Babas en kleuters slaap gewoonlik vir langer rukke as volwassenes. Pasgeborenes slaap 14 tot 16 uur per dag. Dit neem mettertyd af en wanneer hulle vyf of ses maande oud is, slaap babas gewoonlik 10 uur per nag en bedags een tot twee uur.

Vir volwassenes word ’n slaaptyd van agt tot 8,4 uur as herstellend beskou, hoewel party mense met vyf uur kan klaarkom en ander weer 10 uur nodig het.

Dis ons brein wat slaap-en-wakker-patrone beheer. Senu-oordragstowwe werk in op senuselle in verskillende dele van ons brein. Die senuselle in die breinstam laat ons byvoorbeeld slaap deur wakkerbly- senuselle te onderdruk.

Daar is twee hoof-slaapfases: REM-slaap en nie-REM-slaap. REM staan vir rapid eye movement en REM-slaap word gekenmerk deur vinnige, rukkerige oogbewegings, verlies van spiertonus, vlakker asemhaling en helder, duidelike drome.

Nie-REM-slaap word op sy beurt in verskillende stadiums verdeel. In stadium een is jy lomerig, in stadium twee slaap jy lig en in stadiums drie en vier slaap jy diep. Dis wanneer jou baba diep en reëlmatig asemhaal.

Die stadiums volg logies op mekaar vanaf stadium een tot REM-slaap. In die eerste helfte van die nag bring jy meer tyd in stadiums drie en vier deur en in die tweede helfte is daar meer REM-slaap.

Pasgeborenes en babas tot ongeveer vier maande oud geniet aanvanklik baie meer REM-slaap as diep slaap, maar die normale siklus word teen sowat ses tot agt maande gevestig.

Volgens die Stellenbosse slaapkenner Erica Neser duur ’n baba se slaapsiklus sowat 50 minute. Daarna kan sy vinnig wakker word en dan weer aan die slaap raak – of sy kan heeltemal wakker word. Volwassenes se slaapsiklus duur sowat 90 minute. Hulle word ook wakker, maar raak gewoonlik onmiddellik weer aan die slaap.

Kenners reken sowel babas as volwassenes beweeg omtrent vyf keer per nag deur hierdie slaapsiklus. En die rede waarom ’n nuwe baba jou so kan uitput, is omdat die tye wanneer sy natuurlik uit haar slaapsiklus wakker word, nie met joune ooreenstem nie. Maar hoe help dié inligting jou?

Jy kan nie jou baba se slaapsiklus verander nie, maar deur te verstaan hoe dit werk, kan jy probeer om daarmee saam te werk eerder as daarteen. ’n Goeie roetine van kleins af, ook deur die dag, is baie belangrik om die brein te leer om in die regte slaap-wakker-siklus te kom. Net soos met volwassenes hou jou baba se slaap-wakker-siklus verband met haar daaglikse ritme van voeding, hormoonvrystelling en liggaamstemperatuur. Dit sal ook help as jy jou baba die kans gee om self aan die slaap te raak wanneer sy wakker word eerder as om dadelik in te gryp.

’n Rustige slaaptyd-roetine kan sowel nagvrese as nagmerries help keer.

WAT IS 'N NAGVREES?

As jou kind ’n nagvrees-episode beleef, sal hy regop sit en skree of intens huil. Sy oë kan oop wees, wat dit laat lyk asof hy wakker is, maar in werklikheid is hy steeds vas aan die slaap. Hy kan dalk ook wild op sy bed slaan, en gewoonlik sal hy nie praat nie. Dit sal ook lyk of hy wakker, maar deurmekaar en gedisoriënteerd is, en hy sal nie bewus wees van jou teenwoordigheid of die feit dat jy hom probeer troos en paai nie.

Tydens ’n nagvreesepisode is dit gewoonlik baie moeilik om hom heeltemal wakker te kry en daar kan ook tekens van verhoogde hartklop, vinnige asemhaling en oormatige sweet wees. Elke episode duur gewoonlik ’n minuut of twee maar kan tot 10 minute lank aanhou. Dit kan dan tot 30 minute duur voor hy weer genoeg ontspan en aan die slaap raak.

Anders as met nagmerries onthou kinders glad nie dat hulle in ’n nagvreesepisode gedroom het nie, al word hulle dadelik daarna wakker. Die volgende oggend onthou hulle gewoonlik ook niks van die voorval nie. In uitsonderlike gevalle onthou hulle ’n vae gevoel van vrees wat met sekere beelde te doen het, soos spinnekoppe, slange, diere of mense wat hulle in die kamer gesien het.

