”Minder as ses maande – dis hoe vinnig jou kleuter aan skermtyd verslaaf kan raak.” 

Dié waarskuwing verlede jaar deur die Johannesburgse arbeidsterapeut en neuro-ontwikkelingskundige Juliana Freeme het deelnemers aan die konferensie waar sy gepraat het, regop laat sit. Want hoe maklik het dit nie geword om gou jou selfoon of tablet in jou kleinding se hande te stop sodat hy hom net ’n paar minute self kan besig hou terwyl jy op ’n ander taak konsentreer nie? 

Suid-Afrikaners moet dringend meer bewus raak van die invloed op ons kinders se brein en ontwikkeling, sê dr. Marlena Kruger, stigter van die TechnoLife Wise Foundation en MindUnique Education, twee Johannesburgse organisasies wat hulle op opvoeding en ’n balans tussen tegnologie en lewe toespits. "Die oorgebruik van tegnologie tas nie net ons gesondheid aan nie, maar ook ons welsyn en ons ontwikkeling as mens,” sê Marlena. 

Volgens haar is dit veral voorskoolse kinders wat kwesbaar is vir te veel skermtyd. Hier is ’n paar redes waarom:

1. Skermtyd steel ontwikkelingstyd

Jou kleinding ontwikkel in die voorskoolse jare teen ’n gewel­dige pas en raak ’n eindelose lys van nuwe intellektuele, fisieke, emosionele, sosiale en geestelike vaardighede baas deur te verken, voel, vat, proe, luister en praat en deur die wêreld met behulp van sy sintuie te ontdek. 

Belangrike groot motoriese vaardighede soos klim, balanseer, spring en bal skop ontwikkel. Fyn motoriese vaardighede, liggaamskrag en kernstabiliteit word vasgelê en dieptepersepsie en ’n begrip van waar die liggaam in ruimte is, ontwikkel.

Asof dit nie genoeg is nie, leer jou aapstert terselfdertyd om voorwerpe te benoem en te beskryf, nuwe begrippe te verstaan, te redeneer en hom in taal uit te druk deur nuuskierig vragies oor alles om hom te vra. 

Hy leer hoe om hom self te versorg, sosiale grense en reëls, begrip vir sosiale boodskappe, oogkontak en hoe om sy eie en ander se emosies te verstaan. 

Hy ontwikkel die vaardigheid om te fokus en ’n taak te voltooi en tussendeur ontwikkel sy sin vir humor, die vermoë om kritiek te aanvaar en goeie maniere. 

Kortom, hy word mens. Tyd en oefening is egter nodig om hierdie vaardighede te ontwikkel, sê Marlena. Dis nie iets wat jou kind op televisie of met die hulp van ’n tablet kan leer nie. Ons as ouers moet dus krities oor skermtyd dink en besef dat dit belangrike ontwikkelingstyd steel.

"Hoe korter skermtyd, hoe beter,” sê sy. ”Dink oor hoe dinge sonder ’n skerm sou gelyk het. Byvoorbeeld: Jy maak kos. Dis maklik om jou kind ’n selfoon in die hand te stop, want dan is hy nie in die pad nie. Maar hoeveel meer vaardighede sal hy nie ontwikkel as hy saam met jou kon kosmaak nie? Of as jy eerder ’n legkaart uitgesit het nie? 

”Ons kán ’n kind blootstel aan tegnologie en die dinge wat dit leer, maar eers moet hy sy menswees ontwikkel deur ál sy sintuie te gebruik.”

Ongelukkig sien ouers nie die invloed van skermtyd op die stadiger ontwikkeling van hul kleuter raak nie, of hulle besef dit eers wanneer dit te laat is.

”Ons moet ons kinders se skermtyd bestuur. Ons kan dit nie aan hulle oorlaat nie,” sê Marlena.

Jou kind lyk dalk net werklik gelukkig wanneer hy met ’n skerm voor hom sit. Of jy dink hy is skaam en verkies dit om op die tablet te speel eerder as met maatjies. 

“Maar dit is soos hekel as jy nog nie kan nie: Jy moet daardie eerste stap neem en dit oefen voor jy beter kan word,” sê Marlena. 

”Natuurlik is jou kind gelukkiger voor sy skerm, want hy word dan nie gekonfronteer met iets waarmee hy nog nie so vaardig is nie, soos om bal te skop of met maatjies te kommunikeer. Maar die skerm keer juis dat jou kind daardie vaardighede ontwikkel. Hy lyk dalk gelukkiger in die geselskap van sy skerm, maar jy betoon hom nie ’n guns nie want ander ontwikkelingsgebiede raak agter.”

2. Oorstimulasie 

Skerms soos televisie en tablette is propvol vinnige beweging, klank en helder kleure, maar dit kan by klein kinders maklik oorstimulasie veroorsaak. Kenners reken selfs matige hoeveelhede gereelde skermtyd kan ’n kind ooropgewonde maak en sy sensitiewe senustelsel oorstimuleer. Voorskoolse kinders en kleuters is nie gebou om aanhoudend gestimuleer te word nie. 

“Hulle moet sekere ontwikkelingstadiums op ’n mensmanier deurloop. Dit beteken dat hulle met al hul sintuie van kop tot toon en deur beweging gestimuleer moet word. Sodra ’n kind voor ’n skerm sit, word net sy ogies en ore oorgestimuleer terwyl die res agterweë bly,” sê Marlena. 

Sy vergelyk dit met ’n gewone omgewing, soos wanneer ’n kind by jou sit en saam met jou deur ’n storieboek blaai. 

“Dan kan jou kind sy ervaring baie beter bestuur. Dinge gebeur stadiger, hy vat aan die boek en kyk na die prentjies, hy kan jou ruik, hy kan jou voel, na jou luister en interaktief vrae vra, en jy kan sien as hy begin moeg word en die boekie toemaak. Sy algehele stimulasie is baie anders wanneer hy voor ’n skerm sit.” 

3. AGHS en outisme

Marlena skroom nie om ’n regstreekse verband uit te wys tussen die oorgebruik van tegnologie en skerms en die toename in die diagnose van outisme en aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis (AGHS) nie. Dis nie dat te veel skermgebruik dié toestande veroorsaak nie; dis dat kinders wat te veel skermtyd kry, dieselfde simptome ontwikkel as kinders wat liggaamlik aan AGHS of outisme ly.

“Die kind sit gedurig voor ’n skerm en word heeltemal oorgestimuleer. Hy kry verder heeltyd belonings in sy speletjies, selfs opvoedkundige speletjies. As hy na ’n ‘gewone’ omgewing oorskakel, is alles vir hom vervelig en probeer hy dieselfde opwinding vind. 

”Weens die baie tyd voor die skerm verloor hy ook sosiale vaardighede en die vermoë om oogkontak te maak – simptome wat gewoonlik met AGHS en outisme verband hou.”

4. Oormoeg ogies

Te veel skermtyd beskadig jou kind se oë en ál meer kinders begin op ’n jong ouderdom bril dra. Dis onder meer omdat kinders weens skermtyd minder buite speel. In navorsing is bevind dat kinders wat meer tyd binnenshuis deurbring, meer tot bysiendheid geneig is. 

Nog ’n probleem is visuele ooreising. Volgens Marlena word televisie gewoonlik op ’n verder afstand gekyk wat die ogies nie so erg uitput as ’n klein skermpie nie. Maar as jou kind heeltyd op ’n klein skerm probeer fokus, kan dit maklik tot visuele ooreising lei. 

“Dit maak dit moeilik om te fokus. Die ogies raak deurmekaar en as jou kind sukkel om te fokus, bring hy die skerm nog

nader om beter te kan sien. Dis nie goed vir sy oë nie en kan dit vir ’n ruk daarna weer moeilik maak om van ’n verder afstand af te fokus.” 

Bestuur skermtyd slim

Die belangrike vraag is hoeveel waarde skermtyd by jou kind se lewe voeg, sê Marlena. 

“Jy moet namens jou kind vra: Het dit waarde en voeg dit gehalte by sy lewe?  Skerms kan jou kind moontlik dinge leer, maar dis tweedebeste. Die beste is om deur menslike interaksie te leer.” Sy beklemtoon dat baie moderne kinders nie meer kan onderskei tussen die voor- en nadele van ’n wêreld met of sonder skermtyd nie. 

“Ons ouer mense ken wel die verskil en moet dus goeie grense en dissipline daarstel.”

Hoeveel skermtyd is dus te veel?

Kinders onder twee moet geen skermtyd hoegenaamd kry nie, sê Marlena. As dit nie anders kan nie, kan ’n kind tussen twee en vier jaar oud ’n maksimum van 15 tot 20 minute per dag skermtyd kry. “En dis ook al lank.” 

Sy reken skermtyd behoort nie meer as ’n uur per week te wees nie.

Is my kind verslaaf?

Dis moeilik om te glo dat ’n tweejarige verslaaf kan raak, maar as jy die volgende tekens by jou kleinding sien, moet jy oor sy skermtyd besin:

  • Jou kind kry die piep as jy die skerm wegneem, selfs al het jy hom vooraf daarop voorberei dat jy dit gaan doen.
  • Jy kom agter jou kind begin die skerm bo sy natuurlik omgewing verkies en gebruik dit om ander aktiwiteite te vermy.
  • Hy behaal nie sy mylpale betyds nie.

Hoe maak jy ’n einde aan die verslawing? Hoe meer vryheid jou kind gehad het met skermtyd, hoe moeiliker is dit om dit te verwyder. Marlena se raad is dat jy ’n voor­skoolse kind daarop voorberei dat jy dit gaan doen. Terselfdertyd moet jy seker maak dat almal in die omgewing, van Oupa en Ouma tot die versorger, daarvan weet en jou steun. 

“Besluit op ’n datum waarop jy dit gaan implementeer en hou dan by jou grense. Verwag woedebuie en vloerstuipe.”

Dis baie belangrik dat jy die tyd wat jou kind normaalweg voor die skerm sou deurbring, vervang met ander, sinvolle aktiwiteite. 

”Dit help nie jy vat sy skermtyd weg, maar bring dan nie tyd saam met hom deur of maak seker hy speel in die sandput nie. Deur dit vooraf te beplan, sal jy makliker by jou besluit kan hou. Roep gerus professionele hulp in as jy sukkel.” 

Gevallestudie

Een van Marlena se kliënte was ’n ma wat altyd vir haar seuntjie ’n tablet gegee het terwyl sy haar baba gevoed het. 

“Hy is nou vyf en sy kon hom nou eers van die doeke af kry, want hy het nie gesien hoe Mamma en Pappa toilet toe gaan nie omdat sy oë heeltyd op die skerm gerig was. Hy kry elke week fisio- en spraakterapie. Hy het belangrike mylpale misgeloop, want hy wou nie rondhardloop of buite speel nie. 

“Die seuntjie is met outisme gediagnoseer, maar toe kom die terapeut agter die probleem is net dat sy brein nie reg ontwikkel het nie omdat hy sekere venstertydperke van ontwikkeling misgeloop het terwyl hy aan die skerm vasgegom was.”