Een van die belangrikste mylpale wat jou kind op skool moet baasraak, is om te leer skryf. Dis ’n vaardigheid wat die res van sy skoolloopbaan direk raak – ’n kind wat stadig of slordig skryf, kan sukkel om eksamenvraestelle betyds te voltooi of kan punte verloor weens onleesbaarheid, al ken hy die antwoorde op die punte van sy vingers. Om te leer om netjies en leesbaar te skryf, moet jou kind se vingers oor sekere vaardighede beskik. Sonder goeie fyn motoriese beheer sal hy sukkel om die potlood met die nodige akkuraatheid oor die blad te laat gly en die lettertjies te vorm.

Maar die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede verg tyd en oefening. Daarom is dit nodig dat jy reeds voor skool seker maak dat jou kind sy vingers genoeg oefening gee. Die goeie nuus is dat dit groot pret kan wees om die spiertjies te stimuleer, vir jou en hom!

Wat is fyn motoriese vaardighede?

Fyn motoriese vaardighede gaan oor die beheer van die klein spiertjies van die lyf. As dit kom by skoolgereedheid, is die fokus veral op die klein spiere van die hande en oë. Dit stel jou kind in staat om ’n ver­skeidenheid materiale en stukke gereed­skap presies en akkuraat te hanteer, beheer en manipuleer.

Die klein spiertjies van die hand moenie net kan saamwerk om vas te hou, te laat los of te manipuleer nie – dis belangrik dat dit ook saamwerk met die klein spiertjies van die oë sodat ’n kind presiese, akkurate bewegings kan uitvoer. Dis wat hand-oog-koördi­nasie behels.

Die twee hande se spiertjies moet ook met mekaar kan saamwerk aangesien baie aktiwiteite twee hande vereis. Terugvoer van die spiere, litte, senings en vel verskaf noodsaaklike inligting vir die ontwikkeling en verfyning van jou kind se fynmotoriese vaardighede.

Pretoefeninge

Hoe meer jou kind sy vingers gebruik, hoe vinniger sal sy fyn motoriese vaardighede verbeter. Spring weg met ons lekker speletjies.

SNIP-SNIPPER-SNIP!

’n Skêr wat korrek vasgehou word en goed in jou kind se hand pas, sal dieselfdespiertjies oefening gee wat hy gebruik om sy potlood te beheer. Kies ’n stomppunt­skêrtjie en gee jou linkshandige kind ’n skêr vir linkshandiges.

  • Maak papierpoppe. Help haar om die pop op karton te plak en uit te knip. Teken basiese klerepatrone en laat haar dit uit verskeie teksture knip: karton van verskillende diktes, glanspapier, koerantpapier, kreukel­papier en lap.
  • Maak klere! Help jou kind om basiese rokpatrone vir haar pop op materiaal af te trek en uit te knip. Jy kan dit aan­mekaarstik.
  • Prakseer fraiingversierings. Trek ’n streep 2 cm van die kant van gekleurde papier en laat jou spruitfraiings tot op die streep knip.
  • Maak ’n plakboek en laat jou kleinding prentjies uitknip. Aanvanklik sal sy ’n vierkant maklik knip, daarna ’n sirkel, en geleidelik sal sy prentjies met rondinge en hoeke baasraak.
  • Maak jul eie storieboek. Dink saam ’n storie uit: Jy skryf dit neer en sy soek en knip prente uit wat daar­by pas.

VINGERGIMNASTIEK

  • Laat jou kind sy hand plat op ’n tafel neersit en kyk hoe vinnig hy sy vingers een vir een in volgorde kan oplig.
  • Laat hom probeer om ’n hele blad koe­rantpapier in een hand op te frommel.
  • Laat hom so styf moontlik vuiste maak en dit dan ontspan en sy vingers strek.
  • Laat hom ’n vel papier tussen sy hande vashou. Kyk hoeveel keer hy sy hande kan klap sonder dat die papier uitval.
  • Kyk hoeveel wasgoedpennetjies hy styf teen mekaar aan ’n tou kan vasknip voor ’n kookwekker lui. Skeppende vingerwerk
  • Laat hom tolletjiebrei.
  • Draai skroewe losweg in ’n houtboksie vas en laat hom dit losdraai.
  • Maak jul eie vinger- en handpoppe (’n vinger in elke arm en in die kop) en laat jou kind ’n storie opvoer.
  • Maak krale deur macaronistukkies aan ’n toutjie te ryg. Julle kan ook regte krale ryg. Bêre die krale in houertjies wat hy moet oop- en toedraai.
  • Doen saam mosaïekwerk.

