Daar is geen tyd wanneer van Murphy se wet so duidelik geïllustreer word nie as soggens wanneer jy, met ’n baba, peuter of kleuter op tou, desperaat probeer om jou huis vroeg genoeg te verlaat om soortvan betyds by die werk uit te kom. Wat verkeerd kán loop, sál verkeerd loop:

'N verlore skoen, baba wat op jou skoon baadjie oorkook, sleutels wat verlê word of Jannie wat ’n keel posit omdat jóú klerekeuse nie sý klerekeuse is nie. En die chaos van so ’n oggend gee ongelukkig dikwels die pas aan vir die oggend res van die dag: As julle almal vervaard, oorstuurs en vies vir mekaar by die huis uitstap, is dit moeilik om vars en vrolik by die werk in die stap.

As oggend-chaos ’n deel van jul leefstyl is, is dit tyd vir verandering. ’n Rustiger oggendroetine is soos die fondament van die dag: As dit reg is, sal die res van die dag ook makliker verloop. Dit sal sorg dat julle almal die hele dag deur meer gekoester voel, gereed om uitdagings met geesdrif aan te pak. Maar hoe kry jy dit reg?

STRATEGIE A:

KRITIESE ONTLEDING

Wat veroorsaak dat julle elke oggend laat of gejaag is? Kyk krities na jul bestaande oggend roetine. Soms is dit eintlik net ’n paar klein dingetjies of gewoontes wat die hele proses terughou en kan julle dit met enkele aanpassings regstel. As julle byvoorbeeld gereeld soggens laat is omdat julle sleutels of skoene soek, is die oplossing dalk so eenvoudig as om sleutelhakies en skoenrakkies by die voordeur op te sit. 

STRATEGIE B:

DOEN DIT DIE VORIGE AAND

’n Lysie oënskynlike klein takies kan maklik ’n hele handvol word en omdat tyd in die oggende reeds beperk is, kan dit gou veroorsaak dat die hele gesin gejaag voel, skryf Jamie Novak, Amerikaanse organisasiekenner en skrywer van 1000 Best Quick and Easy Time-Saving Strategies. Een van die eerste strategieë om te oorweeg is dus om te kyk wat in jul bestaande oggendroetine julle kan uitskakel deur dit reeds die vorige aand te doen. ’n Aftiklysie wat die hele gesin kan gebruik om seker te maak alles word die vorige aand reeds gedoen, kan verder help.

  • Maak seker al die kinders is gebad en skoon.
  • Kyk wat die weer die volgende dag is en sit die hele gesin se klere by voorbaat reg – joune inkluis. Jy kan vir jou kind ’n “mannetjie” pak met sy klere van skoene tot trui sodat jy seker maak alles is daar en dat hy soggens net van’n kant af kan aantrek. Sit klere uit wat hy sonder jou hulp kan aantrek, soos broeke met rekbande. Hy kan die aand al saam met jou besluit wat hy die volgende dag wil aantrek.
  • Sit die ontbytgoed reg – jy kan die tafel dek terwyl jy aandete se skottelgoed afdek. As jy ’n kafeïeninspuiting nodig het om jou soggens aan die gang te kry, maak die ketel vol of laai die koffiemasjien klaar.
  • Maak die skottelgoedwasser leeg sodat jy die volgende oggend se skottelgoed dadelik daarin kan wegpak.
  • Pak jou kinders se kosblikke klaar en sit dit in die yskas reg. ’n Goeie tyd om dit te doen is terwyl jy in elk geval besig is om aandete te berei.
  • Gaan deur jou kind se rugsakkie om seker te maak daar is nie belangrike briefies of kennisgewings in nie en pak enige geldjies in wat vereis word.

STRATEGIE C:

BETYDS IN DIE BED

Om ’n ontspanne oggendroetine te verseker is dit uiters belangrik dat julle die vorige aand betyds in die bed kom, anders gaan almal met die verkeerde voet uit die bed opstaan. Al kry julle genoeg slaap, kyk of julle jul slaaptyd met ’n kwartier of halfuur kan vervroeg en so ook dan jul opstaantyd. ’n ekstra 15 minute in die oggend wanneer jy eers ’n bietjie met jou kind in die bed kan speel voor jul dag werklik begin, verrig wondere om julle almal rustig, ontspanne en gereed vir die nuwe dag te laat voel.

STRATEGIE D:

STAAN VOOR DIE KINDERS OP

Skep vir jouself tyd om sonder onderbreking te stort, aan te trek en jou eerste koppie koffie te geniet deur sowat 15 minute voor hulle op te staan. Hierdie bietjie gehaltetyd maak dit makliker om jou sielkundig op die komende dag se uitdagings voor te berei en die dag met ’n positiewe ingesteldheid te benader. Sommige ouers laai selfs hul pakkasies klaar in die motor voor hulle die kleinspan wakker maak!

STRATEGIE E:

’N VASTE ROETINE

Roetine is voorspelbaar en help kinders veilig en gekoester voel. Hou elke oggend by dieselfde roetine – dan werk die kinders saam met jou en nie teen jou nie, sê Natalie Clair du Toit, ’n ma van Somerset-Oos. Hou jul oggendroetine eenvoudig en moenie vergeet om liefdesrituele (soos spesiale drukkies of ’n vinnige kieliesessie) deel daarvan te maak nie.

’n Visuele roetine-wyser wat jul oggendroetine met prentjies uitstippel, kan help om jou kinders gefokus te hou. So kan hulle sien hulle moet eers toilet toe gaan, dan gesig was, dan aantrek en so aan. Wys vir jou kind hoe dit werk en gesels daaroor terwyl julle die program volg tot hy dit onafhanklik kan doen. Nadat elke aktiwiteit voltooi is, kan hulle die wyser aanbeweeg dit sal hulle bemagtig laat voel en help onthou wat hulle volgende moet doen.

STRATEGIE F:

BLY KALM, MAAR FERM

Pak elke oggend met ’n positiewe ingesteldheid aan – ’n goeie bui is aansteeklik. Selfs al voel jy die paniek opbou, is dit baie belangrik om kalm te bly en nie op jou kinders te begin gil om gou te maak nie. Haal ’n paar keer diep asem en herinner jou aan die spreekwoord ”hoe meer haas, hoe minder spoed”, want dis veral waar vir klein kindertjies.

As jy jou kinders angstig aanjaag, kan jy maar weet jou kleuter gaan summier stadiger werk of selfs vloerstuipe kry. Sak liewer af tot op jou kind se vlak en sê jy het haar hulp nodig en hoe sy jou kan help. Moenie vergeet om jou kleinding te prys as sy lekker saamwerk nie!

STRATEGIE G:

’N BIETJIE PRET

Elke oomblik saam met jou kleinding is kosbaar en bou jul verhouding. Dink wat jy kan doen om jul oggendroetine doeltreffend, maar ook prettig te maak. ’n Liedjie terwyl julle aantrek, ’n snaakse manier van kombuis toe loop, pret met die aantrekkery soos ’n sokkie oor haar oor kan alles help om die atmosfeer lig en vrolik te hou en kleinding se samewerking te verseker. Eenvoudige speletjies soos om te kyk wie die vinnigste kan aantrek kan sleurtake in iets lekkers verander. Onthou, humor is ’n kragtige wapen in elke ouer se arsenaal!