Sy het yskoud geword toe sy haar driejarige seuntjie met ’n baie skerp kombuismes op die grasperk sien hardloop, vertel Lizane van Jaarsveld (31) van Bloemfontein. “Ek het probeer kalm bly en stadig na hom gestap en gevra dat hy die mes vir my gee. Hy wou natuurlik nie, want die nuwe speletjie was te lekker.” Lizane het die mes by hom afgeneem, dankbaar dat hy hom nie raakgesny het nie. Hy het begin huil, op die gras neergeval en 10 minute lank geskree – salig onbewus van hoe naby hy aan ’n aaklige mesongeluk was.

Ontspan: dis normaal

Dis heeltemal normaal dat kinders woedend op ons besluite reageer. Dit wat jou kleuter van die wêreld verstaan is nie dieselfde as wat jy daarvan begryp nie. ’n Skerp mes, ’n hoë muur of ’n glasbottel is vir hom net ’n speelding, iets waarmee hy sy wêreld kan ontdek. ’n Kleuter se brein het nog nie klaar ontwikkel nie en hulle het nie vorige ervarings waaraan hulle situasies kan meet nie. Daarby kan hulle nie tussen hul emosies onderskei of dit reguleer nie, sê die Bloemfonteinse voorligtingsielkundige Eloise Venter. Ouers is daar om hul kinders veilig te hou, te leer waarom sekere dinge gevaarlik is en om die gepaardgaande emosies te help reguleer.

Breintjies wat nog leer

Erna Liebenberg, ’n onderwyskundige, en Madie van Niekerk, ’n arbeidsterapeut van Bloemfontein, bied gereeld kursusse oor voorskoolse kinders aan. Volgens hulle word kinders se sosiale en emosionele ontwikkeling deesdae dikwels afgeskeep as gevolg van die enorme akademies druk wat in skole heers – ja, selfs in die kleuterskool. Een van die grootste geskenke wat ’n ouer dus aan haar kind kan gee, is goeie emosionele vaardighede. As ’n mens verstaan hoe ons brein werk, verstaan ’n mens ook waarom kleintjies reageer soos hulle reageer, sê Madie.

  • Prikkels wat deur ons sintuie ontvang word, reis na ’n struktuurtjie in die brein wat die talamus genoem word.
  • Die talamus is die verkeersbeampte wat al die prikkels na die regte plekke stuur.
  • Die prikkels gaan eers na die neokorteks, wat soos die rekenaar van die brein is en boodskappe verwerk.
  • Daarna reis die prikkel na ’n senuweebondel wat die amigdala genoem word. Die amigdala speel ’n groot rol in die verwerking van emosies. Die prikkel word hier as’t ware in gedrag omgeskakel, en die gedrag wat gekies word, is op vorige ervarings geskoei.
  • Soms stuur die talamus die prikkels reguit amigdala toe, wat die reaksie vinniger maak. Dan is gedrag sonder denke die gevolg. Dit gebeur dikwels met voorskoolse kinders omdat hulle nog nie die ervaring het om hul gedrag op te skoei nie.

Die kuns van emosie-lesse

Jou kind se sosiale en emosionele ontwikkeling het te doen met sy ervarings, sy vermoë om sy emosies uit te druk en te beheer, en sy vermoë om positiewe verhoudings met volwassenes en ander kinders te vestig, sê Erna. “Omdat ons almal so besig is, word hierdie ontwikkelingsveld dikwels afgeskeep en dink ons dit sal vanself gebeur. Dis nie die geval nie. Jou kind se emosionele en sosiale vaardighede moet nes sy fisieke vaardighede aktief ontwikkel word.” Van geboorte tot sewe jaar leer jou kind hierdie vaardighede deur jou na te boots, en van agt tot 15 jaar kom formele en informele lesse by. “Gun hulle altyd tyd vir rypwording,” sê Erna. ”Ons verwag dikwels meer van kinders as waartoe hulle in staat is omdat hulle nie hul emosies kan reguleer nie.” Ons taak is om vir ons kinders met die verf en kwaste toe te rus en hulle toe te laat om hul eie prentjie te verf. Beproef gerus dié ”verf” en ”kwaste”, is Erna en Madie se raad:

  • SPEEL Sit saam met jou kind op die mat, ”gooi” vir hom ’n emosie en sê ”vang my hartseer”, ”vang my glimlag” of ”vang my kwaadwees”. Laat hom die emosie wys wat hy moet vang, en gee hom dan kans om ’n emosie te gooi.
  • LEES SAAM BOEKIES en gesels oor die emosies wat die karakters ervaar.
  • GEE INDIVIDUELE AANDAG As jy meer as een kind het, neem een kind op ’n slag op ’n uitstappie. Dit versterk jul band.
  • MAAK VINGERPOPPIES met verskillende emosies en hou daarmee konsert.
  • KYK SAAM NA FOTO'S op jou selfoon en gesels weer oor die gebeure van ’n sekere dag, en wat jou kind toe gevoel het.
  • NEEM HOM ERNSTIG OP Moenie maak asof sy gevoelens onbelangrik is nie; gesels met hom daaroor.

