Bittersoet belonings

akkreditasie
Niks laat 'n kleuter so goed saamwerk soos die belofte van 'n stokkielekker wat wag nie, maar is die uiteinde soet of bitter?

As jy mooi glimlag vir die foto’s kry jy ’n gróót roomys op pad huis toe” en “as jy soet is by die winkel kan jy ’n lekkertjie kies by die betaalpunt”.

Elke kleuter sal haar beste voetjie voorsit as sy weet daar wag ’n stroopsoet beloning. As oupa en ouma kom kuier is die kroos éérs in die wolke, want dan hoef hulle nie eens mooi maniere te hê nie; ouma deel sakke vol lekkers uit net omdat sy so lief is vir haar kleinkinders.

Dit klink alles so goed, so soet, maar kom ons kyk na die langtermyngevolge van kosbelonings.

Kos is vir voeding

'n Kind behoort kos net om een rede te kry en dit is om ’n honger magie vol te maak, en selfs dan kan ons nie sommer net enige ding aanbied nie. ’n Kind se ly¬e het baie voedingstowwe nodig en omdat haar magie so klein is, kan dit ’n uitdaging wees om alles daarin te kry wat nodig is.

Kinders kan baie beter na hul magie luister en as hulle vol is, sal hulle ophou eet. Dit is ’n goeie eienskap wat aangemoedig moet word omdat dit die liggaam se manier is om ’n gesonde gewig te handhaaf. Koeldrank en lekkernye is propvol suiker wat klein magies vinnig vol maak en min plek oorlos vir die gesonde kos wat hulle nodig het.

’n Pakkie sky¬es, sjokolade of jellielekkers sal ’n glimlag op ’n sproetgesiggie sit, maar op die ou end ook ’n frons tussen die tandarts en dokter se oë. Gee kos net vir voeding en maak seker elke bord is gebalanseerd.

Lekkergoed en liefde

As Ouma by die deur instap met haar handsak vol lekkergoed en dit met ’n groot glimlag vir haar geliefde kleinkinders uitdeel, dan sê sy eintlik: “Ek is baie lief vir julle.” Wanneer die kinders die lekkers of spesiale kos inryg, beleef ouma weer dat hulle, sommer so sonder woorde, sê: “Ons is baie lief vir ouma”.

Ouma en oupa is so geleer deur hul ouers en grootouers; dit is hoe mens liefde wys. Die hele samelewing doen dit eintlik met hartjiesjokolades vir Lie¬e-Die¬e-dag, pienk koekies vir Moedersdag en biltong vir Vadersdag.

Wanneer lekker kos of gunsteling-beder¬es gebruik word om liefde aan ’n kleuter te wys, word ’n boodskap diep in ’n kinderhartjie vasgelê dat sy moet eet wanneer sy liefde soek.

Wanneer sy later in haar lewe alleen is en na die liefde van haar ma of ouma verlang, sal sy die sjokolade gaan koop wat ouma altyd gebring het of die gunsteling-gereg maak wat haar ma altyd gekook het. Iets soets en lekkers begin vinnig haar diep behoefte aan liefde vervul.

Hoe groter die behoefte aan liefde in ons tegnologiese wêreld met al hoe minder fisieke kontak, hoe meer eet en eet mense totdat ons ons siek eet. Skokkende syfers van kindervetsug, diabetes, hartsiektes en hoë bloeddruk is bewyse dat dit ongelukkig reeds besig is om te gebeur.

Soete beloning

Straf en beloning is een van die algemeenste maniere waarop ons kinders leer oor die lewe, wat reg is en wat verkeerd is, wat jy mag doen en wat nie. Van kleins af leer ons ’n kind met ’n raps en ’n ferm nee wat sy nie mag doen nie en omdat die gevolge pyn veroorsaak, leer sy vinnig om liewer nie aan die blompot te vat nie.

Teen die tyd dat sy ’n driewoordsin kan sê weet sy al baie goed dat ’n straf baie sleg is en mens dit glad nie wil hê nie en ook dat ’n beloning baie lekker is en dat jy uit jou pad uit gaan om dié spesiale item te verdien.

’n Neutrale ding soos tandarts of skool toe gaan sal in ’n kleuter se oë “lekker” of “sleg”word wanneer dit as beloning of straf ingespan word. “As jy ongehoorsaam is, moet jy môre skool toe gaan,” sê vir ’n kind dat skool baie sleg is. Wanneer ’n mens sê “as jy mooi gehoorsaam is, kan jy môre skool toe gaan” of “as jy ongehoorsaam is, dan mag jy môre nie skool toe gaan nie” sê vir jou kind dat skool toe gaan baie lekker is.

