(Hierdie artikel was eerste gepubliseer is Baba & Kleuter, Junie 2015) 

Toe ek grootgeword het, het ons ’n reus van ’n vrou as oppasser gehad. Sy het my en my broer in die huis rondgejaag en geskree: “Ek gaan julle met die houtlepel bykom!” Ons het gedink dis skreeusnaaks, veral omdat ons haar gewoonlik kon uitoorlê deur by ’n venster uit te klimtot op die dak – tot sy ons in die hande gekry en gewiks het.

My ma het ons ook pak gegee en my broer het slae gekry by sy skool. Pak slae was ’n integrale deel van hoe ons – en die meeste Suid-Afrikaners van my ouderdom – gedissiplineer is. Maar lyfstraf as ’n vorm van dissipline is omstrede, en ’n polariserende onderwerp onder ouers, sielkundiges, akademici, regsgeleerdes en ander professionele persone.

Wat sê die wet?

In Suid-Afrika is die wet duidelik – in 1996 is die gebruik van lyfstraf in skole onwettig verklaar met die aanvaarding van die Suid-Afrikaanse Skolewet, wet 84, artikel 10 (1). Die Wet op Nasionale Onderwysbeleid (1996) verklaar dat “niemand lyfstraf mag toedien nie, of ’n student by enige onderwysinrigting aan sielkundige of liggaamlike mishandeling mag onderwerp nie”, wat strook met ons grondwet. 

Lees: 10 Reëls vir dissipline

In 1997 is lyfstraf uit die strafstelsel verban, maar die Suid-Afrikaanse gemenereg laat ouers steeds toe om “tug matig en redelik toe te dien” ten spyte daarvan dat lyfstraf deur ouers in 46 lande verbied word. In 2013 het die departement van maatskaplike ontwikkeling weer die debat aan die gang gesit en te midde van hewige protes ’n wet voorgestel wat dit onwettig sal maak om jou kind in jou eie huis pak te gee.

Wat is lyfstraf?

’n Raps op die hand as jou peuter aan ’n kragprop vat? ’n Pak slae met ’n gordel as jou seun teëpraat? ’n Plat hand op die boud as jou vierjarige oor ’n besige straat wil hardloop? Selfs die omskrywing van wat presies lyfstraf is, is debatteerbaar: Waar hou dissiplinering deur middel van ’n pak slae op en waar begin fisieke aanranding?

Die meeste professionele mense wat aandag aan dié kwessie gee, beskou lyfstraf en fisieke aanranding as punte op dieselfde kontinuum. Dit word algemeen aanvaar dat lyfstraf die doelbewuste gebruik van fisieke geweld is waartydens ’n kind pyn ervaar, maar nie fisiek beseer word nie, om onaanvaarbare gedrag te beteuel of te straf.

Sal ’n pak slae werklik wangedrag staak?

Om waarlik die invloed te verstaan wat lyfstraf deur ouers op ’n kind en die kind se gedrag het, het die akademiese sielkundige en navorser Elizabeth Gershoff van die Columbia-universiteit in Amerika al die navorsing van die afgelope 62 jaar saamgevat in een navorsingstudie, oftewel kritiese beskouing.

Sy het gekyk na 11 soorte kindergedrag en ervarings wat algemeen met ’n pak slae verbind word, soos dat die gedrag dadelik ophou, dat dit nie weer voorkom nie, dat die kind aggressiewer word of meer antisosiaal optree – en sy het getoets of daar regtig ’n verband is. Haar bevindings was baie onthullend.

Ja, as jy jou kind ’n raps gee, gaan dit onmiddellik die onaanvaarbare gedrag stop. Dis mos ’n goeie ding, nie waar nie? Nie noodwendig nie, want soos Elizabeth dit verduidelik, sal lyfstraf nie altyd verhinder dat die gedrag weer voorkom nie, veral as die ouer nie teenwoordig is nie.

Lees: 10 dissiplinereëls wat jou lewe kan verander

Lyfstraf leer nie vir kinders waarom die gedrag onaanvaarbaar is nie en dus leer hulle nie hoe om self hul gedrag te beheer nie. Hulle doen die regte ding bloot om soet te wees en omdat hulle bang is hulle kry pak; wanneer niemand egter kyk nie sal hulle gewoonlik voortgaan met die slegte gedrag. Om alles te kroon merk Elizabeth dat ’n pak slae verband hou met hoër aggressievlakke en die gebruik van geweld om konflik in latere kinderjare te hanteer;

’n agteruitgang van die verhouding tussen die ouer en kind omdat die kind pyn, vrees, angs en spanning ervaar in die verhouding met sy of haar primêre versorger, en ’n toename in geestesgesondheidskwessies soos depressie, alkoholisme, selfdoodneigings en ’n gebrek aan selfagting omdat lyfstraf ’n kind verneder en hulpeloos laat voel.

Dié vorm van dissipline leer kinders ook dat geweld aanvaarbaar is in vriendskappe en intieme verhoudings, en word dus oorgedra na hulle verhoudings as volwassenes. Kinders wat pak kry, is meer geneig om slagoffers of plegers van huishoudelike geweld te wees en om gewelddadige misdadige en antisosiale gedrag te toon.

Lees: Superouma deel raad oor dissipline

Dit alles klink angswekkend, maar die meeste van ons wat as kinders pak gekry het, het tog goed aangepaste volwassenes geword – in die meeste gevalle. In haar navorsing wys Elizabeth egter daarop dat dit baie ingewikkelde konsepte is en dat jy nie net ’n pak slae kan blameer vir die soort volwassene wat ’n kind word nie.

Dit hang af van verskeie ander faktore soos die aard, intensiteit en gereeldheid van die straf, of ’n verduideliking of waarskuwing gegee is, of ander vorms van dissipline gebruik is, en hoe die pak slae gegee is, byvoorbeeld of die kind geslaan is in ’n woedebui en of hy of sy eers gewaarsku is en toe ’n beheersde, vinnige pak gekry het.

Dis egter duidelik dat daar verskeie ander doeltreffende dissiplinetegnieke is wat op lang termyn suksesvoller is om ’n kind se gedrag te verbeter, ’n positiewe verhouding tussen die kind en versorger te skep en die kind se identiteit te help vorm.