Wenk #1

Sit dit af

Is jy een van daardie ouers wat dink jou kind kan goed konsentreer omdat hy ure lank voor die televisiestel vasgenael sit? Jy maak ’n groot fout. Die uitwerking van TV op ons brein is amper verlammend en doen niks om kinders se aandagspan te verbreed nie. 

Probeer hou by een goeie program per dag en skakel dan die kassie af. Dieselfde geld vir rekenaarspeletjies. Jou kind kan wel ’n ding of twee leer met ’n rekenaarspeletjie, maar hou die speelsessies kort sodat hy nie te gewoond raak aan die oombliklike bevrediging wat ’n mens met rekenaarspeletjies kry nie. Moedig jou kind liewer aan om dinge te doen wat sy aandagspan bou, soos om na boeke te kyk of met kaarte te speel. 

Wenk #2

Wag ’n bietjie

Maak ’n punt daarvan om jou kind te leer om ’n bietjie te wag. Dis ’n baie belang­rike vaardigheid vir toekomstige sukses. ’n Kind wat geleer het om te wag, is beter toegerus om ’n moeilike taak aan te pak. Só ’n kind sal met minder frustrasie aan die werk spring, langer aanhou probeer en nie so gou tou opgooi as die taak vervelig is nie. 

Die vrugte wat hy pluk, is ’n gevoel van diep bevrediging wanneer die taak afgehandel is. Moet dus nie oombliklik in al jou kind se behoeftes voorsien nie en laat hom toe om soms te sukkel. Prys sy pogings en gesels met hom oor sy frustrasies. 

Wenk #3

Vroeg in die vere

Navorsing wys dis die slaapure vóór middernag wat tel. Voorskoolse kinders floreer op 11 uur slaap per nag. Werk uit hoe laat jul slaaptydroetine moet begin afhangende van hoe laat julle moet opstaan. Probeer naweke by dieselfde roetine hou – dis op die lange duur makliker as om elke Maandag met ’n moeë kind opgeskeep te wees weens slaapontwrigtings oor die naweek. 

Wenk #4

Regte brandstof

Hou koekies, lekkergoed, koeldrank en kitskos vir spesiale geleenthede soos partytjies. Baie kinders reageer hewig op te veel suiker en kan dan hiperaktief of buierig wees terwyl hul lyfie sukkel met ’n bloedsuikervlak wat skielik opskiet en dan skerp daal. Maak goeie keuses vir ontbyt, soos ’n kaasbroodjie, appel en glas melk, of lae-GI-graankos sonder suiker. Eiers en bone is ook goeie keuses. 

Leer jou kind om water te drink. Oorweeg ook ’n aanvulling van nood­saaklike vetsure wat spesiaal vir kinders geformuleer is, want min van ons eet werklik drie keer per week olierige vis. Moenie swig en gemorskos in jou kind se kosblik pak nie – ’n heelgraanbroodjie met grondboontjiebotter, ’n vrug en ’n paar amandels is baie beter keuses. 

Wenk #5

Takies in die huis

Dis heeltemal in orde om van jou kind te verwag om seker takies in die huis te verrig. So leer hy pligsgetrouheid en verantwoordelikheid, en oefen hy ook sy vermoë om op ’n taak te fokus. 

Jou voorskoolse kind behoort self sy speelgoed op te ruim, sy klere in die wasgoedmandjie te gooi en saam met die gesin aan tafel te sit. Hy kan selfs helptafel dek, na troeteldiere omsien en bed opmaak. Maak seker jou kind weet dat hy dié dinge doen nie as ’n guns of om sakgeld te verdien nie, maar omdat dit heel eenvoudig ’n normale deel van grootword is. Gee hom takies wat binne sy vermoë is en sy selfbeeld sal ’n goeie hupstoot kry.

Wenk #6

Speel buite

’n Brein kan net op sy beste werk as die lyf ook fiks is. Ons moderne leefstyl word ál meer onaktief en onderwysers sien ál meer kinders wat met lae spiertonus sukkel en hulleself in die klas nie kan regop hou nie. As jou kind nie regop kan sit nie, gaan skoolwerk ’n probleem word. Moedig hom aan om buite te speel. Spring, hardloop, aapstange uitklouter, balle skop, fietsry, swem, boomklim . . . dis alles uitstekende oefening. As jou kind reeds so onaktief is dat hy onwillig is om te beweeg, moet julle as gesin geleidelik meer begin doen. Gaan stap ten minste elke aand om die blok en bou geleidelik meer aktiwiteit by jul dag in. Mik na minstens ’n uur per dag. 

Wenk #7

Gesels rustig 

Die beste manier om jou kind se luistervaardighede aan te moedig, is om genoeg rustige tyd opsy te sit om regte gesprekke te voer. Vra hom oor iets uit en luister aandagtig na sy antwoord. Die motor is ’n goeie plek daarvoor. Lees baie vir hom, of span luisterboeke in eerder as die televisie. Probeer om een keer per dag saam aan tafel te sit, want dis wanneer julle kan oogkontak maak. ’n Geselsie in die donker voor slaaptyd is ook goeie oefening vir jou kind se luistervaardighede.

Kry hulp

As jou kind reeds goed eet, goed slaap, min televisie kyk en baie buite speel, maar steeds sukkel om te fokus, is daar dalk iets anders wat in die pad staan van goeie konsentrasie. Vra jou af of daar iets is wat jou kind angstig maak en raadpleeg ’n sielkundige. Dalk is jou kind buitengewoon sensitief en sukkel hy om te konsentreer omdat sy sintuie eenvoudig oorlaai word. ’n Arbeids­terapeut sal daarmee kan help.