VORM DIE KLEI

Hoe vaardiger jou kind se spiertjies, hoe meer detail sal haar kleiprodukte hê.

  • Vorm en rol klei in balletjies. Die hand-palms moet na mekaar wys en die vingers moet effens gebuig wees.
  • Rol speelklei in klein balletjies so groot soos ertjies deur net die vingerpunte te gebruik.
  • Laat jou kind die speelklei in slangetjies rol en prentjies daarmee vorm.
  • Kyk wie die langste wondergomstringe kan trek.
Het jy geweet?

Wees geduldig – jou kind sal eers teen omtrent ses jaar oud ’n skêr heeltemal kan bemeester.

Kunstige oefening

Verskaf ’n verskeidenheid teken- en kunsgereedskap: dun en dik vetkryt, kokipenne, bordkryt, inkleurpotlode, vin­ger­verf, kwaste en potlode. Laatjou kind verf deur strooitjies blaas, aar­t­appeldrukwerk doen of sponsies met wasgoedpennetjies vasknyp en daarmee verf.

  • Maak ’n collage. Versamel saam ’n ver­skeidenheid kleinerige voorwerpe en teken die buitelyne van die prentjie. Breek stokkies, maak droë blare met jul hande fyn, skeur papier of foelie in klein stukkies en frommel snees­papier. Plak alles op ’n stuk karton om ’n kunswerk te vorm.
  • Laat jou kind sy oudste klere aantrek en met ’n oorstokkie gedoop in bleikmiddel sy eie kunswerk op ’n helderkleurige hemp skep.
  • Suig water gekleur met voedselkleursel in ’n medisynedruppertjie op en spuit dit in allerhande interessante patrone op papier.
  • Ontwerp kaartjies met tipiese skrifpatrone soos sigsag- of golfvormige patrone al om die randjies.

PAPIERPRET

  • Skeur stukkies koerantpapier in stroke en frommel dit in balletjies op. Kyk wie die meeste daarvan oor ’n afstand tot in die snippermandjie kan gooi.
  • Beoefen papiervoukuns! Leer jou kind om bootjies, hoedjies, waaiers en papier­vliegtuigies te vou en speel lekker. Google ”origami” vir inspirasie.
  • Skeur en rol stukkies kreukel- of sneespapier in klein balletjies en plak dit om prentjies te vorm.

LEKKER SPELETJIES

  • Speel Pick-up-sticks of Jenga. Julle kan ook tandestokkies optel. Gooi dit op die tafel uit en maak beurte om die stokkies op te tel sonder dat enige van die ander stokkies beweeg.
  • Skud ’n dobbelsteentjie in bak hande, gooi dit op die grond en kyk wie se telling die hoogste is.
  • Speel kaart- en bordspeletjies met klein spelstukkies soos Ludo, slangetjies en leertjies en dambord.
  • Speel jul eie weergawe van Pictionary. Maak beurte en teken prentjies met jul vingers in die sand terwyl die ander raai wat dit is.
  • Bou legkaarte.
  • Bou mannetjies, monsters en wat jul verbeelding ook al vir julle voorskryf met Lego of ander klein blokkies en bouspeelgoed.

RAAKVATSPELETJIES

  • Probeer voorwerpe van verskillende groottes en vorms met ’n haartangetjie optel. Sluit ’n paar lekkers in wat jou kind kan eet wanneer hy dit optel.
  • Gooi muntstukke, knope of kaarte op ’n gladde oppervlak en kyk wie dit kan optel sonder om dit na die kant van die tafel te bring.
  • Begrawe dinge soos wasgoedpennetjies, krale, munte en karretjies in ’n skottel vol sand of rys en laat hom dit uitvis. Hy moet elke slag ’n ander vinnger saam met sy duim gebruik om dit uit te haal en kan dit ook toe-oë doen.
  • Strooi muntstukke deur jou huis en stuur jou kind op ’n skattejag om die munte te versamel, te sorteer en in stapeltjies te pak. Wat hy kry, kan hy hou.

VOLG DIE STREEP

  • Plaas ’n vel koolpapier tussen twee velle papier en laat jou kind die lyne van ’n prentjie op die boonste papier natrek sodat die prentjie op die onderste blad verskyn. Laat hom dit inkleur en uitknip.
  • Laat jou kind ’n stensil met een hand vashou terwyl hy die buitelyne met sy ander hand natrek.
  • Teken ’n groot spiraal en plak ’n lekkerny in die middel. Laat hom eers met sy vinger en dan met ’n potlood die paadjie na die middel volg sonder om aan die lyntjies te raak.
  • Belê in ’n boek met ’n verskeidenheid natrek- en verbind-die-kolle-­oefeninge.