Die vaslegging van kleurbegrip begin reeds met geboorte. Eksperimente het gewys selfs klein babatjies reageer verskillend op verskillende kleure en staar byvoorbeeld langer na ’n blou of groen voorwerp as na ’n rooie. Hulle het egter hulp nodig om te leer watter naam by watter kleur pas, maar hulle kan dit van twee jaar af begin leer.

Teen die tyd dat jou kind graad O toe gaan, word haar kleurherkenning beoordeel en sal sy ook al kleurpatrone moet kan onderskei soos twee geel, een rooi, twee geel en een rooi. Dit vorm die basis van belangrike wiskundige vaardighede. Hier is ’n paar prettige speletjies wat kan help om kleure vroeg al vas te lê.

#1 Doen-dobbelsteen

Maak ’n groot dobbelsteen van gekleurde karton. Elke kant moet ’n ander kleur wees. Pas sekere optredes by elke kleur: As dit rooi is, moet ons plat op die grond gaan sit; as dit geel is, moet ons in die lug opspring; en as dit groen is, moet ons ’n maatjie groet. Maak beurte om die dobbelsteen te gooi en die kleure uit te roep terwyl julle almal die gepaste aksies uitvoer.

#2 Assosiasie-idiome

’n Maklike manier om kleure te help vaslê is met assosiasie. Leer vir jou kind “so groen soos gras” en “so blou soos die lug” – dan weet sy groen is die kleur van gras en blou die kleur van die lug.

#3 Sak vol verrassings

Pak ’n sakkie vol gekleurde blokkies van dieselfde vorm en grootte en vra jou kleuter om hulle een vir een uit te haal terwyl julle saam die kleure benoem. Jy kan haar ook vra om die rooi blokkie op ’n rooi kleurblad te pak (en so aan) terwyl julle saam die kleur benoem.

#4 Kleurryke week

Besluit om ’n week lank op een kleur te fokus en gebruik die naam van die kleur soveel moontlik. Trek elke dag vir jou en jou dogter ’n rooi hempie aan, laat haar uit die rooi bakkie eet en pak ’n rooi appel in haar kosblik. Volgende week kom blou aan die beurt.

#5 Speletjies wat beskryf

Speel “Ek sien met my kleine ogies” met kleure as die hoofleidraad. En hier is nog ’n prettige rympie wat jy kan gebruik: “Ek sien, ek sien wat jy nie sien ... en die kleur is ... rooi.”

#6 Onthou en soek

Pak voorwerpe soos blokkies in die primêre kleure op ’n skinkbord uit. Laat jou kleinding dit bestudeer. As sy klaar is, moet sy haar ogies toedruk. Verwyder dan een van die voorwerpe. Laat haar weer kyk en sê wat weg is. Jy kan vir haar sê watter kleur dit is.

#7 Kleurflitskaarte

Dit bly ’n goeie manier om jou kind aan kleure bekend te stel omdat daar min kans is vir verwarring oor watter eienskap die kleurwoord beskryf. Daarteenoor kan ’n kleuter met haar beperkte woordeskat sukkel om te identifiseer na watter eienskap jy verwys as jy vir haar sê “dit is ’n rooi bal”. Is die bal se vorm rooi? Of praat jy van die patroon of die kleur van die bal?

#8 Skattejag

’n Skattejag bly groot pret. Steek gekleurde koeldrank- of melkbotteldoppies oral in die tuin weg. Soek eers al die bloues, dan die rooies, dan die groenes, en dan die geles.

#9 Speelput vol kleur

’n Sensoriese speelput waarin jou kleinding verskillende teksture kan voel en kleure kan ontdek sal haar ’n hele ruk besig hou. Plaas rys in ’n plastieksak met net ’n druppel of twee voedselkleursel in. Skud en vryf dit deeglik tot al die rys gekleur is. Laat staan die sak oop tot die rys droog is en gooi dit in ’n bababad uit. Vul dit dan met speelgoed van dieselfde kleur aan. Jou bababadjie sal byvoorbeeld blou rys in hê, maar ook ’n blou plastieklepeltjie, blou skepbakkie, blou trekkertjie en ’n paar blou blokkies. Herhaal die woordjie “blou” gereeld en vertel vir jou kleinding dat alles in die bad blou is.

ONTHOU
In ’n studie deur wetenskaplikes van die Cognition Language and Learning Lab by die Stanford-universiteit in Amerika is bevind dat kinders kleure vinniger leer as jy eers die voorwerp noem en dan die kleur: “Die beker is blou” eerder as “die blou beker”. Dit is omdat die kind dan weet waarna sy moet kyk as daar na ’n kleur verwys word.

#10 Ontdekkingshouer

Plaas ’n verskeidenheid voorwerpe in ’n deursigtige plastiekbottel soos knope, stukkies papier, stukkies speelgoed, pypskoonmakers en tossels. Seël die bottel goed. Vra jou peutertjie om die kleure van verskillende voorwerpe daarin te benoem of doen dit saam-saam as sy nog leer.

#11 Soek en pas

Kleur die onderkant van die holtes van ’n groot eierhouer in verskillende kleure (’n ouer kleuter kan dit self inkleur terwyl julle oor die kleure gesels). Plaas dan bakkies met verskillende kleure tosseltjies (te kry by ’n handwerkwinkel) langsaan neer. Gee jou kleinding ’n knyptangetjie en moedig haar aan om die tossels by die regte kleure in die eierhouer te pas. ’n Ouer kind kan probeer om dit vinniger te doen. Wenk: As jy nie tosseltjies het nie, kan jy ander gekleurde voorwerpe soos boublokkies inspan.

#12 Meng en pas

Verf bly een van die lekkerste maniere om jou kleinding aan kleure bloot te stel. Meng die primêre kleure as julle poeierverf het of koop dit klaar reg. Meng dan kleure met mekaar en kyk watter nuwe kleure vorm. Maak seker julle het wit vir kleure soos pienk en ook vir verskillende skakerings van dieselfde kleur. Dit sal help dat jou kleinding verstaan dat ’n mens verskillende skakerings van ’n kleur kry.

#13 Kleurgeveg

Trek jul oudste klere aan en gee vir jou kind die geel poeierverf in ’n klein sakkie terwyl jy die rooi een vat. Sit sonbrille op om jul oë te beskerm en maak oorlog! Kyk wie is aan die einde die meeste met verf bemors.

#14 Gekleurde klippe

Verf ’n klomp rivierklippe in verskillende kleure. Julle kan dit sorteer, patrone daarmee pak en ander speletjies daarmee speel terwyl julle die kleure benoem.

#15 Slim met serpe

Plaas lappe of serpies van verskillende kleure in ’n skoendoos met ’n gaatjie bo. Moedig jou peuter aan om die serpe deur die gaatjie uit te trek en benoem die kleur van die serp saam met haar terwyl sy dit uittrek. 

HET JY GEWEET?
Kenners beveel aan dat kinders kleure geleer word met die hulp van neutrale voorwerpe wat presies eenders lyk – soos reghoekige stukke papier – sodat hulle nie kleurbenoeming verwar met die ander eienskappe van ’n voorwerp nie. Dan sal hulle nie wonder of jy die kleur of die vorm bedoel as jy na ’n geel driehoek en ’n rooi sirkel wys en dan “geel” en “rooi” sê nie.