Jou liggaam is voortdurend besig om inligting te verwerk oor waar jy in verhouding tot ander dinge is, waar jou liggaamsdele ten opsigte van mekaar is, of jou spiere en gewrigte gespanne, ontspanne, gestrek of gebuig is, en wat jy volgende gaan doen – alles sonder dat jy twee keer daaroor dink. Jou kleuter se lyfie werk net so, behalwe dat hy sy bewegingsintuie nog moet verfyn en ontwikkel. Die ervaring van beweging is ’n sintuig – jy kan immers “voel” jy beweeg al is jou oë toe. Daar is twee groot bewegingsintuie wat jou kleinding se beweging bepaal: die vestibulêre stelsel en proprioseptiewe stelsel. Wat beteken hierdie groot woorde en wat moet jy as ouer daaroor weet?

Vestibulêre stelsel

Die vestibulêre stelsel reageer op jou liggaam se bewegings in ruimte en die verandering van die kop se posisie, en help om die lyf se bewegings te koördineer. Dit speel ’n kritieke rol in balans en jou ervaring van waar jy is ten opsigte van ander voorwerpe. Die kern van dié stelsel is in die binneoor gesetel. Dit help jou liggaam om die regte spiertonus te hê vir ’n bepaalde handeling, help die twee kante van die lyf om saam te werk en help jou ook regop hou teen swaartekrag.

As dinge skeefloop

Kinders met vestibulêre probleme kan hipersensitief vir beweging wees en dit dus probeer vermy, amper asof hulle bang is hulle gaan val. So nie, kan hulle ’n buitengewone behoefte aan beweging hê. Hulle kan dus swaaie vermy en stiller aktiwiteite verkies, dit haat om in ’n hysbak of met roltrappe te ry, bang wees om te val al is daar geen risiko voor nie, bang wees vir lae hoogtes, en versigtig wees vir enige ongelyke oppervlak. Hulle hou nie daarvan as jy hulle onderstebo hou nie, verloor maklik hul balans en kom lomp voor. Of hulle kan heeltemal die teenoorgestelde wees: Hulle kan die heeltyd beweeg, daarvan hou om vinnig te tol, gek wees daaroor as jy hulle in die lug gooi en eindeloos in die rondte draai sonder om dronk te voel. Hulle kan voortdurend op die trampolien spring en hou daarvan om onderstebo te hang. Hulle doen soms gevaarlike dinge.

Help jou kind so

Die arbeidsterapeut Annemarie Lombard, skrywer van Sensoriese Intelligensie, bied werksessies hieroor aan. Sy sê die volgende aktiwiteite sal jou kleinding se vestibulêre stelsel oefening gee. 

  • ’n Bonsbal Dis daardie lekker groot balle met oortjies waaraan jou kind kan vashou terwyl hy op en af wip.
  • Rolpret Sny die bodem uit ’n kartondoos sodat jou kleinding se kop en arms bo uitsteek en die voete onder en laat hom teen ’n skuinste afrol. Jy kan hom ook in ’n groot handdoek toedraai.
  • Hamer-spyker Twee volwassenes hou elkeen twee hoeke van ’n kombers vas en swaai die kind heen en weer.
  • ’n Swaai Moedig jou kleinding aan om op ’n skoppelmaai te swaai. As hy angstig voel, kies ’n lae swaai sodat sy voete aan die grond kan raak of hou hom op jou skoot vas.
  • Rondomtalie Laat jou kind op die speelgrondrondomtalie draai of hang ’n buiteband aan ’n boom, wen dit op en laat hom daarin tol. ’n Kantoorstoel wat in die rondte kan draai sal ook werk, maar hou dit binne perke.
  • Glyplank Laat hom met ’n glyplank afgly in sittende, lêende en kop-eerste posisies – alles waarvoor hy kans sien.
  • Fietsies, driewiele, skaatsplanke en skopfietse Dit help alles baie om kinders se balans sowel as hulle motoriese beplanning en koördinasie te verbeter.
  • ’n Wipmat of trampolien Dis ’n uitstekende belegging. As jy nie een het nie, gooi ’n ou matras op die gras en laat jou kind daarop spring.
  • Onstabiele oppervlakke Laat hom gereeld op onstabiele oppervlakke loop soos ’n sanderige strand, die bruggie op die klimraam, ’n groot grasperk of ’n klipperige paadjie. Dit vereis dat jou kleinding sy lyfie aanpas namate hy beweeg.
  • Wieg Wieg jou kind op jou skoot of heup. Skaf ’n skommelperdjie of wiegstoel aan as hy te groot word.
  • Wipplank ry Jy kan ook jou kind help om van die een kant na die ander te loop en in die middel te balanseer sodra hy ’n bietjie ouer is. Of laat hom op ’n lae muurtjie loop.
  • Sitbal Laat jou japsnoet op ’n bal van 30 tot 40 cm in deursnee sit terwyl hy televisie kyk of na ’n storie luister. Die bal moet groot genoeg wees dat jou kind met sy knieë teen ’n hoek van 90 grade sit en met sy voete plat op die vloer. Hy kan ook op ’n groter oefenbal rol, sit of wip.
  • Trappies Laat hom waar moontlik trappies op en af klim en met hysbakke en roltrappe op en af ry.
  • Pretpark Gaan saam pretpark toe en geniet al die verskillende ritte!
HET JY GEWEET?
Min mense weet dat daar twee bewegingsintuie is wat belangrike inligting na jou brein stuur waarsonder jy nie kan klaarkom nie.

Wat is propriosepsie?

Propriosepsie gaan daaroor dat jou kind se liggaam boodskappe van buite ontvang oor sy spiere, bewegings en liggaamsposisie waarop hy dan kan reageer. Carol Kranowitz praat in haar bekende boek The Out-of-Sync Child van die posisie-sintuig. Dis die sin van waar jou liggaamsdele, spiere en gewrigte ten opsigte van mekaar is en wat aandui hoe jy hierdie liggaamsdele moet beweeg om ’n taak te verrig, byvoorbeeld hoe hard jy moet druk of trap en hoe ver jy moet reik of jou posisie moet verander. Dis wat jou in staat stel om iets raak te vat selfs al kyk jy nie daarna nie – sonder dat jy jou hand sien, weet jy presies waar dit is en wat dit doen.

As dinge skeefloop

As jou kind se proprioseptiewe sintuig nie behoorlik werk nie, kan hy sukkel om gladde, gekoördineerde en beheerde bewegings uit te voer. Take wat vir ander kinders normaal is, is vir hom ’n probleem, soos loop, kruip en teken. Hy kan sukkel met motoriese beplanning, om sy liggaam in ’n stabiele posisie te hou, om sy bewegings te gradeer sodat hy weet hoe hard of sag hy moet werk, en om beplande bewegings akkuraat uit te voer. Soms dink mense hy is stout of lui, maar eintlik sukkel hy net om sy bewegings te beheer of is dit vir hom net te moeilik. Gebrekkige propriosepsie kan lei tot ’n swak selfbeeld omdat hy gedurig voel hy doen verkeerd of omdat maatjies hom verwerp omdat hy hulle seermaak, al bedoel hy dit nie. As jou kleinding se proprioseptiewe stelsel swak ontwikkel is, sal jy die volgende oplet:

  • Hy is buitengewoon lomp, stamp gedurig teen goed en maak hom dikwels seer.
  • Hy sukkel om sy bewegings te koördineer en om te beheer hoe hard of sag hy iets doen. Hy druk te hard met sy potlood op papier, is geneig om hard te stamp pleks van net ligweg te du, of speel rof met speelgoed of maatjies. Hy kan ook “hard” loop.
  • Hy beweeg gedurig: Hy skop aanmekaar teen goed of vroetel met sy hande, kou aan iets, byt sy naels of knak sy kneukels.
  • Hy is oorenergiek en rof en hardloop, spring, wip rond of raas waar dit eintlik onvanpas is.
  • Hy verkies styfpassende klere soos rolnektruie.
  • Hy sukkel om ’n liggaamsposisie te handhaaf.
Help jou kind

Die goeie nuus is dat ’n mens aan proprio­septiewe probleme kan werk. Hierdie kinders het ekstra proprioseptiewe insette nodig om hul lyfie rustig, georganiseerd en gereguleer te hou. Die arbeids­terapeut Annemarie Lombard stel die volgende aktiwiteite voor.

  • Dra swaar vragte Laat jou kind help om die inkopies in te dra, die wasgoedmandjie rond te karwei, boeke te dra en die gieter te dra om plantjies water te gee. Gee hom ’n rugsakkie met swaar goed wat hy kan ronddra.
  • Stoot en trek ’n Waentjie vol sand wat hy van een plek na ’n ander moet trek, werk uitstekend. Laat hom kruiwa stoot, ’n stootwaentjie stoot, help stofsuig en swaar bokse rondstoot.
  • Hang soos ’n apie Jou kind wil aan sy arms hang; hang dus gerus ringe in sy kamer of aan ’n boom in die tuin, of kry ’n klimraam waar hy na hartelus kan swaai, hang en klouter. Dit stuur belangrike bood­skappe na die brein.
  • Kussingduik Gooi ’n klomp kussings, boontjiesakke en duvets in ’n hoek en laat jou apie daarop spring, rol, strek en duik.
  • Kluisenaarskrap Sit ’n groot pak rys op sy rug en laat hom rondloop met sy “huis” op sy rug.
  • Speel hy is ’n papie Rol hom toe in ’n kombers of mat sodat net sy koppie uitsteek.
  • Gee hom baie stywe drukkies en hou hom styf vas Gaan sit op die vloer agter hom, vou jou bene om hom, sit jou arms om sy knieë en trek hom styf teen jou vas.
  • Rofstoei Laat hom met pappa (of jou) rofstoei.
  • Laat hom kou, blaas en suig Kougom kou kan help. Laat hom borrels blaas deur ’n strooi en alles deur ’n strooitjie drink.
  • Stresballetjie Gee ’n stresballetjie wat hy kan druk en manipuleer as sy hande nie met iets anders besig is nie, of laat hom met klei speel.
HET JY GEWEET?
Hier is voorbeelde van hoe jy jou bewegingsintuie daagliks gebruik: As jy in ’n hysbak ry, voel jy dat jy op of af beweeg, al sien jy dit nie. Toe-oë in ’n motor voel jy wanneer julle om ’n skerp draai ry en pas jy outomaties jou balans daarby aan sodat jy nie omval nie. As jy met trappies afklim, pas jy outomaties jou liggaam by die hoogte aan sodat jy nie onnodig hard trap nie.