Uitsittyd is ’n dissipline-tegniek wat bedoel is om jou peuter kans te gee om weer tot verhaal te kom as haar kop ’n bietjie uitgehaak het. Klein kinders bevind hulle dikwels in situasies wat vinnig buite hul beheer raak en hulle weet nie hoe om daaruit te kom nie. Dis tipies dan dat stout gedrag of vloerstuipe kop uitsteek. Uitsittyd kan help.
Deur jou kind vir ’n rukkie te verwyder uit die geselskap, of van waar julle aan die speel was, wil jy dit by haar tuisbring dat goeie gedrag lekker voel en dat slegte gedrag glad nie lekker voel nie. Mettertyd sal sy gemotiveer voel om haar goed te gedra omdat sy dit self ook so verkies. Dis nie lekker om stout te wees nie! Uitsittyd is nie ’n straf nie – dis bloot bedoel om ’n gedragsverandering teweeg te bring. Julle kan dit ook afkoeltyd noem as dit vir jou beter klink.
Uitsittyd kan doeltreffend ingespan word as jou peuter tussen 18 en 24 maande oud is, en werk tot op omtrent ses jaar. Voor 18 maande werk dit beter om maar net jou kind se aandag af te trek of haar te vang voor sy iets verkeerds doen en haar in ’n ander rigting te stuur. Ná ses jaar kan jou kind al logieser dink en redeneer en het sy hopelik al genoeg selfdissipline ontwikkel dat uitsittyd nie meer nodig is nie.