Om opreg om verskoning te kan vra is ’n pragtige eienskap, sê Anri van den Berg, ouerskaps-, verhoudings- en traumaberader by die Vita Nova-beradingsentrum in Elarduspark, Pretoria.

Aan die ander kant is niks so leeg soos ’n onopregte jammer nie, sê sy. “Ons moet dus nie vir ons kinders dwing om jammer te sê en dit dan net daar laat nie. Die woorde op sigself beteken nie veel nie. Dit moet van ’n daad vergesel word. Jy kan jou kind meegevoel leer deur te verduidelik dat hul optrede gevolge het en dat hulle iets kan doen om die gevolge beter te maak. Julle as ouers kan die voorbeeld stel deur ‘jammer’ ook as ’n werkwoord te beskou.”

Die meeste kinders jonger as vyf het nog nie die vermoë om jammer te voel nie, sê Anri. “Hulle kan dit wel naboots om jammer te sê, maar hulle kan dit nog nie aanvoel nie.” Om jammer te kan voel, moet ’n kleuter reeds ’n mate van empatie ontwikkel het, sê Heske Sangster, ’n kinderterapeut en maatskaplike werker by die Vita Nova-sentrum. “

’n Kleuter begin in haar tweede jaar prososiale gedrag ontwikkel. Dit sluit in die vaardigheid om ander se gevoelens te verstaan en empaties op te tree wanneer ander ongelukkig is.” Die ontwikkeling van empatie gaan gepaard met kinders se eie ervaring van hoe hulle behandel word wanneer hulle ongelukkig is of seer het, verduidelik Heske.

“As ouers warm en liefdevol optree, is kinders meer geneig om dieselfde te doen.” Klein kindertjies sê anders jammer as grootmense, sê Hettie Redelinghuys, ’n opvoedkundige sielkundige van Bloemfontein. “Hulle doen dit nog op hul eie kinderlike vlak. Een kleintjie sal byvoorbeeld vir die ander een glimlag of ’n handjie op sy arm sit of selfs sy handjie vat. Veral meisietjies sal dit doen.”

Jammer sê is nie genoeg nie. Dit moet met ’n handeling opgevolg word.

Jammer sê, stap vir stap

Hoe gemaak as jou kind ’n maatjie slaan en die maatjie huil?

Stap 1

Gaan onmiddellik soontoe en sak af tot op jou kind se vlak. Dit help ook as jy liggies aan jou kind se arm vat of jou arm om haar lyfie sit. Die aanraking en die feit dat julle op dieselfde ooghoogte is, help haar om dadelik op jou te fokus, sê Heske. Wys na die ander maatjie en vra saggies en belangstellend: “Liewe land, kyk hoe huil die maatjie. Lyk hy bly of kwaai? Hoe lyk sy gesiggie vir jou?” Die idee is om ’n emosie te verwoord. Jou kleinding kan dalk hulp daarmee nodig hê. Wanneer julle hartseer as die emosie geïdentifiseer het, is dit tyd vir stap 2.

Stap 2

Begelei jou kind na die besef dat haar aksies gevolge het: “Hoekom dink jy voel hy so hartseer? Wat het gebeur?”

Stap 3

Help jou kind om haar in die maatjie se skoene te plaas deur te vra: “Hoe dink jy sou jy gevoel het as hy jou geslaan het? Dis nie lekker as ’n maatjie jou slaan nie, nè? Ek wil nie hê iemand moet jou slaan nie. Dis nie mooi nie, nè?”

Stap 4

“Dink jy daar is iets wat ons vir die maatjie kan doen of sê om dit beter te maak?” Die idee is dat jou kind self by die “jammer” uitkom. As dit nie gebeur nie, kan jy ’n voorstel maak deur byvoorbeeld te se: “Partykeer help dit as ons jammer sê?” Kyk wat jou kleinding dan doen.

Gaan nog ’n stappie verder en sê: “Wat kan ons vir die maatjie doen om dit beter te maak? Dink jy ons kan ’n salfie aan die eina smeer?” Dit maak nie saak watter oplossing julle bedink nie, maar dis belangrik dat jou kind dit doen, of dit nou ’n drukkie is of ’n salfie aansmeer. Jou kind moet die handeling opvolg en die daad by die jammer-woord voeg. Hoe meer konsekwent ouers optree in hul benadering tot sulke gevalle, hoe gouer behoort hul kind die gedrag saam met die “jammer” aan te leer. “Daar is baie waarde in die sêding dat ’n verskoning net so eerlik is as die stappe wat gedoen word om die fout reg te stel,” sê Heske.

Peuters
Peutertjies kry baie liefde van hul ouers en omdat hul ouers hulle “einas” beter maak, het hulle ’n natuurlike geneigdheid om ander se seer te wil beter maak, verduidelik die sielkundige Hettie Redelinghuys. “Dis hoe hulle leer. Hulle het dus al ’n gevoel van empatie.” Peuters besef egter dikwels nog nie die gevolge van hul gedrag nie. Hulle sal dus ’n kind seermaak of ’n speelding gryp sonder om te besef dat dit die maatjie ontstel. Hettie beveel aan dat ouers net die feite met hul peuter deel: “Siestog, jou maatjie het seergekry. Kom ons gee hom ’n drukkie.” Vat dan jou kind se hand en stap saam na die maatjie en gee die maatjie ’n drukkie. Jou peuter sal dalk net daar staan, maar dit maak nie saak nie, solank sy ingesluit is. Gee agterna vir die ‘oortreder’ ook ’n drukkie.