Hoewel nagvrese skadeloos is, is dit vir ouers ontstellend omdat ons magteloos voel omdat ons ons kind nie kan wakker kry nie en omdat ons kind werklik ontroosbaar is. Seuns en meisies ly ewe veel aan nagvrese. Die goeie nuus is dat dit op die laaste teen die tienerjare verdwyn.

Hoekom kry my kind nagvrese?

Navorsing het gewys dat nagvrese weens verhoogde breinaktiwiteit ontstaan. ’n Chemiese proses loop skeef en veroorsaak ’n nagvreesepisode.

Daar is ’n rits moontlike oorsake van dié chemiese blaps: hoë koors, emosionele stres, oormoegheid, allerhande ongewone aktiwiteite voor slaaptyd en ’n later slaaptyd as gewoonlik.

Hoe hanteer ek nagvrese? Die belangrikste is om ’n konstante slaaptydroetine te handhaaf wat insluit dat jou kind elke aand teen omtrent dieselfde tyd gaan slaap.

Staan ’n uur voor slaaptyd aan hom af as jy enigsins kan. Laat hy ’n lekker warm bad geniet, speel rustige musiek en lees ’n gunsteling-slaaptydstorie. Omdat hitte ook die chemiese blaps in sy brein kan veroorsaak, is dit ’n goeie idee om pajamas lig te hou en selfs die venster op ’n skrefie oop te hou.

Maak seker die kombers of duvet is nie te warm nie en is ook nie onder die matras ingesteek nie. Beproef gerus ook die kruie wat ons weet vir slaap help, soos laventel op die kussing of ’n koppie kamilletee.

Onthou net dat al die raad hierbo nie kitsoplossings gaan bied nie, maar deel uitmaak van ’n langtermynplan.

Moet jou kind nooit in die middel van ’n nagvrees probeer wakker maak nie; praat liewer sag en gerusstellend met hom terwyl dit voortduur. ’n Gunsteling-trosie soos ’n bekende speelding of kombersie kan hom ook tot bedaring bring as jy daarmee sy aandag kan aflei. As dit lyk of jou kind vasgehou wil word, hou hom vas, maar moenie sommer net aanvaar dat hy vasgehou wil word omdat hy skree nie.

Die belangrikste is om seker te maak dat hy kalm is en hom dan terug in die bed te kry. Verwyder alles in die omgewing wat hom dalk kan seermaak terwyl hy so ’n episode beleef.

Probeer om nie die volgende dag oor die episode te praat nie omdat hy dit in elk geval nie sal onthou nie. Moet hom nie vra wat hy gedroom of wat gebeur het nie. Dit kan hom bang maak omdat hy nie kan onthou nie.

Moet ook nie met buitestanders daaroor praat waar jou kind by is nie; dit kan hom skaam maak of skuldig laat voel omdat sy nagvrese jou wakker hou en radeloos laat voel. Die beste voorkomende maatreël bly om te verseker dat jou kind genoeg slaap inkry.

WAT IS 'N NAGMERRIE DAN?

Nagmerries is vreesaanjaende en onplesierige drome en vind plaas in die droomslaapfase (REM-slaap), wat gewoonlik begin omtrent 90 minute nadat ’n mens aan die slaap geraak het. Ná ’n nagmerrie sal jou kind gewoonlik heeltemal wakker word en die nagmerrie helder onthou asof dit ’n fliek was wat voor haar afgespeel het.

’n Nagmerrie veroorsaak angs en stres omdat dit dikwels dreigemente oor haar lewe, veiligheid of selfbeeld insluit. Kinders kry nagmerries veral tussen drie en ses jaar oud wanneer hul verbeelding ooraktief is.

Hoe hanteer ek nagmerries? Werk voorkomend deur die tyd voor slaaptyd rustig en kalm te maak. Bad rustig en lees saam stories. Vermy blootstelling aan geweld op televisie.

As jy sien dat jou baba ’n nagmerrie het, gesels met haar in ’n gerusstellende stem, selfs al slaap sy. As jou ouer kind ’n nagmerrie het, kan jy haar help deur haar te troos en te vra om ’n gelukkige einde vir die droom te visualiseer. Stel jou kind gerus dat die nagmerrie nie werklik is nie en haar dus nie kan seermaak nie.

Jy kan jou kind ook vra om haar nagmerrie te teken; dit help haar om haar vrese te konfronteer. As jou kind dikwels nagmerries kry (meer as twee per week) kan jy gerus hulp soek.