Omtrent alle babas suig die een of ander tyd duim. Trouens, hulle doen dit terwyl hulle nog in die baarmoeder is, skryf dr. Melodie de Jager in haar boek BabaGim. Dis iets wat jou baba instinktief doen. Sy is as ’t ware geprogrammeer om te suig omdat suig so ’n belangrike rol in voeding en oorlewing speel. As sy haar duim of handjies suig, verlig jou baba haar stres of angs. 

Hoekom is dit ’n probleem?

Die meerderheid kinders leer duimsuig self teen omtrent drie jaar oud af. Maar navorsing wys sowat 10 persent hou daarmee aan, en tandartse vertel hulle kan maklik sien of ’n volwassene duim gesuig het omdat dit die posisie van hul permanente tande beïnvloed. Die boonste voortande word die meeste geraak omdat dit buitentoe gestoot, terwyl die onderste tande weer binnetoe gedruk word.  Babas en jong kinders se kakebene is nog sag en moet nog ontwikkel – dis hoekom duimsuiery so ’n invloed kan hê. Dit kan ook in sommige gevalle die groei van die verhemelte belemmer, wat kan lei tot latere kou-, sluk- en spraakprobleme. Sielkundiges meen ook dat babas en peuters duim suig as ’n “streskruk”. 

Help jou kind 

Begin dus die duimsuiery sagkens hokslaan deur eers seker te maak dat daar niks in die huis is wat te veel stres vir jou kinders veroorsaak nie. Kyk ook of jy nie ’n alternatiewe trosie vir jou kind kan vind nie, soos ’n kombersie, beertjie of fopspeen. As die duimsuiery regtig erg is, kan ’n mens as laaste uitweg probeer om iets aan die duim te smeer wat sleg smaak, maar dis nie baie doeltreffend nie omdat dit jou kind nog meer gespanne kan maak, wat die drang om te suig net vererger. Ander planne is om ’n pleister op die duim te plak of om jou kind handskoene te laat dra wanneer sy slaap. Aan ’n ouer kind wat al ’n bietjie rede kan verstaan, kan ’n mens ook rustig oor en oor verduidelik hoekom dit sleg is, en ’n klein beloning aanbied om die duimsuier van die gewoonte te laat afsien. 

Vermy dit van jongs af

Die ouer geslag frons dikwels oor fopspene, maar ál meer navorsing dui daarop dat fopspene eintlik voordelig is. ’n Fopspeen laat jou baba toe om haar natuurlike suigdrang te bevredig, dis meer higiënies as ’n duim want jy kan dit steriliseer, dit verlaag die gevaar van wiegiedood, dit bevorder korrekte asemhaling (deur die neus, nie die mond nie) en dis boonop veel makliker om op die gepaste ouderdom van ’n fopspeen afstand te doen as van ’n duim.