Inspirasie van weggooigoed

Hou jou oë oop vir produkte wat van herwonne stowwe gemaak is. Draadkunstenaars is oral op sypaadjies en by verkeersligte te sien. Wys jou kinders die ou koeldrankblikkies en botteldoppies wat hulle gebruik om kunswerke te skep.

Soek by vlooimarkte na handgemaakte draadkarre, windpompe van draad en blik, ’n kitaar van ’n motorolieblik en enigiets anders wat van weggooigoed gemaak is, en wys vir hulle wat gedoen kan word met ondernemingsgees en kreatiwiteit.

Wenk: Prakseer self ’n olieblikkitaar of draadkar van ’n roomysbak met ou blikke vir wiele. En wat van ’n swaai gemaak van ’n ou buiteband?

Stadig met die geskenkpapier

Julle kan help keer dat duisende bome afgekap word om volgende jaar se presente in toe te draai. Boonop kan geskenkpapier dikwels nie herwin word nie omdat dit van ’n swak gehalte of gelamineer is.

Loer op pinterest.com hoe om geskenke mooi toe te draai sonder om ooit weer geskenkpapier te koop.

Nog kreatiewe maniere om te verseker dat jou geskenke raakgesien word, is deur dit toe te draai in ’n mooi stuk lap of bruinpapier en met lap of lint te versier. Of kies bruinpapierboksies wat weer gebruik kan word, of laat jou kind help om ’n unieke geskenksakkie van ’n bruinpapiersak te maak. Gee hom verf, prentjies uit ’n tydskrif en gom en ’n kunswerkie sal sommer gou sy verskyning maak.

’n Plek vir asbliksnuffelaars

In groot stede en dorpe sien ’n mens dikwels mense wat deur ander se rommel soek. Hulle maak ’n baie belangrike skakel uit van stede se herwinningskettings. Herwinning spaar ruimte, energie en hulpbronne, en verminder besoedeling.

Verduidelik vir jou kind dat hulle karton, papier, plastiekbottels en blikke soek om vir ’n broodnodige geldjie te verkoop. Daarby verminder hulle die hoeveelheid onafbreekbare gemors wat op ons land se ashope beland.

Wenk: Sit ’n boks vir papier (soos ou tydskrifte en koerante) en karton neer, een vir plastiek, een vir glas en een vir koeldrankblikke, en vra hulle om te help onthou dat hierdie goed nie in die gewone asblik moet kom nie, maar eenkant gehou moet word vir die asdromsnuffelaars. Of neem die weggooigoed self na ’n papier- of bottelbank.

Net vir ’n draai

Leer jou kleuter om nie van die toilet ’n asblik te maak nie!

Ons almal weet waarvoor ’n toilet daar is – alle ander gemors hoort in die asblik of op die komposhoop.

Leer jou kinders dit van kleins af. Jy sal nie net water spaar nie, maar dalk selfs ’n loodgietersfooi of twee.

Maak toe die kraan

Water is ’n uiterse skaars natuurlike hulpbron en Suid-Afrikaners is nog lank nie waterwys genoeg nie. Leer jou kinders van kleins af eenvoudige maniere van water spaar soos om die kraan toe te draai terwyl hulle tande borsel of hande was. Jy het ook nie ’n bad vol water nodig nie!

Probeer af en toe saam met jou kinders stort, maar hou dit kort. Stort gebruik minder water as ’n bad, maar nie as jy ure onder die stort staan nie. Gee vir elkeen vier of vyf minute, stel ’n wekker en maak ’n speletjie van die uitjaag.

Wenk: Gee vir elkeen ’n spesiale glasie water om mee tande te borsel – dit voorkom dat strome water onnodig gemors word. Leer jou kinders ook om ’n bietjie water in die wasbak te tap en die prop in te druk wanneer hulle hande was.

Skep herinneringe met ou goed

Leer jou kinders om sekere goed te hou en te gebruik eerder as om alles nuut te gaan koop. Maak ’n plakboek van ’n vakansie wat julle onlangs gehou het. Plak die fliekkaartjie, roomyspapiertjie en museumbrosjure saam met die foto’s in.

Of laat hulle veertjies en klein skulpies optel en inplak. Jy doen dalk nie veel om die planeet te bewaar deur drie of vier papiertjies minder weg te gooi nie, maar jy leer wel jou kinders om iets kreatiefs in weggooigoed raak te sien.

Inspireer hulle nog verder deur hulle by kunswinkels te gaan wys hoe kunstenaars ou koerant, stukkies lap, blik en ander rommel inspan om wonderlike kuns te skep.

Wenk: Maak ’n kunswerk met stukkies wol, tou, uitgebrande vuurhoutjies, afvallap, stukkies staalwol, ou koerantpapier en stukkies gebreekte eierdop. Teken eers ’n prentjie en versier dit dan met hierdie ou materiale.

Leef spaarsamig

Ons planeet se beskikbare hulpbronne vir die opwekking van elektrisiteit gaan nie vir ewig hou nie. Leer jou kinders om alle onnodige ligte en elektriese apparate af te skakel.

Wenk: Gee sterre vir goeie samewerking en koppel ’n sekere aantal sterre aan ’n lekker gesinsaktiwiteit soos om ’n fliek saam te kyk of ’n roomys te gaan eet.

Gebruik ’n asblik

Leer die kinders om nie die Aarde te bemors nie.

Rommel hoort in ’n asdrom – altyd.

En onthou maar: Woorde wek, voorbeelde trek. Dit help nie jy preek daarteen maar doen dit self nie.

Leer die gewoonte aan om ’n rommelsak saam te neem waar julle ook al gaan stap sodat jul gesin papiere en rommel optel waar julle is – of dit nou in die parkie of op die strand is!

Hokaai met plastiek!

Ondersteun winkelgroepe wat karton- en papierverpakking gebruik, en verduidelik vir jou kind hoekom. Moenie pousebroodjies in plastieksakkies pak of in plastiekrol toedraai nie – gebruik eerder waspapier of ’n kosblik wat jy oor en oor kan gebruik.

As jy plastiekhouers aanskaf, betaal eerder ’n bietjie meer vir goeie gehalte wat jy jare lank kan hou, en keer so dat jy kort-kort moet weggooi.

Vermy strooitjies en koop eerder oorstokkies met ’n kartonstokkie.

Plastieksak-kaptein!

Plastieksakkies is sleg vir die omgewing. En eerder as om ons eie sakke saam te neem winkel toe, koop die meeste van ons lustig nog meer. Maak een kind jou regterhand in hierdie geveg: Vra hom om die inkopiesakkies op te vou en elke keer weer in die motor se kattebak te gaan bêre vir hergebruik – so herwin julle die sakkies en laat jy jou kind voel dat hy ’n belangrike rol daarin speel.

Vang reënwater op

Leer jou kinders om emmertjies uit te sit om reënwater in op te vang. Dit leer ’n belangrike les: Water kom nie uit ’n kraan nie, maar uit die hemel. Gebruik die reënwater vir potplante of om ’n droër hoekie in die tuin nat te hou. Of was die motor daarmee.

Spaar papier

Een van die groot redes vir aardverwarming is dat te veel woude vernietig word – nie net om papier van te maak nie, maar ook omdat arm mense die bome vir vuurmaakhout gebruik.

Jul gesin kan help deur van kleins af papier te herwin. Moenie elke e-pos wat jy ontvang uitdruk nie, en gee ou papier en memorandums vir jou kinders om agterop te teken.

Moenie klein geel plakpapiertjies of notaboekies koop om jou aan goed te herinner nie – laat die kinders vir jou mooi boekies maak of vierkantige papiertjies knip uit ou papier.

En les bes, plant gerus ’n boom of drie in jul tuin. Plant byvoorbeeld vir jou kind ’n boom op sy of haar verjaardag – dink net aan die herinneringe wat julle skep. En hy sal elke jaar sy eie groei teen die boom kan meet.

Borg ’n (bedreigde) dier

Maak jou kinders deel van bewaringspogings: Laat hulle ’n deel van hul sakgeld of verjaardaggeld skenk sodat julle as gesin ’n wilde dier kan borg. Daar is organisasies soos die WWF wat geld insamel om bedreigde spesies te red.

Of hoor by die dieretuin of julle een van hul dierinwoners kan help borg. Julle kan ook ’n skenker aan ’n bewaringsinstelling word. Sommiges soek skenkers van goed wat jy andersins sou weggooi.

Leer meer oor die natuur

As jou kind eers meer weet oor die wonderwêreld van Moedernatuur en haar inwoners, sal hy met meer respek met die Aarde omgaan. Jy hoef nie ’n wetenskap-foendi te wees nie: Begin sommer deur klein dingetjies te verduidelik soos dat nie alle spinnekoppe voor die voet doodgemaak moet word nie omdat hulle insekplae kan voorkom.

Hou tydskrifte en koerante dop vir mooi natuurfoto’s en artikels wat as aanknopingspunt kan dien.

Gaan stap (op veilige plekke) in die veld en wys vir jou kind die klein diertjies, goggatjies en plante.

Laat hulle help tuinmaak, daar is soveel in jou eie tuin te leer!