’n Kleuter se brein het nog nie sy gevoelens leer hanteer nie.
Getty Images
Wat is emosionele regulering?

Dis die vermoë om jou emosies te beheer en te reguleer sodat jy doeltreffend en gepas optree wat betref jou gevoelens oor wat jy besig is om te ervaar. Ons as volwassenes het al geleer om sterk emosies te bestuur. Ons het ook toepaslike maniere geleer om ons emosies uit te druk. Jy weet byvoorbeeld dis nie aanvaarbaar om jou baas met ’n koppie tee te gooi as hy weier om jou verlof toe te staan nie. “Kinders, veral voorskoolse kinders, ervaar baie van dieselfde emosies as volwassenes, maar hulle het nog nie die kans gekry of die vaardigheid geleer om die gevoelens te reguleer nie,” sê die Bloemfonteinse voorligtingsielkundige Eloise Venter. Hierdie onvermoë lei dan tot vloerstuipe wanneer jou kind kwaad, hartseer, moeg, jaloers of gefrustreerd voel. Die goeie nuus is dat ons ons kinders kan help om die nodige vaardighede te leer. Hier is vyf maniere.

  1. Moenie hul sterk gevoelens en gedrag met ewe sterk gevoelens beantwoord nie Dit is nie altyd maklik om kalm en gaaf te bly terwyl jou kind die dak afskree nie. Maar jy moet dit tog probeer doen, maan Eloise. Al is jy moeg of gebeur dit op ’n ongeleë plek, is dit baie belangrik om jou gevoelens van die situasie te skei. Jy moet onthou sy reaksie is nie ’n persoonlike aanval op jou nie. Probeer daarop fokus om kalm te bly en jou kind te help om die groot, oorweldigende emosie te hanteer.
  2. Erken die emosie en gee dit ’n naam Jou kleuter het nog nie die woordeskat om sy gevoelens te verduidelik nie; hy moet dit by jou leer. Sê byvoorbeeld: “Ek kan sien jy is nou kwaad omdat ek nee gesê het.” Jy kan selfs hulpmiddels soos emosiekaarte inspan om jou kind te help om sy gevoelswoordeskat uit te brei. Wanneer jou kind se woede oorgewaai het en hy kalmer is, kan jy vra: ”Hoe het jy gevoel toe jy so geskree het?” Moenie jou kind van jou wegstoot terwyl hy so ontsteld is nie. Moenie dreig om hom alleen te los tot hy bedaar het nie. So nie, kan jou kind mettertyd begin voel dat jy hom nie te alle tye ewe lief het nie, en dat jy hom dalk minder liefhet terwyl hy emosioneel voel. Vertel hom liewer dat jy kan sien dat hy ’n moeilike tydjie beleef, sê Eloise. Herinner hom kalm en sagkens daaraan dat jy daar is vir hom.
  3. Moet nooit jou kind straf oor die gevoelens wat hy ervaar nie Almal is soms kwaad, hartseer, gefrustreerd en moeg. Dis normaal. Dit is net so normaal dat jou kind ook so voel. Moet hom dus nooit laat voel dat dit verkeerd is om ’n bepaalde emosie te ervaar, of dat sekere gevoelens nie in jul huis welkom is nie. Dit sal hom leer om alle emosies te begin vermy eerder as om dit reg te hanteer.
  4. Tydsberekening. Kies jou opvoedingsoomblik goed, sê Eloise. As jou kind in die middel van ’n aanval van vloerstuipe is, gaan dit nie werk om ’n emosiekaart uit te ruk en te vra hoe hy voel nie. Bly liewer vir eers kalm en in beheer van jou eie emosies. Wanneer die vloerstuipe bedaar het, kan jy die geleentheid gebruik om aan jou kind se emosionele volwassenheid te begin beitel. Sê byvoorbeeld: ”Dit het vir mamma gelyk of jy baie kwaad was. Is dit wat jy gevoel het? Mamma word ook soms kwaad.” Erken sy gevoelens en stel ander maniere voor waarop hy dit volgende keer kan hanteer. As hy uit woede sy sussie seergemaak het moet jy hom daarop wys dat sulke optredes gevolge het. Hy kan miskien jammer sê en vir haar ’n drukkie gee. Dan kan julle saam aan ’n manier dink waarop hy sy woede in die toekoms kan hanteer.

Kry hier oulike emosiekaarte

  • https://bit.ly/2Zv4ykB (Pinterest)
  • https://bit.ly/2PmM2v1 (Engels)