Dieselfde geld vir kos. As ons kos of lekkernye gebruik om mee te beloon, of die wegneem daarvan as straf inspan, verhef ons dit in ’n kind se oë tot iets baie spesiaal en gesog. Jou kind sal ’n groter voorliefde daarvoor ontwikkel en met alle mag nog meer daarvan in die hande probeer kry.

Wanneer ons kinders straf met oefening soos om te sê dat sy muur toe en terug moet hardloop as sy die bal misvang, dan sê ons eintlik dat hardloop baie sleg is. ’n Negatiewe verband word gevorm wat sal veroorsaak dat jou kind skielik nie meer van hardloop hou nie.

Belonings en straf lei dus tot positiewe en negatiewe assosiasies wat diep vasgelê word in ’n kinderkoppie en daarom is dit wys om twee keer te dink waarmee jy omkoop.

Wanneer ons kos of lekkernye gebruik om om te koop, te straf en te beloon, speel dit die verkeerde rol in ’n kind se lewe en kan dit vinnig tot gesondheidsprobleme lei.

Sê dit so

Jy kan dit nie alleen doen nie. Om seker te maak dat kos die regte plek in jou kind se lewe inneem, het jy die hulp van oupas en oumas, juffrouens en ander versorgers nodig. Ruim tyd in vir ’n paar gesprekke wat jou kind se gesondheid nou en later sal baat. Doen dit so:

Sit ’n rustige tydjie opsy om alleen met hulle te praat – nie te formeel of gewigtig nie, maar in ’n rustige atmosfeer
waar kinders nie onderbreek nie. Moenie die gesprek voor kinders voer of baklei met oupa terwyl hy lekkers uitdeel nie. Gevegte en struwelinge oor lekkernye voor die kroos kan ekstra skade veroorsaak.

Navorsing wys dat verdeeldheid in die familie verband hou met oorgewig by kinders.

Begin deur dankie te sê vir wat hulle doen en erken dat jy weet hoe lief hulle vir jou kinders is en dat dit vir hulle belangrik is om te bederf.

Vra dat hulle help om jul kinders gesonde gewoontes te leer. Verduidelik die wêreldwye krisis van oorgewig en lewenstylsiektes, asook dat julle tandbederf wil voorkom, en dat hul hulp nodig is. Noem ’n hoër gesag as jy self, soos dat ’n dieetkundige dit sê. (Jy kan selfs dié artikel wys.)

Beraam saam met hulle ’n plan wat alle grootmense help implementeer. Julle gee leiding oor die reëls wat vir julle belangrik is, terwyl julle ook na hul wysheid luister.

Bied alternatiewe waarmee hulle kan bederf en beloon. Speelgoed, geld, uitstappies, voorregte of om hul gunsteling-aktiwiteit saam met hulle te doen is vir elke kind ’n groot bederf. Straf eerder deur speelgoed of voorregte weg te neem en moenie enige kos by ’n straf inbring nie.

Met respek en liefde sal die meeste grootouers instem om ’n verandering of twee aan te bring.

As oupa en ouma nie wil saamwerk nie, kan dit nodig wees vir ’n ernstiger gesprek sodat hulle besef dat dit nou jul beurt is om ouers te wees en reëls te maak. Indien hulle die reëls verontagsaam, leer hulle hul kleinkinders om dieselfde te doen. As hulle ná ’n paar gesprekke steeds nie by die reëls hou nie, kan dit dus nodig wees om kuiers te beperk.

Is lekkers dan taboe?

Lekkernye en soetgoed is nie verkeerd nie, maar wanneer dit op die verkeerde manier, verkeerde tyd en in oormaat gegee word, sal dit ’n kind se gesondheid bederf.

Die beste manier om lekkers te gee is heeltemal neutraal: Gee dit om te geniet, nie om mee te beloon omdat ’n kind haar kos opgeëet het, om mee om te koop sodat sy in die kerk stilsit nie, of om liefde te wys nie.

Wanneer kos of lekkernye om ander redes gegee word, leer ’n kind om te eet om ander redes as uit honger. Oorgewig kan volg, ’n kind se ¬sieke, emosionele en sosiale gesondheid word geskaad en ’n bose kringloop van emosionele eet begin.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees