Wanneer ’n mens oor jou kinders gesels, is dit nogal ’n uitdaging om nie in clichés te verval nie. En die eerste afgesaagde uitdrukking wat noodwendig by jou opkom en wat jy tot vervelens toe hoor, is: Voor jy jou oë uitvee, is hulle groot. Dit voel soos net nou die dag nog toe ons gekonfronteer is deur een van die afgryslikste, senutergendste, angswekkendste ervarings wat aan die mensdom bekend is: die tandedoek. Nou is Mia ’n trotse haasbek-graadeentjie wat reeds haar eerste dag by Oranje Meisieskool aangedurf het. (Oranje is, so terloops, ’n wonderlike skool, maar hierdie pa moet darem wel noem dat die kleur van daardie pampoenrok-skooluniform iets met tandedoeke gemeen het …) Soos baie dinge in die Jacobs-huis is die wissel van tande nie iets wat sonder drama verloop het nie. Mia se eerste twee wisseltande was sommer die byvangs toe die tandarts onder ligte narkose aan ’n kiestand moes werk. Maar kort voor lank is daar nog ’n tand los – een van die twee lekker grotes bo in die middel. Dae lank word daar opgewonde gewikkel aan die tand wat aanstons moet uitkom. “Dis ’n mooi ene,” sê ek toe ek weer – vir die honderdste keer – aan die los tand moet voel. “Ek dink die Tandmuis gaan groot geld vir hom betaal.” ’n Wenkbrou lig skepties. “Iemand by my skool het gesê die Tandmuis is nie regtig nie,” word ek met ’n beterweterige stem meegedeel. “Dis jou ma of pa wat die geld in jou skoen sit. Haar pa het so gesê.” “Iemand by jou skool het vir jou gejok,” sê ek en verwens in die stilligheid daai pa wat my pret probeer bederf. “Dalk was háár pa se tande kleintyd so vrot dat die muis dit nie eens wou hê nie. Toe dog hy seker maar die Tandmuis bestaan nie. Siestog. Sulke dinge gebeur. En in elk geval, hoekom sal iemand nou máák of daar iets soos ’n Tandmuis is? Ek moet met jou doodeerlik wees, daai tand van jou is mooi, maar ék gaan beslis nie geld betaal vir hom nie – ek het heeltemal genoeg tande van my eie, baie dankie.” Nou kyk, ek kan dalk so gladweg lieg soos ’n tandetrekker, maar dís ongelukkig waar die ooreenkoms ophou … Want die volgende kwessie waarmee daar geworstel word, is juis die metode waarop die tand verwyder gaan word. Hierdie pa is nie ’n groot aanhanger van enige iets waar bloed ter sprake is nie. Ek onthou hoe ek kleintyd flouerig gevoel het as my oupa begin praat het in die rigting van ’n garedraadjie wat om die wisseltand en om ’n deurknop vasgemaak word, en dan word die deur toegeslaan … Een juffrou by Mia se skool is glo ’n voorslag-tandetrekker, en pousetye speel sy tjoeftjaf met wisseltande klaar. Heimlik hoop ek so half die juffrou kan my die gesukkel spaar en die tand trek … Maar kort voor lank ontwikkel Mia ’n doodse vrees vir die trekslag. Niemand mag dit naby die tand waag nie. Trane is telkens betrokke. “Dink net aan al die geld wat jy by die Tandmuis gaan kry,” probeer Mamma, garedraadjie in die hand, ’n beroep op ons spruit se kapitalistiese instinkte maak. “Hoeveel geld?” brom Mia agterdogtig van agter ’n bakhand wat voor haar mond waghou. ’n Bedrag word genoem. Die Tandmuis onderdruk ’n geskokte piepgeluid. “Wanneer gaan my tande uitval?” wil kleinsus Emma dadelik beïndruk weet, met dollartekens wat in haar oë blink. “Kom voel! Is myne nie ook al los nie?” Nog ’n week gaan verby. Later is Mia se tand so los dat dit op die ou end ’n uiters onskouspelagtige tandetrekpoging verg om dit uit te kry. Ek knyp dit bloot sagkens tussen twee vingers uit. Mia is hewig beïndruk. “Dit was glad nie eens seer nie! Dit blóéi nie eens nie!” En daar en dan besluit sy – hierdie tand gaan sy soos ’n trofee hou. “Maar wat van die Tandmuis?” vra ek geskok. Gaan ek nou ná al die drama nie eens die kans kry om my lyf Tandmuis te hou nie? “Hy bou mos vir hom ’n paleis met al die tande. Joune is so mooi, dalk gebruik hy dit nog vir die troon.” “Ag, daar is baie kinders by my skool wie se tande uitval,” sê Mia met ’n skoueroptrek. “Hy kan maar hulle s’n gebruik.” “En die geld?” vra ek. “As jy nie jou tand vir die muis los nie, gaan hy nie in die nag vir jou geld los nie.” Sy dink ’n oomblik na. “Daar is nog geld in my spaarbussie wat Oupa my gegee het,” besluit sy. “En ek gaan nie hou van ’n muis in my kamer nie … Ek gaan niks geslaap kry nie.” Emma se oë rek. “Sê nou Vulcan eet hom op?” roep sy uit. Vulcan is Emma se troetel-luislang (moenie vra nie). En dit is nogal kommerwekkend dat sy opreg opgewonde lyk oor die vooruitsig dat haar reptiel die einde van dié befaamde knaagdier kan beteken. Die stryd het ek oplaas verloor. Die Tandmuis moes toe maar elders materiaal vir sy koninklike bouprojek gaan soek. Mia se tand bewaar sy soos goud in ’n spesiale bêreplekkie op haar bedkassie. Emma wag intussen ongeduldig dat haar eerste tand ook moet begin wikkel … Ons sal maar moet sien of daai muis genoeg hare op sy tande het om dit veilig verby die luislang te maak. En elke keer as ek Mia se haasbekkie opmerk, kry ek so ’n ligte beklemming om my pa-hart, en die clichés kom karring weer ongenooid in my gedagtes: Voor jy jou oë uitvee …