vrugtesap en koeldrank wat gewoonlik by babas se tee gevoeg word, het verdere nadele. As ’n baba heeldag aan ’n bottel tee drink of aan die slaap raak met een in haar mond sal dit tandbederf veroorsaak. Sommige babas en kinders drink liters rooibostee met suiker in. Wanvoeding is in sulke gevalle onvermydelik en kan selfs fataal wees.

Gaan spreek ’n dieetkundige wat jou sal help om die regte soort melk te kies. Hou die tee liefs vir die groter kinders en grootmense.

Feite

Haal die meeste uit jou tee:

  • ’n Beker (235 ml) swart tee bevat tussen 140 en 300 mg flavonoïede. Jy kan die meeste daaruit haal deur die tee sowat 4 minute te laat trek of dit eers minstens 3 keer te roer en die teesakkie uit te druk.
  • Tee sonder suiker het baie fluoried, wat gesonde tande bou en teen tandbederf beskerm.
  • Heuning mag nie vir babas onder een jaar gegee word nie weens ’n risiko vir botulisme, ’n dodelike infeksie.
  • Rooibostee kan nie as plaasvervanger vir melk gebruik word nie.

Water

Water is ’n noodsaaklike bestanddeel van alle liggaamselle en daarsonder kan ons nie leef nie. Dit is
die beste drankie om jou en jou kleuter se dors te les, en jy moet dus jou baba vandat sy begin eet
leer om water te drink.

Dit verskaf geen ekstra energie nie en is dus ideaal om kinders en grootmense te help om ’n gesonde gewig te behou. Dit bevat ook verskillende hoeveelhede minerale, afhangend van die bron. Een van die Suid-Afrikaanse Voedselgebaseerde Riglyne is: Drink baie skoon, veilige water. Dit is veral belangrik
vir swanger vroue en babas, wat meer kwesbaar is vir besmette water.

Jou baba se water behoort altyd gekook te word. As jy onseker is of jou omgewing se water aan die
nodige standaarde voldoen, vra die munisipaliteit. As jy ’n glas water uit die kraan tap en dis melkerig, hou dit fyn dop. As dit van onder af helder word is dit lug wat in die water opgelos is en hou geen gesondheidsgevare in nie. As dit egter van bo af helder word, kan dit skadelike stowwe bevat
en behoort jy jou munisipaliteit in te lig.

Water kan egter ook besmet word of vreemde smake kry van die pype in jou huis. Daarom laat baie mense deesdae ’n tuisfiltreerstelsel installeer. Dis belangrik dat filters gereeld vervang word om te voorkom dat chemikalieë en mikroörganismes opbou en weer in die water beland. Filtreerstelsels
help ook om die reuk en smaak van chemikalieë waarmee water behandel word te verwyder.

Borsmelk

Rooibostee (sonder suiker of melk)

100ml

Energie (kJ)

293

3

Proteien (g)

0,9

0,0

Koolhidrate (g)    

7,3                                             

0,2

Vet (g)

4,2

0,0

Kalsium (mg)

28

1

Vit. A (RE)

67

-

Kalium (mg)

58

4

Yster (mg)

0,04

0,0

Sink (ug)

120

20

Mangaan (ug)

0,6

20

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees