Kinders kan jou huis in ’n oogwink omdolwe en dan kos dit ure om die gemors op te ruim. Jy het drie keuses: Jy kan die huis in ’n chaos los en maak asof dit nie bestaan nie, jy kan self opruim – of jy kan jou kind leer dat ’n mens moet skoonmaak waar jy gemors het.

Navorsing wys dat volwassenes wat op drie en vier jaar oud huishoudelike takies verrig het, groter sukses in die lewe bereik as dié wat nie takies verrig het nie. Hulle het ’n groter kans om hul studie te voltooi, ’n goeie loopbaan te volg, gesonde volwasse verhoudings te ontwikkel en dwelmmisbruik te vermy.

As kinders egter nie kleintyd reeds takies verrig het nie en hul ouers hulle eers as tieners sover probeer kry het om dit te doen, het dit ’n teenreaksie tot gevolg met ’n ondermynende invloed op hulle sukses as volwassenes. Deur jou kind die verantwoordelikheid van takies te gee, dra jy die boodskap hard en duidelik oor: “My ma glo ek kan dit doen!” Hierdie vertroue beteken ongelooflik baie vir jou kind se selfbeeld.

Maak jou kind van kleins af opruimvaardig
  1. Jou kind moet weet daar is ’n plek vir alles en wanneer hy klaar met iets is, moet hy dit terugsit waar hy dit gekry het. As jou kind dit leer, sal jy vir lank orde in die huis hê!
  2. Kies takies wat ouderdomsgepas is. ’n Te moeilike taak sal jou kind moed laat verloor. Takies moet uitdagings bied, maar nie oorweldigend moeilik wees nie. Laat hy met selfversorgingstakies begin.
  3. Leer jou kind hoe. Jy hoef nie meer twee keer te dink oor hoe om jou bed op te maak nie, maar vir jou kleinding is dit ’n leerkurwe. Verduidelik stap vir stap hoe ’n mens dit doen. Jou kleinding sal dit waarskynlik ’n paar keer saam met jou moet doen voor hy dit self regkry.
  4. Verdeel groot take in kleiner, meer hanteerbare dele. Om vir jou kind te sê om ’n chaotiese speelkamer op te ruim, sal hom moed laat verloor. Maar as jy hom aansê om net die blokkies op te tel, sal hy dit kan doen. Daarna kan hy al die karretjies optel.
  5. As jou kind sy klere of speelgoed rondgooi, hou iets terug tot hy dit opgeruim het. Byvoorbeeld: As hy lus is vir storietyd en jy sien sy klere lê nog op die vloer, lig hom in dat jy met liefde vir hom ’n storie sal lees sodra sy klere weggepak is.
  6. Wanneer jou kind televisie kyk of buite speel en jy sien iets is nie weggepak nie, roep hom dat hy dit wegpak. Dis dalk makliker om dit self te doen, maar dit gaan jou kind niks leer nie. Dit sal hom irriteer as hy sy pret moet onderbreek om iets te doen wat al gedaan moes gewees het, maar later sal hy leer om dinge die eerste keer reg te doen sonder dat hy gevra word.
  7. Maak skoonmaak deel van jou kind se lewe. Laat hy leer om sy bed op te maak, sy vuil klere in die wasgoedmandjie te gooi en sy kosblik kombuis toe te vat. Betrek hom by klein ouderdomsgepaste takies in en om die huis en voor jy jou kom kry, is dit ’n tweede natuur.
  8. Moenie jou peuter se eindresultaat kritiseer of sy foute voor hom regstel nie.
  9. Prys jou kind as hy goeie werk verrig het.
  10. Wees geduldig en bemoedigend. Jou kind sal dalk meer mors as skoonmaak, maar dis belangrik dat hy oefen en probeer.
  11. Verlaag jou standaarde en prys die poging en sy gewilligheid eerder as die eindresultaat.
  12. Moenie takies geslagspesifiek maak nie. Daar is niks verkeerd met seuns wat skottelgoed was of meisies wat die motor was nie.
  13. Takies in die huis moet deel van jul gesinslewe wees en nie ’n straf vir jou kind nie.
  14. Onthou, jou kind is nie jou slaaf nie; moet dus nie takies op hom afskuif net omdat jy nie lus daarvoor het nie.
  15. Bly in die omgewing sodat jy kan monitor hoe hy vaar en hom kan help waar nodig. Hoe kleiner jou kind, hoe meer sal jy moet help.
  16. Sê altyd dankie as jou kind ’n takie verrig het en prys hom as hy dit goed gedoen het.

Takies vir kleuters

Jou kinders kan van twee jaar af met takies begin help, maar onthou dat kinders se vaardighede verskil. Wat vir een kind maklik is, is dalk vir ’n ander moeiliker. Wissel takies af sodat hy nuwe vaardighede ontwikkel.

Selfsorgtakies

  • Bed opmaak
  • Klere regsit vir die volgende dag
  • Tande borsel
  • Goed bêre wat hy uitgehaal het
  • Kamer opruim en speelgoed optel
  • Vuil klere in die wasgoedmandjie gooi
  • Handdoek in die badkamer bêre
  • Bordjie ná ete in die wasbak sit

Gedeelde takies

Dis altyd lekkerder as ma dit saam doen en kan heerlike bindingstyd wees. Julle kan ...

  • saam huis skoonmaak,
  • saam wasgoed was, ophang, opvou en wegpak (hy kan help sorteer, die sokkies en sakdoeke ophang en agterna weer help om die sokkies op te vou en die klere te sorteer),
  • saam in die tuin werk,
  • saam kruideniersware bêre,
  • saam kos maak (hy kan die bestanddele ingooi of help roer),
  • saam tafel dek of afdek,
  • saam die skottelgoedwasser uitpak, en
  • saam die inkopies dra.

Werkies help

Dit maak slim

  • Tafel dek leer jou kind tel. Wasgoed sorteer leer hom kleurherkenning, en speelgoed opruim leer hom sorteer.

Dit leer goeie waardes

  • Jou kind leer dat huishoudelike take deel is van ’n normale gesinslewe en die nodigheid van werk word deel van sy interne waardestelsel.

Dit leer jou kind empatie

  • Hy kan verstaan dat jy moeg is nadat jy heeldag in die huis gewerk het.
  • Hy leer selfversorging.
  • Hy leer take beplan en aanpak.
  • Hy leer samewerking.
  • Hy leer verantwoordelikheid aanvaar vir sy dade soos om sy speelgoed op te ruim nadat hy daarmee gespeel het.
  • Hy leer selfrespek.
  • Hy voel soos ’n belangrike lid van die gesin wat ook ’n bydrae kan lewer, al is hy klein.
  • Hy ontwikkel vaardighede en kennis wat hy lewenslank kan benut.

Dit maak jou lewe makliker

  • Wanneer elke kind sy kant bring, laat dit meer tyd vir julle toe om saam deur te bring.
Buig die boompie terwyl hy jonk is

Carien Louw (27), ma van Carmen (2), Horizon View, Johannesburg 

Baie ma’s maak die fout om te dink hul kinders is te klein om in die huis te help. Maar as jy die kleingoed dophou, kom jy gou agter hulle is natuurlike helpertjies.

Omdat Carmen so gretig is om meer te leer oor die wêreld om haar, is daar vir haar niks lekkerder as om my te help nie.

My ma het 14 kleinkinders en was ’n dagmoeder, en sy het my geleer dat takies een van die maklikste maniere is om jou kind tuis te stimuleer en met nuwe vaardighede toe te rus. Die bonus is dat daar in die proses ook ’n gesonde verhouding tussen ma en kind opgebou word.

Glo my, dis nooit te vroeg om jou kinders te leer opruim nie. As Carmen vrugtesap op die vloer gemors het, gaan haal sy self die mop in die badkamer en begin skoonmaak. Sy weet ook al dat as sy klaar gespeel het, sy eers die speelding moet wegpak voor sy ’n ander een neem.

Daar is ook niks mee verkeerd om haar af en toe by die huistakies te betrek nie, al kos dit jou ook twee keer langer om die taak af te handel. So leer jou kind dat sy verantwoordelikheid moet aanvaar.

Wenk 1: Sê iets soos “Is jy klaar gespeel met jou Lego-blokkies? Wil jy vir mamma help om dit in die boks te pak voor jy Barney kyk? Mooi so! Mamma sal die boks wegpak op die rak waar ons dit gekry het.”

Wenk 2: As jy wil hê jou kinders moet hul eie goed opruim, is dit belangrik dat jy die gereedskap vir opruiming binne hul reikafstand los. Maak dit pret deur bokse in verskillende kleure vir spesifieke speelgoed en voorwerpe neer te sit.

Wenk 3: Maak opruiming ’n speletjie en kyk wie sy boks eerste vol kan maak. Voor jy jou kom kry, ruim jou kind op en sal hy jou betig as jy die verkeerde boks gebruik.

Oor en oor en oor

Retha Baard (37), ma van twee seuns, Kraaifontein, Kaapstad 

Met twee seuns (3 en 7 jaar oud) kan dinge nogal omgekrap raak. Wat soos ’n bom werk, is om die outjies se ego gereeld te streel en hulle te prys al is hul opruimwerk nie eintlik op standaard nie.

Dit help ook as jy hulle gedurig aanmoedig en vertel watter knap werk hulle doen. Kinders is vergeetagtig en om hulle in ’n opruimgewoonte te kry, moet jy hulle daagliks daaraan herinner.

As ons ’n kamer verlaat, vra ek hulle om eers te kyk of enigiets rondlê. Ons los nie dinge vir later nie, want anders is die dag verby, die kinders pootuit en arme ma moet die aand ure lank opruim.

Ruim eerder kort rukkies gedurende die dag op as om dinge tot later te laat wag.

Wenk 1: Sê: “Kom ons maak gou seker die sitkamer is opgeruim voor mamma middagete maak. Sien jy enigiets op die mat? Aha, jou motortjies. Nou waar moet hulle weggepak word?”

Wenk 2: Kinders hou nie van alle takies nie, maar hou van presteer. Koop goue sterretjies wat mooi blink en elke keer as hulle goeie werk gedoen het, kry hulle sterretjies op die kop of in hul sterretjieboek of -kaart. Hulle kan dan vir ouma en oupa die boek wys wanneer dié kom kuier. Motiveer jou kind deur hom die takie te laat verrig met die belofte van plesier agterna: “As jy gou jou klere van die grond af optel, kan ons daarna inkleur.”

Wenk 3: Wees spesifiek wanneer jy jou kind vra om op te ruim. Sê eerder hy moet die blokkies wegpak as net dat hy die kamer aan die kant moet maak.