( Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba & Kleuter, Mei 2016) 

Hoe langer jou kind vir iets lekkers kan wag, hoe meer geduldig sal sy eendag as ’n grootmens wees. En terwyl dit lyk asof party kinders lankmoedig gebore word, is dit vir die meeste kleingoed baie moeilik om te wag vir iets wat hulle begeer. Wees versigtig om nie te vroeg daarop aan te dring dat jou kind geduld leer nie. In haar eerste twee jaar is ander dinge belangriker, soos haar behoefte aan sekuriteit, liefde en vertroue, sê Sanet Verster, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.

“Navorsing wys dat babas wat onseker en angstig grootword en nie leer om hul omgewing te vertrou nie, gewoonlik meer ongeduldig en gefrustreerd is en nie in staat is tot uitgestelde beloning (delayed gratification) nie,” sê Sandra.

Lees: 5 suksesvolle dissipline-kunsies

“Dis gewoonlik dié kinders wat impulsief is en hul emosies nie goed kan beheer nie. Hulle soek onmiddellike reaksies, selfs al is dit ’n negatiewe reaksie.” Teen vier maande oud word ’n baba bewus van haar omgewing en behoeftes en begin sy met haar ma of versorger kommunikeer deur te huil of ander geluidjieste maak of tekens te gee.

Sy het sekuriteit nodig en moet weet dat sy jou kan vertrou om in haar behoeftes te voorsien. Jy kan die beginsel van uitgestelde belonging begin vaslê deur nie dádelik aan haar versoeke te voldoen nie. As jou baba huil omdat sy ’n bottel wil hê, kan jy dadelik na haar bedjie stap en sê: “Mamma sal nou met jou bottel terug wees.” Verdwyn dan vir ’n kort rukkie en kom terug met die bottel.

So leer sy twee dinge: Jy is bewus van haar behoeftes, en as sy ’n oomblik geduldig wag, sal sy kry wat sy wil hê. “Dis belangrik dat jy konsekwent optree,” sê Sanet. “Leer jou kind dat as sy geduldig wag, daar altyd na haar omgesien sal word. As jy jou baba toelaat om lank en onbedaarlik te huil voor jy optree, kan sy aflei dat sy harder moet huil om ’n reaksie te kry.”

DIT BEGIN BY JOU

Teen twee jaar oud het ’n kind se taalvaardigheid genoeg ontwikkel dat sy kan verstaan wanneer jy haar aansê om te wag. Kinders moet ook nou leer dat hul rol as kind verskil van mamma en pappa s’n as volwassenes. “Kinders voel veilig as daar grense is en hulle weet wat die gevolge gaan wees as hulle die grense oortree. Hulle behoort ook te kan onderskei tussen regte en voorregte. Basiese behoeftes soos veiligheid, sekuriteit, kos, klere en slaap is hul regte, maar as mamma of pappa vir hulle ’n lekkertjie koop of saam met hulle parkie toe stap, is dit ’n voorreg,” verduidelik Sanet.

“Moet nooit vergeet dat kinders hul ouers se gedrag naboots nie. Geduldige ouers maak gewoonlik geduldige kindersgroot. Kleuters hou ons fyn dop en ons kan hulle nie kwalik neem as hulle sien hoe ongeduldig ons by ’n verkeerslig is en dan self nie vir iets wil wag nie.” Jy kan jou kind maklik bederf as jy altyd spring wanneer sy iets vra.

As sy daaraan gewoond is om dadelik te kry wat sy wil hê, leer sy dat mense na haar pype behoort te dans. “Dan maak jy ’n veeleisende kind groot wat gaan sukkel om by ’n klas in te skakel waar sy een van baie is, en by ’n samelewing waar alles nie om haar draai nie.

Lees: 5 Wenke om jou peuter goeie maniere te leer

Sulke kinders is dikwels emosioneel onseker en ook nie onafhanklike denkers nie, want hulle raak afhanklik van die reaksie en goedkeuring van hul ouers,” sê Sanet. Een van die redes waarom kleuters met uitgestelde beloning sukkel, is dat hulle nog nie ’n tydsbegrip het nie, en ook omdat hulle spontane, energieke en geesdriftige wesentjies is.

“Kinders leef suiwer, impulsief en met ’n ongeskonde  lewensvreugde,” sê Sanet. “Hulle is geesdriftig en sien met kinderlike onskuld uit na geleenthede en aktiwiteite. Dit maak afwagting moeilik, want hulle het nie ’n benul hoe lank hulle moet wag nie.” Koppel dus die wagtyd aan ’n tydsbegrip wat vir hulle sin maak, soos dat die rit in die motor nog so lank sal neem soos twee episodes van Barney. Indien hulle dae of weke lank moet wag, soos wanneer mamma of pappa oorsee is en oor ’n paar weke eers terugkeer, kan dit help om die slapies op ’n kalender af te merk.

“Kinders word baie angstig, ongeduldig en gefrustreerd as hulle hulle in ’n tydlugleegte bevind wat hulle nie kan peil of bepaal nie,” sê Sanet.

WAT JY KAN DOEN OM TE HELP

Kry sywurms en verduidelik die lewensiklus

As ’n mens geduldig wag, sal daar ’n mot uit die kokon kom wat eiers sal lê. Met verloop van tyd sal die eiers uitbroei en dan is daar weer sywurms. So leer jou kind dat dinge op ’n spesifieke tyd gebeur en al gaan kyk sy 20 keer ’n dag in die boks, sal sy nie die proses kan versnel nie.

Wees ’n rolmodel

As kinders grootword in ’n omgewing waar hul ouers geduldig is en ander deur geduld respekteer, leer hulle dat dit die norm is.

Oefen geduld by die huis.

Waar jou kinders veilig voel en jy in beheer is van ’n taamlik voorspelbare omgewing, soos dat ’n mens aan tafel wag tot almal kos het voor jy begin eet. Kinders is geneig om meer ongeduldig en impulsief te wees in openbare situasies waar hulle oorgestimuleer is.

Wees emosioneel in beheer en geduldig met jou kinders

As jy agterkom jy’s besig om beheer oor jou gevoelens te verloor, gee pad uit die situasie tot jy jou ewewig  herwin het. Kinders reageer op hul ouers se ongeduld en irritasie deur negatiewe aandag te soek en met woedebuie te reageer.

Waak teen perfeksionisme

Ons raak dikwels ongeduldig as ons iets laat val of omstamp. Dit stuur die boodskap uit dat ons met niks minder as volmaaktheid tevrede is nie en nie mislukkings duld nie. Kinders moet kan waag, eksperimenteer en sukkel. Ons neem dikwels hul take oor om tyd te spaar, en so ontneem ons hulle die geleentheid om geduldig te probeer tot hulle regkry waarmee hulle besig is.

Leer deur spel

’n Kind wat speel, is ontspanne en leer dus makliker. ’n Speletjie soos wegkruipertjie leer haar dat die persoon wat wegkruip en die een wat soek,’n proses van geduldige afwagting moet deurmaak voor sy suksesvol is.

Gee terugvoer

As jou kind geduldig gewag het vir iets kan jy haar gerus prys en wys dat haar gedrag jou trots maak.

Sien om na jouself!

’n Uitgemergelde ouer kan onmoontlik geduldig genoeg wees om ’n goeie voorbeeld te stel. Kry genoeg rus en neem deel aan aktiwiteite wat jy geniet en wat jou inspireer.