Wikkel daai lyfie: 3 - 5 jaar

akkreditasie
Daar gebeur ontelbaar baie dinge met jou kind se liggaam in sy eerste vyf lewensjare. Ons het vir jou ’n nuttige opsomming gemaak van wat daardie lyfie moet kan doen (en soms ook weer moet kan afleer) in die verskeie stadia.

Drie tot vier jaar

Wat kan jou kind doen?

Teen driejarige ouderdom is “jou baba” nie meer ’n baba nie.  Al die babavet het weggesmelt en hy of sy begin al hoe meer na ’n seuntjie of ’n dogtertjie lyk.

Hy kan nou:

  • op ’n reguit lyn stap
  • hak-toon loop
  • op een voet spring
  • enigiets met drie of meer wiele trap en stuur
  • op lere, klimrame en bome klouter
  • nie meer net die bal gooi nie, maar ook nou mik en ’n bietjie afstand begin kry
  • sy armpies reguit uithou om ’n bal te vang en die bal dan na sy bors bring
  • hardloop en ’n bal skop in ’n sirkel hardloop.

Hoe kan jy help?

Trek ’n lyn met bordkryt of plak een met kleefband en laat hom oefen om op die lyn te stap.
Bou beweging in roetine-take in, byvoorbeeld spring soos ’n hasie tot by die bad of galop om die etenstafel en dan gaan sit jy op jou stoel vir ete.

Moedig hom aan om op die grasperk en teen hellings op en af te rol. Hou die een punt van ’n handdoek vas.  Laat hom op die ander punt gaan lê en dit vashou en na jou toe rol, sodat hy hom in ’n kokonnetjie toerol.  Gee nou ’n rukbeweging sodat hy weer ooprol.

Skryf hom in vir swemlesse. Kenners sê kinders wat vroeg leer swem het ’n voorsprong – nie net fisiek nie, maar ook ten opsigte van hul gemaklikheid in die water. Jy kan selfs al in babadae daardie swempet begin aantrek. Die meeste swemafrigters aanvaar babas van ses maande af en leer hulle om van die maag af op hul ruggies te dryf. Teen 18 maande kan kinders in die water skop en iewers tussen twee- en vier-en-’n-half jaar begin hulle regtig swem. Maak seker jy kies ’n swemskool waar daar nie meer as drie of vier swemmers per afrigter is nie.

Laat jou kind speel. Al hoe meer kundigs meen jong kinders word benadeel omdat hulle nie genoeg speel nie.

Vier tot vyf jaar

Wat kan jou kind doen?

Middellyn-kruising is ’n belangrike bewegingsmylpaal vir hierdie ouderdomsgroep. Dís letterlik die vermoë om van die een kant van die liggaam na die ander kant van die liggaam te kruis, soos die regterhand wat kruis oor die middelpunt van die liggaam en ’n voorwerp aan die linkerkant van die liggaam optel. Die vaardigheid het onder meer ’n effek op latere lees- en skryf vaardighede.

Hy kan ook:

  • agteruit loop deur eers die toon en dan die hak op die grond neer te sit.
  • bolmakiesie slaan.
  • aan sy tone raak sonder om sy knieë te buig.
  • fietsry met of sonder sy-wiele.
  • tot tien keer in ’n ry vorentoe spring sonder om te val.
  • goed eenbeentjie op albei voete balanseer vir tot tien sekondes.
  • ten minste vier treë op ’n balanseerbalk loop – hy geniet nou balanseer speletjies.
  • ’n boontjiesakkie vang
  • ’n bal vang wat na hom gebons word
  • begin bewus word van die twee helftes van sy lyfie (al kan hy nog nie links en regs benoem nie)  
  • nou sy middellyn kruis - later leer hy ook om die twee helftes van sy lyfie gekoördineerd saam te gebruik (bilaterale integrasie) sodat hy teen vyf byvoorbeeld kan huppel.

Hoe kan jy help?

  • Leer hom behoorlik bolmakiesie slaan sodat hy nie seerkry nie.
  • Leer hom touspring.
  • Laat hom so veel as moontlik op ’n klimraam speel (of sommer net boomklim) – dít is baie belangrik vir sy sogenaamde ‘laterale bewuswording’ (oftewel dat hy weet sy liggaam het ’n linker- én ’n regterkant).
  • Leer hom van springspeletjies soos hinkspel (hopscotch) en sterspronge.
  • Staan ’n bietjie terug en laat hy homself aan die gang skop wanneer hy swaai.
  • Laat jou kind help met tuinwerk soos om blare te hark of dit bloot op te tel. Hy sal ’n hele paar motoriese vaardighede só slyp. 
  • Laat hy kruisbeen op die mat sit. Sit ’n entjie van hom af en rol nou ’n bal skuins na hom toe, eers na sy linker- en dan na sy regterkant toe. Hy moet die bal vang met albei hande deur slegs sy bolyf te draai.  
  • Doen aktiwiteite waar hy met een hand aan albei kante moet werk, soos legkaart bou of om met ’n grafie sand in ‘n emmertjie te skep waar die kind in die middel sit met die legkaartstukkies of sand aan sy een kant en die legkaartboks of emmertjie aan sy ander kant.
  • Hy mag net een hand gebruik om die legkaarte of sand van die een kant na die ander kant te kry. Laat hom hande ruil sodat hy die middellyn met albei hande kruis.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees