Sedert Maurice Sendak se kinderboek Wildekanisland (Waar die wilde dinge is) in 1963 verskyn het, het die storie die kleinspan óf eindeloos vermaak, óf hul broekspype laat bewe.

Dit vertel die storie van Max, ’n stout seuntjie wat sonder kos bed toe gestuur word en dan per boot reis na ’n eiland vol monsters. Dis ’n donker storie wat met enige kinderverbeelding op loop kan sit en die monsters onder jou kind se bed (en in jou onderbewuste) laat uitbars.

Max kraai uiteindelik koning, maar toe die boek in 2009 deur die regisseur Spike Jonze en die skrywer Dave Eggers in ’n fliek omskep is, het baie ouers gevoel dit is hopeloos te angswekkend om as kinderkykstof te dien. Nadat hulle die fliek gesien het, het baie ouers ander ouers afgeraai om hul kinders soontoe te neem. Dit het ’n heftige teenreaksie deur Sendak ontlok, wat aan die tydskrif Newsweek gesê het hy sal hom nie steur aan ouerlike bekommernisse dat die fliek – en die boek ook – te skrikwekkend vir kinders is nie.

As kinders dit nie kan hanteer nie, het hy gesê, moet hulle liewer huis toe gaan. Verlede jaar het dieselfde situasie hom herhaal met die fliek My Little Pony. Sommige Amerikaanse ouers het op openbare forums gemeen dat die fliek glad nie geskik is vir kinders jonger as vyf nie, al is dié ouderdom die grootste teikengehoor. Ouers het gevoel dis heeltemal te vreesaanjaend en het vertel van kinders wat so bang geword het dat hul ouers hulle uit die teater moes neem. Ander ouers kon egter nie begryp waaroor die bohaai is nie.

Dis niks nuuts nie

Of die hedendaagse kinderflieks, van Frozen tot The Amazing Spider-Man 2, nou meer vreesaanjaend is as hul voorgeslagte of nie, bly daar ’n belangrike punt te maak: Kinderstories bevat al eeue lank ’n element van vrees of gevaar. Dink maar aan die Grimm-broers se grusame sprokies soos Hansie en Grietjie: twee klein kindertjies word in ’n bos agtergelaat deur hul pa en ná ’n vreesaanjaende alleennag word hulle deur ’n mensvretende heks gevang wat hulle in ’n oond wil braai.

Kan dit veel erger? Baie ander sprokies is propvol wreedhede en skrikwekkende situasies. Baie kenners reken dit is dalk die kern van die saak: dat kinderstories veronderstel is om ’n bietjie angswekkend te wees, sodat kinders die emosies van vrees en angstigheid in die gemak en veiligheid van hul eie huis kan ervaar.

’n Leerkurwe

Kinders kan boeke of flieks dalk vreesaanjaend vind, maar ervaar dit baie minder intens as die vertroostende teenwoordigheid van pa of ma daar is. En, soos skrywers maar te goed weet, vreesgevoelens is deel van grootword. Dink daaraan as vrees in ’n veilige omgewing.

Kinders moet oefen hoe om vrees te hanteer, want die volwasse lewe is dikwels angswekkend. Selfs klein diertjies word deur hul ouers geleer om vir die volwasse lewe te oefen. Hulle speelveg en speeljaag mekaar en hul ouers leer hulle hoe om te jag. Dit is dieselfde met klein mensies: Die kinderjare is wanneer hulle oefen hoe om groot te wees.

Kenners redeneer dat ouers wat hul kinders uit die rolprentteater neem die oomblik dat hulle effens bang lyk, die hele punt misloop. Nie net hou kinders daarvan om – binne perke – bang te wees nie (hoekom anders is die uitdagende ritte in pretparke so gewild?), maar hulle het hierdie ervaring van hul meer uitdagende emosies nodig sodat hulle kan leer om weerbaar te word en ’n meer robuuste psige te ontwikkel wat hulle sal toerus met die vaardighede wat hulle later in hul lewe nodig sal hê.

Dr. Angharad Rudkin, ’n Britse kliniese sielkundige, sê dat ’n bietjie vrees gesond kan wees. “Die meeste ou sprokies en klassieke flieks het ’n bangmaak-element gehad,” sê sy. “Soos opwinding en geluk, is vrees net nog ’n element in die emosiespektrum. En as dit versigtig bestuur word, word dit net nog ’n emosie wat kinders op ’n veilige manier moet leer hanteer.” Jong kykers of lesers verdwaal nie regtig in ’n donker woud of moet ’n land vol monsters aandurf nie – die kinderkarakters doen dit namens hulle. “Dis nie hulle wat dit beleef nie, maar die karakter. Hulle ervaar dus hierdie gevoelens indirek, wat dit makliker maak om te oefen hoe dit voel om bang te wees.”

Vind jou gemaksone

Hoewel die onregstreekse ervaring van vrees oor die algemeen ’n goeie en gesonde ding vir kinders kan wees, moet ’n mens onthou dat sommige kinders buitengewoon sensitief en kwesbaar is, of geneig is tot ontstellende nagmerries. Die laaste ding wat hulle dan nodig het is vreesaanjaende beelde bo en behalwe dié wat hul ryk verbeelding reeds optower.

As jy ’n kind het wat in elk geval baie bang of sensitief is, moet jy hulle liefs nie na hierdie soort fliek neem nie. Daar is geen rede om hulle te dwing om iets te kyk wat hulle duidelik bang maak nie. Hoe jy jou kinders help om met die angswekkende materiaal om te gaan, hang van hul ouderdom af.

Teen agt tot 10 jaar kan jy baie meer met hulle gesels oor wat julle in die fliek sien en saam strategieë uitwerk as hulle dit wel wil sien. As ’n fliek hulle te bang gaan maak, maar hulle dit regtig graag wil sien, kan julle die DVD tuis kyk waar jy enige tyd die stopknoppie kan druk. Dit gee hulle ’n sin van beheer wat hulle nie in die teater het nie.

En, soos die Amerikaanse fliekresensent Eric D. Snider uitwys, moet jy altyd ’n fliek met ’n gelukkige einde kies. “In kinderflieks moet die held uitdagings in die gesig staar wat ’n mate van gevaar, hartseer of spanning inhou,” sê hy. “Maar hierdie stories is pret omdat die held altyd wen. Hy oorwin die angswekkende dinge en die gehoor deel in sy verligting en vreugde.” Want onthou: Na sy avonture in Wildekanisland kom Max huis toe om sy aandete in sy kamer te vind ... nog lekker warm. Hy het ’n ma wat hom onvoorwaardelik liefhet. En watter gelukkiger einde kan daar wees? 

Groot lawaai, weinig wol?

Die vraag ontstaan: Is ouers wat hul stem teen bangmaakflieks verhef oorbeskermend, of is “donker” flieks werklik te erg vir die kleinspan? Het ’n nuwe era van makabere kinderflieks aangebreek met tonele wat hopeloos te intens is vir sensitiewe jong gedagtes?

Baie mense was krities oor die meer realistiese, nie-animasieweergawe van Jungle Book, wat tonele bevat het wat jonger kinders bang kon maak. Flieks soos Malificent, The Spiderwick Chronicles, ’n verskeidenheid flieks deur Tim Burton soos Miss Peregrine’s Home for Peculiar Children en selfs die klassieke Charlie and the Chocolate Factory het al onder kritiek deurgeloop dat dit te vreesaanjaend is vir kinderkykgenot.

Nog voorbeelde is Coraline, ’n fliek wat selfs volwassenes koue rillings kan gee, en Pixar se Up, die storie van ’n knorrige, eensame ou man ná sy vrou se dood. En dan is daar natuurlik die Harry Potter-stories, wat algaande ál donkerder word. Maar is hierdie moderne kinderflieks erger as die kinderflieks van ouds? “Ek dink nie so nie,” sê Eric D. Snider, ’n Amerikaanse fliekresensent wat vir film.com skryf.

“Flieks het eerder makker geword en ons net meer papbroekig. Monstro die walvis in Pinocchio is skrikwekkend – en wat van Pleasure Island, waar die kinders in donkies verander word? Dit is mos goeie outydse nagmerrie-brandstof!”

By hierdie lys kan klassieke bangmaakprente gevoeg word soos Dumbo, Snow White en Chitty Chitty Bang Bang met die langneus-kindervanger wat sekerlik een van die mees angswekkende karakters is wat nog ooit in ’n fliek te sien was, wat nog te sê ’n kinderfliek. Dink Eric D. Snider Wildekanisland se fliekweergawe, Where the Wild Things Are, is buitengewoon angswekkend?

“Nee wat. Elke kind is anders en jy weet nooit regtig wat iemand bang sal maak nie, maar Where the Wild Things Are is nie meer vreeswekkend as baie ander flieks wat op kinders gemik is nie,” sê hy. “Ek is wel bly dat ouers aandag hieraan begin skenk. Alle strokiesprente is nie vir kinders bedoel nie en ouers maak soms die fout om hulle dan na flieks toe te neem waarvoor hulle te jonk is.

“Ouers moet hul huiswerk doen voor hulle die kinders ’n fliek laat kyk, anders kan jy jou kind iets wys waaroor jy dalk later spyt gaan wees,” waarsku Eric.

Te veel van ’n goeie ding

Amerikaanse ma’s en pa’s se skerp reaksie op bangmaakflieks het kundiges laat waarsku dat ouers deesdae so oorbeskermd is dat hul kinders versmoor. Die skuld word voor die deur van die media gelê en daar word gesê dat die media buite verhouding sterk fokus op die skokkende, maar eintlik baie seldsame gevalle van kinderontvoering, en dat opskrifte van misdaadverhale dikwels sensasioneel en selfs onakkuraat is.

“Ons is oorbeskermend en dra ons vrese as volwassenes aan ons kinders oor,” waarsku die Britse sielkundige dr. Angharad Rudkin. “Kinders word voortdurend vertel dat hulle nie buite mag speel of alleen skool toe mag loop nie omdat slegte goed met hulle kan gebeur. “Die wêreld is nie veel gevaarliker as ’n eeu gelede nie, maar ons tree op asof dit is.”

Roger Catchpole, ’n Britse opleidings- en ontwikkelingsbestuurder by ’n kindergeestesgesondheidsorganisasie, meen dat omstrede flieks net een voorbeeld is van ontstellende media-inhoud wat jong mense moet verwerk. “Ek twyfel of kinders meer bang gemaak word deur die beelde in ’n fliek as deur al die ander goed wat hulle daagliks om hulle sien,” sê hy.

“Ek het verlede jaar met ’n paar kinders gewerk oor wat hulle angstig maak en hulle het gesê dis nie die fantasiedinge nie, maar die dinge van die werklike wêreld soos bomme en oorloë en wat ook al hulle nog elke dag op die nuus sien.” Hy meen dit sou onwys wees om te veralgemeen oor die invloed wat sulke beelde op kinders het, aangesien elke kind uniek is en ’n klein maar beduidende persentasie van kinders meer kwesbaar is as ander.

“Navorsing wys dat sowat 10 persent van kinders ’n versteuring van die een of ander aard het, en dat nog 10 persent meer kwesbaar as die meeste ander kinders is.”